Diere besoek siek seuntjie wat veearts wil word in hospitaal

Sally het toegelaat dat Thapelo haar soen, aan haar maanhare vat en haar vryf (Foto: Annelize Keever)

Die 14-jarige Thapelo Matebesi van Senekal in die Vrystaat se veeartsdroom is Woensdag bewaarheid toe ’n ponie en twee honde by hom in die hospitaal kom kuier het.

Thapelo is minder as twee maande terug met akute limfoblastiese leukemie gediagnoseer en word nie toegelaat om die hospitaal te verlaat nie.

Die Reach for a Dream-stigting, wat die afgelope 30 jaar help om kinders wat lewensbedreigende siektes het se drome waar te maak, sê dit is Thapelo se grootste droom om ʼn veearts te word.

“Sy toestand het egter die laaste twee weke verswak en waar hy twee maande terug nog kon loop en sokker speel saam sy maats, is hy nou vasgevang in sy bed. Hy kan nie meer sy onderlyf beweeg nie en kan slegs sy arms, kop en gesig beweeg,” het Yolanda Maartens Brown, Reach for a Dream se Bloemfontein-takbestuurder, aan Maroela Media gesê.

Omdat Thapelo leukemie het moet sy bloedtelling gemonitor word en moes Reach for a Dream saam met die dokters werk om te sorg dat sy droom op die regte tyd plaasvind.

“’n Droomdag moet ’n kind deur die moeilikste tyd van hul behandeling dra en hulle herinner om te veg, want môre skyn die son weer,” het Maartens Brown gesê.

“Omdat Thapelo nie uit die hospitaal mag gaan nie, moes ons reël om alles in die hospitaal by hom te laat gebeur. Ons moes ’n veearts reël, en ook ’n ambulansbed sodat hy tot laag op die grond kon sak om aan die verskillende diere te vat. Natuurlik was die belangrikste deel van sy droomdag om die diere te reël,” het sy gesê.

Sally het toegelaat dat Thapelo haar soen, aan haar maanhare vat en haar vryf (Foto: Annelize Keever)

Annemarie du Plessis van Tristone Stables in Bloemfontein het haar ponie, Sally, beskikbaar gestel om Thapelo se droom te laat waar word. ʼn Klein Yorkie, Sammie, en ʼn terapie-Labrador, Jesse het ook tyd saam met Thapelo gaan deurbring. Reach for a Dream het gereël dat ʼn regte veearts bystaan sodat Thapelo vir Sammie sy inentings kan gee.

“Thapelo het nie geweet wanneer sy droomdag sou gebeur nie. Toe ons daar instap, was hy stomgeslaan. Alhoewel honde sy gunstelingdiere is, het hy nooit in sy wildste drome gedink ons sal ‘n ponie daar hê nie!” het Maartens Brown gesê.

Thapelo is na sy dokter se privaat praktyk verskuif, omdat dit makliker was om die diere só by hom te kry as op die sesde verdieping van die hospitaal, waar hy voorheen was.

“Thapelo het eers met die veearts gesels en sy het vir hom verduidelik hoe hulle die klein Yorkie gaan inent. Hy was so opgewonde om dit te kon doen. Met die hulp van ʼn assistent het sy Thapelo se hand vasgehou sodat hy die veearts kon bystaan.

“Daarna was dit Sally, die ponie, se beurt vir die kollig. Toe sy om die hoek van die spreekkamer kom, kon Thapelo sy oë nie glo nie. ’n Perd hier, spesiaal vir hom! Hy het die breedste glimlag op sy gesig gehad en ons kon sien hy wou haar net streel. Omdat hy op die ambulansbed was, was dit moontlik vir hom om aan haar te vat. Hy het haar maanhare gestreel, vir haar ’n wortel gevoer en kon nie ophou om aan haar te vat nie. Hy het die liewe Sally selfs gesoen,” het Maartens Brown gesê.

Dié besoek was Sally se eerste keer dat sy op teëls moes loop, die eerste keer dat sy in ’n hysbak moes ry en ook die eerste keer dat sy só diep in ’n gebou in moes ingaan. En tog was Sally doodgelukkig.

Volgens Maartens Brown was Sally baie vriendelik met Thapelo en het sy geweet sy doen iets spesiaals vir hom.

“Sally het beslis aangevoel dat sy vandag besig was met iets besonders, iets groters as wat sy nog ooit gedoen het. Sy het stil gestaan langs sy bed en selfs haar kop laat sak sodat hy aan haar kuif kon vat. Hulle het dadelik ’n spesiale band gevorm,“ het sy gesê.

“Die veearts het toe vir hom verduidelik hoe ’n mens na ’n perd sou omsien en waarna ’n veearts alles sou kyk as sy ’n perd ondersoek. Sy het die hoewe vir hom gelig sodat hy só ook kon sien hoe haar pote lyk. Dit was vir hom heerlik en hy kon nie ophou glimlag nie. Sally het ons werklik verras met haar sagte geaardheid en mooi aanslag teenoor Thapelo.”

Maartens Brown het gesê dit was ʼn voorreg om Thapelo so gelukkig te sien.

“Sy ma het trane van blydskap gestort en het gesê dit maak haar hart bly om haar kind so te sien lag. En dit is die doel van elke droom by Reach For A Dream, want vir daardie oomblik vergeet die kind van dokters, toetse en pyn; vir daardie oomblik glo hulle in hulle droom en leef hulle in die oomblik.”

“Thapelo die ‘veearts’ is ’n dapper vegter en ons glo sy droomdag gaan hom aanspoor om sy siekte te veg en hoop bring dat môre beter sal wees,” het sy gesê.

Vir meer inligting oor die Reach For A Dream-stigting besoek gerus www.reachforadream.org.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Bernadette ·

Wat ‘n heerlike “feel good” storie! Baie dankie vir almal betrokke! Sterkte aan Thapelo en sy geliefdes.

Penellope Jones ·

Sjoe, die trane loop erg hier!
Baie voorspoed aan Thapelo en sy ouers en dankie aan die wat dit bewerkstellig dat die twee honde en ponie kon gaan kuier!
Ek is seker dit het baie vir Thapelo beteken!

Se maar net ·

Hierdie is so n belangrike en nuuswaardige insident dat dit op al die nuus kanale en koerant voorblaaie moet wees. Dit moet ook die hoof punt op die vlg parlement sitting se agenda wees. Dis al hoe ons suid afrikaners verdraagsaamheid en liefde sal aanleer as sulke insidente hoofnuus word. Dieselfde met die beampte wat vir die petrol joggie gehelp het. Ek is seker daar gebeur daagliks sulke goed landswyd selfs op plase, besighede, skole oral. Maak dit hoofnuus en breinspoel die suid afrikaanse bevolking terug na normale God geskape wesens wat net wil goed doen en liefde gee vir hulle naaste.

Sandra ·

Ek het sommer gehuil van blydskap dat Thapelo se droom so bewaarheid word. Diere kan aanvoel as iemand siek of in pyn is. Dankie aan almal wat dit gereel het. Thapelo ek hoop jy word gou gesond. Wanneer jy eendag ‘n veearts is sal ek my honde na jou toe bring.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.