‘Dink aan Ma Lina’

Ma Lina en Kyla Mills

Ma Lina en Kyla Mills op Mills se troudag. (Foto: Facebook)

ʼn Vurige debat op ʼn Facebook-blad oor huishulpe en minimumloon het Kyla Mills van Johannesburg só diep getref dat sy doodeenvoudig ʼn inskrywing daaroor móés maak wat nou soos ʼn veldbrand op sosiale media versprei.

Dié inskrywing, waarin Mills skryf oor al die opofferinge wat haar gesin se destydse huishulp vir hulle gemaak het, is reeds amper 11 700 keer op Facebook gedeel en meer as 26 000 mense het daarop reageer.

Mills vertel in haar inskrywing hoe Ma Lina, soos sy na haar verwys, 28 jaar lank haar lewe aan hulle gesin gewy het. Lina het afgetree toe Mills 26 jaar oud was.

“Ek het nie gehou van die trant van die gesprek op die blad nie. Dit is ʼn gemeenskapsblad vir mense van ʼn gegoede deel in Johannesburg. Daar was een vrou wat vertel het hoe woedend sy was omdat haar tuinwerker van haar verwag het om hom van middagete te voorsien en selfs geweier het om die R30 wat hy toe daarvoor gevra het, vir hom te gee,” het Mills aan Maroela Media gesê.

“Mense het gesels oor hoe huishulpe slegs die minimumloon verdien en hoe dit al is wat hulle bereid is om te betaal. Ek het na daardie mense se aanlyn profiele gaan kyk en gesien dat hulle in ontwerpersklere met duur vakansies gaan en in weelderige huise woon. Dit het my hart gebreek,” het Mills gesê.

Dit het haar aan Ma Lina laat dink wat na haar en haar boetie omgesien het totdat hulle die huis verlaat het. “Sy het haar eie lewe en haar eie kinders se tyd saam met hulle eie ma prysgegee om na ons gesin om te sien.”

Mills, ʼn onderwyseres by ʼn niewinsgewende skool vir jong leiers, vertel sy glo dat mense hulle huishulpe en tuinwerkers met waardigheid moet hanteer. “ʼn Mens kan iemand nie minder betaal as wat hulle verdien nie. Hierdie mense offer baie tyd op om in ander mense se huise deur te bring.”

Sy sê sy en haar man is nie ryk nie, maar hulle besef die waarde van Ma Joyce, wat nou vir hulle werk.

Mills ly aan ʼn harttoestand wat haar dwing om binnekort op te hou werk. Haar man, Seth, is van die Verenigde Koninkryk en betaal nog sy studieskuld af.

“Ons kyk ook na Ma Lina se susterskind, Dipuo, se seun, Itu. Dipuo is ʼn paar jaar gelede oorlede. Itu is nou 18 jaar oud. Itu moet universiteit toe gaan en ons moet ʼn plan beraam om sy wiskundige geletterdheid te verbeter. Ons is doodgewone mense, maar ons wens ons kon meer doen.”

Sy benadruk egter dat hulle geen lof verdien nie. “Ons is nie engele nie. Ons maak net persoonlike opofferinge om na die mense om te sien soos ons kan. Ons voel sterk daaroor om die mense wat rondom ons werk, selfs die mense wat in die omgewing werk soos bouers of kontrakteurs, met waardigheid te hanteer.”

Mills vertel trots dat Ma Lina haar troue vroeër vanjaar bygewoon het. “Natuurlik was sy daar! Sy is dan my ma!”

Só lui Mills se inskrywing op Facebook:

“Hierdie vrou is een van my ma’s. Ek dink vanaand aan haar nadat ek kommentare gelees het op een van my Facebook-groepe oor regverdige lone.

“Ma Lina het geweet ek is ʼn dogtertjie nog voor my ouers geweet het. Sy het geweet, want sy was toe reeds lief vir my. Sy het haar hart weggegee aan my boetie en geduldig gewag vir haar volgende kind van ʼn ander vrou.

“Ma Lina het by ons gebly. Haar seun, Lucas, en haar susterskind wat sy grootgemaak het, Dipuo, het in ʼn informele nedersetting gebly. Terwyl ek grootgeword het, het ek selde gedink aan wie hulle gebad en gevoer het terwyl Ma besig was om dit, en meer, vir ons te doen.

“Toe Ma huis toe is vir Desember toe ek twee was, het ek geweier om te eet of klere aan te trek. Mense wat nie my ‘ma’ was nie, het probeer om die dinge te doen wat my ‘ma’ gedoen het.

