‘Dien deur te doen’ 

Dirk Rabie en ‘n paar helpers het die graswalle by sy laerskool skoon gemaak en terselfdertyd sommer ‘n waardevolle lewensles geleer. (Foto: Laerskool Louis Leipoldt/Facebook)

Dirk Rabie is een van die voorbeelde van hoe ʼn laerskool in Centurion, suid van Pretoria, daad by woord voeg en hul jaartema van “ons dien deur te doen” prakties uitleef.

Dié gr. 5-leerder aan Laerskool Louis Leipoldt in Lyttelton Manor en ʼn paar helpers het dié week gou ingespring om duwweltjies te verwyder op ʼn sypaadjie by die skool. Hulle het dit ook sommer terselfdertyd breër gemaak. Nou is daar meer plek vir kaalvoetkinders om te loop en motors om te stil te hou.

Covid-19-regulasies bepaal dat ouers nie veilige gebiede binne skoolterreine mag betree nie. Dit beteken ook verskillende grade moet nou soggens en smiddae by verskillende hekke by dié skool in- en uitgaan, wat ʼn hele klomp nuwe uitdagings teweeggebring het.

In Parkstraat parkeer die motors tans op die sypaadjie waar die leerders eintlik veronderstel is om te loop, en die kinders moet op die graswalle langs die sypaadjie loop. Ná die onlangse reën en lang vakansie is dié graswalle behoorlik oortrek van die duwweltjies wat glad nie so plesierig is vir kaalvoetkinders nie.

Dirk en sy ma, Betsy, het die probleem raakgesien en dit bespreek. Sy het dit sommer ook as ʼn gulde geleentheid gebruik om aan hom te verduidelik dat ʼn mens nog baie dorings op jou lewenspad gaan teëkom. “Jy het egter altyd die keuse om net ongelukkig daaroor te bly en toe te laat dat die dorings jou steek, óf om self ʼn hark en graaf te gryp en iets daaromtrent te doen.”

Die span aanskou hulle handewerk. Nou kan kaalvoetkinders weer heerlik hier loop. (Foto: Laerskool Louis Leipoldt/Facebook)

Betsy meen dit was ʼn goeie les: “ʼn Mens sal verbaas wees oor hoeveel krag jy eintlik beskik in hierdie onsekere tye as jy self die besluit neem om ontslae te raak van die klein duwweltjies en dorinkies onder jou voete en sommer ʼn pad in die plek daarvan maak.”

Sy hoop dit inspireer ander kinders om hul eie innerlike krag te ontsluit om iets vir hul gemeenskap te doen. Sy benadruk ook jong manne moet ʼn geleentheid gegun word om iets te doen wat hulle ʼn gevoel van trots en selfrespek gee.

“Ek dink ons almal sukkel in hierdie stadium om ʼn geestelike spasie te kry waar ons net kan wees. Dit is maar almal se behoefte, jy weet. Deur iets vir jou gemeenskap te doen, kan jy ook die kans kry om sommer beter oor jouself te voel.”

Betsy meen daar is ʼn held in elkeen vir ons, ons moet net die geleentheid benut om dit te laat ontwaak.

Die laerskool het in ʼn Facebook-inskrywing gesê hulle is trots op Dirk en hom bedank vir sy mooi gebaar. Carlo Kotzé, ʼn skoolleier, het die skool se tema verder verduidelik in ʼn video. Hy het gesê diens is die gom wat dié skool se waardes van lojaliteit, eerlikheid, integriteit, pligsgetrouheid en empatie in geloof bymekaar hou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Anti-Verkramp ·

Kon die “probleem” opgelos het as die kinders net skoene gedra het. Hoekom dra die kinders nie skoene nie? Genade, ek kan nie glo dat kinders nou nog kaalvoet skool toe gaan nie. Ek was in die 70’s in die laerskool en kan nie onthou dat ons ooit kaalvoet skool toe gegaan het nie.

Jack Russ1 ·

Ons moes net skoene aantrek in die winter, somer was kaalvoet gewees. Eers van die hoërskool af moes ons skoene winter en somer dra. Ek het selfs op die plaas permanent kaalvoet geloop

B-Man ·

Jinne, anti, jy is erg verkramp. Ek wens ek kon my hele skoolloopbaan kaalvoet deurgaan!

koos10 ·

Jy mis duidelik die doel van die storie, en daarvoor kry ek jou jammer, en ook die feit dat jy nooit kaalvoet skool toe gegaan het nie. Ek was 1980 in graad 1 in ‘n stad skool en ons almal het kaalvoet geloop. Seuns en Dogters, en nooit het ons skoene weg geraak nie. Ons het kaalvoet rugby en krieket gespeel en menige tone verstuit, maar al tien is vandag nog aan my voete.

Alet ·

Dit was vir my seun ‘n vreeslike hartseer dag toe hy in Gr 8 as leier verkies is. Toe moes hy skoene dra. In die winter het hy altyd skoene gedra maar somer altyd kaalvoet skool toe gegaan. Na Gr 8 was hy bly sy jaar van leier wees is verby en ongelukkig moes ek hom meedeel hy is nou in die hoërskool so hy moet maar skoene dra. Hy is nou 16 en Gr 11 hierdie jaar. Loop nog steeds kaalvoet as ons Spar toe gaan. Het probeer maar besef ek stry ‘n verlore stryd. Laaste twee maande dra hy darem flip flops as ons mall toe gaan. Gewoonlik was hy kaalvoet in die mall ook. Los die kinders as hulle kaalvoet wil loop. Hulle word reeds so vroeg ryp gedruk.

Pieter ·

Daar is deur navorsing bewys dat kaalvoet loop voordelig is vir kinders. Laat kinders kind bly solank as wat hulle kan, daar kom ‘n stadium wanneer hulle MOET skoene dra.

Baie geluk, Dirk! Jy is ‘n voorslag deur so ‘n voorbeeld vir almal te stel. Trots op jou!

PATRICIA ·

Ek was ook in die 70’s in die laerskool en dit was so lekker om kaalvoet skool toe te gaan, lekker om kind te kon wees.

Phillip ·

My Suen het kaal voet skool toe gegaan met kort broek van oggend toe ek iut die erf ry sien ek n dogetr met kaal voete lyk so lekker nou is dit skoene !!!! en nou is my suen in metriek die jaar met skoene vir altyd .

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.