Dieretuin skud vere reg vir feesseisoen

pelsrob-01

Pretoria se Nasionale Dieretuin spog met meer as 7 000 diere. Foto: Verskaf.

Gautengers wat vanjaar met Jan Tuisbly se karretjie ry kan gerus oorweeg om ʼn draai by die Pretoria Nasionale Dieretuin te maak.

Die dieretuin spog met meer as 7 000 diere en besoekers kan plaaslike én eksotiese koudbloedige gediertes in die dieretuin se reptielpark dophou of ʼn besoek by Afrika se grootste binnelandse akwarium vir seelewe in dié dieretuin aflê.

Meer as 600 000 mense besoek jaarliks die dieretuin en dit bly gewis een van die gewildste gesinsuitstappies in die hoofstad.

Dit is ook nou baie makliker om kaartjies vir ʼn besoek aan die dieretuin te bekom. “Mense kan kaartjies aanlyn op die dieretuin se webwerf by www.nzg.ac.za of op ons Facebook-blad bespreek,” sê Craig Allenby, woordvoerder van die dieretuin. “Kaartjies kan ook by Computicket en Shoprite winkels gekoop word.”

Volgens Allenby is die personeel én die diere van die Nasionale Dieretuin in Pretoria slaggereed om besoekers tydens die feesgety te verwelkom. “Ons het ʼn feesprogram vir oud en jonk en gaan talle pryse in hierdie tyd weggee. Breek gerus weg van die stad se gewoel en kom ontspan by ons.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.