“Ek was sewe toe Nelson Mandela aan bewind gekom het. My biologiese ouers en wit onderwysers het ander verduidelikings gehad oor wat dit beteken het as wat Ma gehad het. Natuurlik het hulle. Ek onthou toe Ma vir my haar dompas gewys en die woord vir my vertaal het. Vir my was sy allesbehalwe dom. My hele lewe het sy die antwoorde vir alles gehad, selfs wanneer my ouers nie gehad nie.

“Toe Ma Lina vir goed huis toe is, toe ek 26 was, het ek vir haar gaan kuier. Ek het gesien hoe sy en haar susters leef. Ek het toe régtig aan Lucas en Dipuo gedink. Toe Dipuo oorlede is sowat ʼn jaar later, het ek haar seun informeel aangeneem. Hoe betaal jy iemand terug wat 90% van haar kinderlewe afgestaan het met die wete dat haar ma weg van haar af was, besig om jou groot te maak? (My seun, Itu, is nou 18 jaar oud en word elke dag meer van ʼn man ondanks die feit dat hy ʼn afwesige pa het.)

“Toe ek my eie huishulp aangestel het, het ek siek gevoel. Al die kos wat ons nie gebruik het nie en moes weggooi nadat dit verval het, die luukshede en al die hulpbronne waartoe ons toegang gehad het, het skielik ʼn bron van skande geword.

“Ons betaal ons huishulp R350 vir vyf uur se werk op ʼn Saterdag. Seth maak vir ons ontbyt en ons almal eet saam soos ʼn gesin. Ons koop vir haar die middagete van haar keuse in die pad af terwyl sy in ons stort was en toiletware gebruik wat sy wil. Ons is nie engele nie. Ons is net mense wat ʼn mens hanteer soos ʼn mens. Wanneer Ma Joyce gereed is, neem een van ons haar na die taxi wat haar na Diepsloot neem.

“Diepsloot, waar sy vir jare gewag het vir ʼn HOP-huis. Diepsloot, waar sy haar eie seuns grootmaak sowel as haar susterskinders nadat haar suster oorlede is. Diepsloot, waar elektrisiteit en lopende water luukshede is. Diepsloot, waar die desperaatheid en gebrek aan geleentheid lei tot geweld. Die laaste woorde wat ek elke Saterdag vir Ma Joyce sê, is: ‘Wees veilig.’

“Wit mense sê altyd vir my ek is mal as hulle vra hoeveel hulle die ‘hulp’ moet betaal. ‘Minimumloon is soos R20!’ sê hulle. ‘Sy gebruik júlle stort?’ Absoluut. As sy die een is wat dit skoon maak, behoort sy beslis daarvan gebruik te kan maak. ‘My werkgewer koop nie vir mý middagete nie.’ Want jy kan dit bekostig, vriend.

“Ek verstaan dat daar baie mense is wat dit nie kan bekostig om soveel te betaal soos wat ons doen nie. Ek weet ook daar is miljoene wat kan. En ons kan almal bekostig om ons werknemers met waardigheid, vriendelikheid en respek te hanteer. Dit moet hartverskeurend wees om by ʼn voorstedelike huis aan te kom en op jou knieë te gaan sodat jy kos op die tafel kan sit. Dit moet selfs nog meer hartverskeurend wees om te hoor: ‘Daar is soveel mense wat bereid sal wees om te werk vir minder, jy weet.’ Terwyl jy weet jou lone dek skaars jou uitgawes, indien enigsins. Bowenal, hoe hartverskeurend moet dit nie wees om elke aand ʼn ander persoon se kinders nag te soen wanneer jou eie kinders sonder jou bed toe gaan nie?

“Ma Lina is baie goed deur ons hanteer sover ek kan sien. Maar ek is seker dit was moeilik. Sy het nooit gehuiwer vir ons nie. Ons nie een keer geslaan nie. Nooit haar stem verhef nie. Sy het ons altyd stywer vasgehou wanneer sy ons gedruk het as wat Ma en Pa het, net soos in die foto.

“Asseblief, voor jy jou vestig op ʼn waarde vir lone, dink versigtig oor die Lindt-sjokolade in die kas terwyl jy pap koop vir die mense wat jou lewe beter maak. Dink aan die oorhoofse koste van jou huishouding en hoe dit mag wees om ʼn gesin te ondersteun met die geld wat jy gee. Dink aan die lewe van die mense waarin u werknemers ʼn belang het, van babas tot grootouers. Dink aan jou gemanikuurde grasperke en pragtige huise, en wat ʼn uitgeputte wrak jy sou wees as dit alles aan jou oorgelaat was.

