Diensdiere versterk Wes‑Kaapse lang arm van die gereg

‘n Metropolisiehond. (Foto: Verskaf)

Die Wes-Kaapse metropolisie het vanjaar ʼn groot mylpaal bereik toe hulle hul tiende jaar gevier het sedert die berede- en honde-eenheid op die been gebring is.

Tydens hierdie tien jaar het die eenhede gehelp met sowat 2 000 inhegtenisnemings, 25 000 boetes en om meer as 30 000 eenhede dwelms op te spoor.

“Dit is ʼn belangrike mylpaal vir die departement en dien as ’n herinnering aan die vele inisiatiewe wat ons onderneem het om ons misdaadvoorkomingspogings te versterk en om ons reaksie op die vele en uiteenlopende eise in hierdie stad te versterk,” sê JP Smith, die stad se raadslid vir veiligheid en sekuriteit.

Superintendent Joan Felix, die eenheidshoof vir diensdiere, sê dié eenheid is op die been gebring tydens die Sokker‑Wêreldbeker in 2010. “Ons het destyds net 11 honde in ons eenheid gehad.”

Vandag spog die eenheid met 25 honde wat opgelei is om dwelmmiddels, plofstof, koper en metaal op te spoor, terwyl die eenheid ook werk om vermiste persone op te spoor.

Die eenheid het tans ook sewe perde in sy stal. Die eerste groep perde wat in 2010 in diens geneem is, het verlede jaar afgetree.

“Die berede-eenheid is altyd teenwoordig by groot geleenthede, waar dit help om misdaad te bekamp. Die perde gee die beamptes ʼn unieke geleentheid om enige kriminele aktiwiteit vinnig raak te sien. Die perde is ook veral nuttig op terreine wat nie vir voertuie geskik is nie, soos informele nedersettings en bergpatrollies,” sê Felix.

Die berede eenheid. (Foto: Verskaf)

Nog mylpale waarmee die eenheid kan spog, is dat daar tydens die verskillende inhegtenisnemings ook op 76 vuurwapens, 1 146 rondtes ammunisie en sowat R523 000 in kontant beslag gelê is. Tydens die tien jaar is 13 069 verdagte voertuie, persele en persone deur die eenheid ondersoek.

“Dit is maar net een been van ons suksesverhaal. Om hierdie beamptes saam met hul vierpotige kollegas sigbaar in gemeenskappe en openbare terreine te hê dra by tot ʼn daling in misdaad, omdat kriminele dan nie so maklik toeslaan nie,” sê Smith.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Liz ·

Wonder hoe lank dit gàan wees voor die SPCA moet ingryp omdat hulle nie na die honde kan kyk nie?

stem ·

mooi gedoen kaapse metropool, stel ‘n voorbeeld, hoop dit kan in gauteng toegepas word

stem ·

dankie mm, dat my kommentare verwyder word, gelukkig het ek nog nie my naam by die lys van kennismaking met julle gedeel nie

barend v d westhuizen ·

ek bly in die city van kaapstad en al graag wil weet waar werk hulle wand ek sien geen metro in die noordelike gebied nie sien wel nou en dan n voertuig maar dit is ook al ons moet ons vrek betaal aan alles n die kaap

Marius ·

Hoekom lyk almal so oorgewig doen hulle nie meer opskerpings kursusse of fiksheid?

Willie ·

Hulle moet Huskies kry om daai duk metro lede rond te trek…

Slegte nuus ·

Dit is nooit lekker om te lees nie. Dit is nie die diere se verantwoordelikheid om misdadigers aan te keer nie. Dit is ‘n absolute wreedheid teenoord die honde en perde.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.