Diere gekiek vir liefdadigheid

Cat Schramm. (Foto: verskaf)

Nimmer as te nooit het Cat Schramm, ’n Pretoriase fotograaf, gedink dat vier jaar se liefdadigheidsfotografie tot die insameling van tonne kos, speelgoed, komberse en troeteldierlekkernye sou lei nie.

Shoot for food, ’n liefdadigheidsprojek ten bate van troeteldiere, sal vanjaar vir ’n vyfde keer geskied. Dié jaar word die projek ten bate van die Thaba Tshwane-beskermingseenheid gedoen.

“Dit is ’n groot jaar vir ons,” het Cat, ’n professionele fotograaf wie se onderneming deur die loop van die projek stil gaan staan, aan Maroela Media gesê.

“Ons het hierdie jaar besluit dat ons graag ’n eenheid wil ondersteun wat nie net diere help met die normale soos kos, skuiling en mediese prosedures soos sterilisasies nie, maar een wat ook die gemeenskap bemagtig met kennis oor waarom dié prosedures nodig is en hoe om behoorlik na jou diere om te sien.”

’n Kombers, ’n 8 kg-sak honde- of katkos, ’n speelding of twee en lekkernye is al wat Cat vra vir ’n een uur lange troeteldierfotosessie. Wagter sal sy lyf vir die dag model hou terwyl sy eienaars ’n digitale fotopakket na afloop van die fotosessie sal ontvang.

In 2018 het Cat se man, Lotie, so siek geword dat hy byna by die dood omgedraai het.

“Ons was in ’n penarie,” erken Cat.

“Daar het ’n vreemdeling, ’n engel, ’n sak kos, komberse, speelgoed en lekkernye vir ons honde kom aflaai. Ek ken tot vandag toe nie die persoon se naam nie.”

Dié barmhartige daad was egter die begin van Cat se liefdadigheidsprojek, Shoot for food. Dié benodigdhede soos wat voor haar hek afgelaai is, is al wat sy in haar versorgingspakkie in ruil vir ’n fotosessie vereis.

Sy moedig mense aan om nie net hondekos en -benodigdhede te bring nie, maar ook om te dink aan wat katte dalk nodig sal hê.

“Ons het elke jaar oorgenoeg vir die honde, maar sukkel dikwels met benodigdhede soos katsand.”

“Ons wil graag verseker dat Thaba Tshwane genoeg kos, lekkernye, speelgoed en veral komberse deur die loop van die winter het.” Hul doelwit is om onder meer twee ton kos, komberse en speelgoed in te samel.

Die projek sal vir ses weke aan die gang wees en skop op Woensdag 1 Maart af. Enige diere is welkom, hoewel Cat geskerts het dat sy nie glo dat perde in die ateljee sal pas nie.

Rotte, papegaaie, hase, spinnekoppe én luislange is al deur Cat gekiek. Sy wil ook graag Pitbull-eienaars aanmoedig om hul diere vir ’n fotosessie te bring.

“Vorige jare het ons ongelooflik baie Pitbulls gekry om af te neem, dis amper asof mense huiwerig is om hul Pitbulls hierdie jaar te bring,” vertel sy.

“Ons verwelkom graag enige honderasse. Daar word ’n uur speling tussen elke fotosessie gegee, daar is dus ook glad nie ’n kans dat een sessie en ’n volgende sal oorvleuel nie.”

Alhoewel die projek elke jaar ure se administratiewe takies vereis, is Cat nie een jaar spyt oor hierdie perd wat sy opsaal nie.

“Ek het nie enige klagtes oor ’n eienaar, sessie of troeteldier nie. Ek geniet dit elke liewe jaar.”

CarniRaw, Pawsitively Pet Sitting & Training, Chane & Co., Backdrop Passion, CameraStuff, Shr3d, O’Little Winks en die GSD Group vorm deel van vanjaar se Shoot for food-borgelys. Chanelle Helen Photography verskaf ’n foto-ateljee in Pretoria waar elke fotosessie deur die loop van Shoot for food sal plaasvind.

Kontak Cat Schramm vir ’n fotosessie deur ’n WhatsApp na 061 740 9975 te stuur.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.