Dierepote trap promenade by Seepunt plat

Paws on the Promenade. (Foto: Natali Varney-Schutte)

Die Mdzananda-dierekliniek in Khayalitsha in die Wes-Kaap het Sondag sy vyfde jaarlikse Paws on the Promenade-pretstap by die Seepunt-promenade aangebied in samewerking met Vondi’s Holistic Pet Nutrition.

Ten spyte van die sterk wind en talle kansellasies ter voorkoming van die korona (Covid-19)-virus, het 333 mense en 220 diere die geleentheid bygewoon.

Die 5 km-roete het begin by die Mouillepunt-vuurtoring en gestrek tot by die swembad in Seepunt en terug.

“Die bywoningsyfer was veel hoër as wat ek verwag het,” sê Marcelle du Plessis, geldinsameling- en kommunikasiebestuurder van die Mdzananda-dierekliniek en organiseerder van die geleentheid.

“Voor die geleentheid was ek baie bekommerd aangesien ons kaartjieverkope met 50% afgeneem het in vergelyking met verkope in 2019. Ek het verwag dat die getalle laer sou wees as gevolg van die koronavirus, maar ek het nie verwag dat dit soveel laer sou wees nie. My vrese was egter vergete toe diere en hul eienaars die oggend van die geleentheid na die promenade gestroom het om by ons aan te sluit,” sê Du Plessis.

Die geleentheid is met ʼn begroting van R2 620 en finansiële ondersteuning deur Vondi’s Holistic Pet Nutrition van stapel gestuur. Sowat R37 000 is tydens die geleentheid ingesamel.

Die Mdzananda-dierekliniek sorg maandeliks vir sowat 700 siek en beseerde troeteldiere uit Khayalitsha. Die kliniek se hooffokus is gemeenskapsonderrig en bemagtiging terwyl laekoste mediese sorg verskaf word.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.