“Dink aan Ma Lina. Ek doen dit altyd.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

31 Kommentare

madels ·

Oee, ek stem 100% met jou saam! Ek het n huishulp wat al 21 jaar vir ons werk. Sy het haar man 9 jaar terug verloor. Sy is DEEL VAN ONS GESIN en ons is verskriklik lief vir haar. Sy is vir my so n pragtige voorbeeld van n ware Christen. Ek loof die Here dat sy in my lewe is.

NEEWAT ·

Ongelukkig is nie almal dit werd nie, persoonlik is myne nie eers die minimumloon werd nie, so of jy nou slegvoel daaroor of nie, en of jy dink joune is R350 werd, MYNE nie, so dan sal ek haar ongelukkig moet laat gaan. Julle maak dit MOEILIK vir ander werkgewers want skielik dink almal hulle is R350 per dag werd. Ek kan dit nie bekostig nie, so regtig ek dink jou skrywe is BAIE EENSYDIG en verteenwoordig beslis nie alle werkgewers nie. DAAR is blankes wat werk op plase aangebied word vir R70 per dag en as hulle moan word daar gese, julle se jule het nie werk nie, R70 is beter as niks. MENS KANNIE aan die lewenskoste heeltyd dink nie, want dan moet ek my hele salaris aan my huiswerker betaal .. TIPIES van ‘n 28 jarige . daar mag duisende mense jou ondersteun EK IS NIE EEN VAN HULLE NIE~! Gelukkig het ‘n huiswerker my NIE grootgemaak nie en ook nie my kinders grootgemaak nie SO EK SKULD HULLE NIKS NIE!

Gert ·

Stem saam n huishulp het my ook nie groot gemaak , skuld niemand iets.Is net soos die plaas werkers daar het so baie werk verloor asgevolg van minumlone.Ek werk ook baie hard vir daai Lind sjokolade nes my huishulp haar ook bederf met iets so moenie met skuldgevoelens kom speel.

Estelle Behr ·

Ons het toevallig ook ‘n Ma Lina gehad . Lina Wantoe Serero. Sy het ons ook grootgemaak en baie dinge geleer in ons ouers se afwesigheid. Ek het net verlede week op ‘n foto van haar afgekom. Goeie ou herhinneringe.

Jannie ·

Ek sal op my beurt sê behandel jou huiswerker met respek maar dis nie nodig om haar deel te maak van die familie nie.
Ek werk 12 uur skofte, my werkgewer gee nie vir my kos nie, ek het nie ń etenstyd nie, eet maar so tussen die werk deur.
Wat die minumum loon betref voel ek dis elke mens se keuse vir wat hy bereid is om te werk, as ek te min betaal gaan kry ander werk of gaan sit by die huis.

Peter ·

Daai Lindt chocolate, het ek hard voor gewerk, my “luxuries” is moontlik agv my werk, nie handouts nie. Hoeveel kinders het dié ma van jou? Hoeveel betaal sy permaand aan elektrisiteit, water, huur, tax? mmm. so gedink. Ek betaal reeds, ek gee kos en vervoer. Ek gaan nie skuldig voel oor ek anders eet omdat ek hard werk daarvoor en nie my geld blaas nie.

Eet jou duur chocolates! ·

Dis reg Peter! Eet jou chocolates! Gaan op jou duur vakansies! Ek stem 100% saam met jou! Ek werk so hard om te kan geniet wat ek bemekaar gemaak het!

Kandas ·

Ja nee kyk….. my man werk al 40 jaar vir een maatskappy en wanneer hy met pensioen gaan, kan hy saam die bestuurder gaan tee drink. Wippy-ka-jay!!! Ons behandel ons hulp met respek dis hulle keuse of hulle vir die voorgestelde salaris wil werk. Ek sien hulle in die oggende van die busse en taxi’s afklim met net n handsak, maar o wee, in die middae het hulle nie genoeg hande om te dra nie. My werker is net n hulp ek doen baie myself en is nie afhanklik van huisdiens of tuinwerker nie, glad nie bang om ons handjies vuil te maak nie juffrou, en ek is n ou tannie. Ek neem aan jou werker werk net Saterdae en moet dan seker die hele week se wasgoed en huis skoonmaak dan betaal jy haar te min jy kan haar dan maklik R550 betaal vir n week se werk!! Net my beskeie mening.

Louis ·

Behandel ander soos wat jy graag behandel wil word. Hierdie is ‘n boodskap vir almal van ons. Dit is die manier waarop ONS hierdie land kan verander. Dankie Kyla.

50 jaar ·

Ons huishulp is vanjaar 50 jaar al met ons gesin. Sy wil niks weet van aftree nie. Dit maak my bloed kook om te dink daar is steeds mense wat dink hierdie sout van die aarde mense is benede hulle. Sy is en sal altyd EEN VAN ONS wees. Ek skaam my vir sommige mense, regtig.

