Diereskuiling hou binnekort geldinsameling

Honde by die Harrismith Diereskuiling. (Foto: Verskaf)

Die tekort aan ʼn welsynsorganisasie wat na troeteldiere omsien in Harrismith het ʼn pensioentrekker genoop om haar eie organisasie te stig, maar dié soort onderneming kom nie sonder sy eie uitdagings nie. Die grootste daarvan: geld.

Daarom het die gemeenskap van Harrismith saamgespan om vir die Harrismith Diereskuiling, wat deur die 66-jarige Helene Haworth bestuur word, ʼn geldinsameling te hou op 30 November.

Shelley Howard, die organiseerder van die pretdag en geldinsameling, vertel aan Maroela Media dat die skuiling grootliks afhanklik is van die goedhartigheid van die gemeenskap en sakeondernemings in die omgewing wat skenkings gee om sy koste te dek. “Ons nooi al die gesinne in Harrismith uit om dié geleentheid te kom bywoon, selfs besoekers aan die dorp.

“Die Harrismith Diereskuiling gaan gereelde geldinsamelings moet hou om volhoubaar te wees, om die daaglikse voedingsvereistes te dek, die werkers se salarisse te betaal en veeartsrekeninge te dek,” sê sy.

“Die skuiling se heining is ook besig om uitmekaar te val en moet vervang word,” sê Mandy Pollock, administratiewe bestuurder by die skuiling en Haworth se dogter.

“Die heining is tans ons grootste fokus, en om die skuiling net weer op te knap. Ons kry geen hulp van die munisipaliteit af nie. Ons het vyf jaar terug die skuiling oorgeneem by ʼn ander organisasie. Dit was eers die plaaslike Dierebeskermingsvereniging (DBV) wat egter sy deure gesluit het.”

Sy vertel verder dat die skuiling baie daaglikse vereistes het en dat baie mense al kop uitgetrek het, omdat dit “eenvoudig net te veel werk is”.

Op ʼn daaglikse grondslag moet die diere twee keer gevoer word, die beddegoed gewas word, die honde in spesifieke kampe geplaas word – “en jy kan nie net enige hond saam sit nie”. Dan moet die honde gebad en vir vlooie behandel word, inentings kry, ontwurm en reggemaak word.

“Ons rekening by die plaaslike veearts beloop sowat R7 000 per maand, soms meer. In hierdie opsig is ons dankbaar vir enige hulp wat ons ontvang,” sê Pollock.

Die pretdag gaan bestaan uit ʼn pretloop saam met jou troeteldier, asook ʼn markdag. Daar gaan ook ʼn kompetisie vir diere-eienaars wees, met pryse wat uitgedeel gaan word vir die beste klein en groot hond, asook die beste basterbrak.

“Daar gaan talle prettige aktiwiteite soos perderitte, ʼn springkasteel, gesigverf, ʼn klein troetelplaas en speletjies wees,” sê Howard.

Helene Haworth. (Foto: Verskaf)

Oor Haworth kan Howard net lofprysing gee. “Helene is ʼn sterk, veerkragtige vrou wat alles sal insit en selfs haar eie lewe in gevaar sal stel om weggooidiere en mishandelde diere te red. Sy is altyd daar om te help, selfs oor naweke.”

Haworth het, ná aftrede, na Waterfall in KwaZulu-Natal verhuis waar sy by ʼn skool vir gestremde kinders gewerk het. Daar het sy die skool se kwekery bestuur, waar sy blinde en fisiek gestremde kinders geleer het om blomme en groente te plant. Die oeste is weer verkoop om ʼn opbrengs vir die skool in te bring.

Sy en haar man het egter, ná verskeie inbrake, na haar dogter in Harrismith verhuis. Dit is hier waar hulle deur die gemeenskap genader is om dit wat oor was van die organisasie ná die DBV destyds die skuiling oorgeneem het, te red. “Die diere het in haglike toestande gebly en het self baie sleg gelyk. Dit is net hier waar ons besluit het om in te gryp. Ek voer al die praktiese take by die skuiling uit terwyl my dogter die finansies bestuur. Ons werk van 08:00 tot 18:00 elke dag.”

Haworth sê sy het egter een swakpunt. “Ek is te lief vir diere en nóg ek nóg my dogter kan dit oor ons hart kry om diere van kant te laat maak. My grootste prestasie sedert ons die skuiling begin het, is dat ons nog nie een dier van kant gemaak het net omdat ons nie binne ʼn sekere tydperk vir die dier ʼn huis kon kry nie. Ons is dankbaar dat ons altyd huise vir die diere kon vind, of om hulle te versorg tot hulle ʼn huisie kon kry,” sê sy.

Die skuiling het tans sowat 20 honde in sy sorg, en “ontelbaar baie katte”.

“Ek glo elke dier word vir ons gegee deur die Here. Hulle het ʼn reg op daardie lewe en dit is nie ons plek om te besluit of hulle moet leef of van kant gemaak moet word nie. Ek het nog baie murg in my bene en ek is nog lank nie reg om af te tree nie. As die Here dit so wil hê, sal ek nog vir jare na ons dierevriende omsien.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

5 Kommentare

jongste oudste gewildste
Annakapat

Waar kan mens ‘n finansiële bydrae maak?

Annakapat

Waar kan mens ‘n finasiële bydrae maak?

Annakapat

Waar kan mens ‘n finansiële bydrae maak?