Digters, skrywers vir pennevrug beloon

Argieffoto (Foto: Grianghraf/Unsplash)

Ink Skryf in Afrikaans, ʼn onafhanklike platform wat skryfwerk in Afrikaans bevorder, het onlangs die wenners van sy jaarlikse dig-en-skryfkompetisie tydens ʼn prestige-geleentheid bekendgemaak.

Dit was ook die bekendstelling van Inkspraak 2, ʼn bloemlesing waarin vanjaar se beste gedigte en kortverhale opgeneem is.

Andries Fourie het met die louere in die poësiekategorie weggestap en hy is boonop ook as die digter van die jaar aangewys. Fourie het met sy gedig “Koekoekbeleid” in die topposisie in die goue afdeling van dié kategorie geëindig. Kort op sy hakke is Caren Kearley met “Flentervrou” en Anzé Bezuidenhout met “Steenson” wat ook goud gewen het.

Elmarie Nienaber van Kampen het silwer gewen vir haar gedig “Die reuk van mis” en Francois Meyer (Gedagtes)* het brons ontvang vir “Koekoekbeleid”.

In die verhaalkuns-afdeling het Amanda De Meillon die eerste plek behaal met “Pesag oorwinning”. Marlene Erasmus het die rubriekprys gewen vir haar stuk “Dit is mos nog die mooiste maand: Oktober?” en Ano* is as die wenner in die artikelkategorie aangewys met “Om te eier of nie te eier nie”.

Francois Meyer (Gedagtes)* en Zebulon Kochk het tweede en derde in die digter van jaar-kategorie geëindig. Riaan Palmer is die skrywer van die jaar, gevolg deur De Meillon en Ano.

“Ink hou elke jaar ʼn prestige-gala-aand waar lede en kompetisiewenners op meriete erkenning vir hul werk ontvang,” sê Anzé Bezuidenhout, stigter van Ink Skryf in Afrikaans.

Wendy Leigh, wat die geleentheid bygewoon het, meen dit was wonderlike viering van Afrikaans en skryfwerk.

“Daar het gaste van heinde en ver opgedaag om in die trots van hul taal te deel. Dit was ʼn heerlike samekoms om welverdiende erkenning vir al hulle harde werk te kry.”

Leigh sê dit is veral die jeug se bydraes wat beïndruk het. “Om die jong aspirantskrywers daar te sien floreer, was geweldig spesiaal. Dit gee ʼn mens hoop vir die bevordering en behoud van Afrikaans en dat daar ʼn wonderlike nalatenskap vir toekomstige geslagte is.”

Volgens Bezuidenhout is die hoofdoel van hierdie kompetisie juis om poësie en kortverhaalkuns van gehalte in Afrikaans te bevorder.

“Ek het die platform ʼn paar jaar gelede begin omdat my liefde vir Afrikaans so geweldig groot is. My ervaring was ook dat daar bitter min geleenthede en inisiatiewe vir Afrikaanse dig- en skryfwerk op die internet is.”

Die kompetisie is deur ʼn onafhanklike paneel beoordeel wat uit Karen Zoid, Jackie Nagtegaal, Anton Bosch, Ronel Marè Dunn, Nico Schamrel, Bets Koen en dr. Douwlina du Plessis, bestaan.

Die toekenningsgeleentheid het op 13 November in die Royal Elephant Hotel in Centurion plaasgevind. Heino du Plessis was die seremoniemeester en Lunardi en Natalie het die gaste met musiekuitvoerings vermaak.

*Skrywersname

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.