Bil ·

Ek deel jou sentiment. Beter kon jy dit nie opsom. Goeie dade word altyd beloon.

VanAfrika ·

Na ons n insident gehad het met een wat na my jongste sustertjie gekyk het toe sy nog baie klein was, die huishulp het my sustertjie saam haar na een van hulle kroeë toe gevat gedurende werkstyd en lekker gedrink met my sustertjie in hul dronk teenwoordigheid, n goeie vriendin van my ma het na skool altyd n draai by die huis kom maak om seker te maak ons is veilig by die huis en dat dinge reg is en toe van sy die vrou met my sustertjie nie by die huis kry nie en haar begin soek toe kry sy haar in die kroeg, van daar af het my ma geweier dat een van hulle ooit weer na ons kyk, buiten my ma, het ek en my susters mekaar toe maar groot gemaak. Buiten dit het ek al huishulpe in my huis wat vir my vertel wat hulle wil doen en teen watter betaling. Offer jy n ordentlike loon dan moet jy hoor die taxi gaan vir hulle weg ry al is dit 14h00 in die middag of hulle het n verjaardag partytjie en moet twaalfuur loop, ongeag dat dat die strykwerk nog lê,. As jy op n Saterdag werk moet jy jou gewone agt ure werk. ek moes toe ek in retail gewerk, sy kan ook. Die meerderheid het vir my gewys jy kan hulle nie vertrou nie en nou maak ek my eie plek skoon en hulle is n werk missing

Rolene ·

Sy praat van mense wat wel meer kan bekostig. As jy nie ‘n lewensvatbare loon kan bekostig nie dan is die minimum loon aanvaarbaar. Om iemand met deurnis en waardigheid te behandel kos egter niks. If you choose to be something… choose to be kind.

christa ·

Neewat ek stem volkome saam met jou. As jy net moet werk om iemand anders te versorg, bly ek by die huis en doen my eie werk. As jy in ag moet neem dat die huishulp, kleuterskole, klere vir werk en vervoerkoste so hoog is, kan jy net gaan werk as jy naskool gestudeer het. As jy net matriek het kan jy regtig nie ‘n huishulp bekostig nie. Ek bly graag tuis en doen my eie werk en ek spaar meer as wanneer ek sou uitwerk. Die Bybel stel dit so mooi deur te se die man is die broodwinner en die vrou sy hulp. Nou wil vrouens werk en die mans moet ook saans kom huis skoonmaak.

Yolandi ·

Ja Christa sit maar by die huis en veroordeel ons vroue wat werk! maar ongelukkig is nie almal van ons in jou skoene nie. In vandag se tyd het dit onmoontlik geword om by die huis te bly en te verwag jou man moet al een wees wat werk.

ek so wat wou gee om in jou skoene te wees. so hou op oordeel en sê elke aand dankie aan die liewe Vader dat jy so geseend is om dit te kan doen

En so terloops ek en my man werk heeldag, ons het 2 klein dood gelukkig kinders en GEEN huis hulp nie en steeds kry ons tyd om huis skoon te maak te kook en aandag aan ons kinders te gee… Dit kan gedoen word….

Rerig? ·

Christa, los liefs die Bybel hier uit. Dit waarna jy verwys is boonop uit konteks. Ek wil baie graag noem, net soos die van ons werk, elke dag of nag, geleerd of nie. Ons huishulp ag dit as haar werk, en sy is trots op wat sy doen en hoe sy dit doen. Moenie JOU seëninge vergeet nie. My huishulp staan met n lied in haar hart elke oggend op en kom doen haar werk met daaiselfde lied. Ek gaan nie dit van haar af wegneem omdat ek ander sodanig “iets” wil bewys nie. Sies!

Ilse ·

Christa ek lees jou kommentaar en is stomgeslaan dat in vandag se tyd daar nog mense is wat soos jy redeneer. Wat van enkelma’s wat nie ñ keuse het as om te werk nie? Wat van huishoudings waar die man se salaris nie alleen al die uitgawes kan dek nie. Moet nie oordeel voor jy nie in iemand anders se skoene geloop het nie….

Los my duur chocolates uit ·

Om n huis hulp aan te stel is n keuse, en solank jy betaal wat jy moet dan sien ek niks daarmee verkeerd nie. Die dag wanneer jy n beroep kies dan kies jy ook als wat saam met dit gaan. Jy kies om n huis hulp te wees. 90% indien nie meer van hulle ontvang n gratis bord kos dalk meer, koffie of tee. Meer as wat ek by my werk kry. En ja dalk kan ek n middag ete bekostig bring ek my eie kos van die huis af om te eet.

Kyla: julle was baie geseend om n goeie betroubare huis hulp te hê, maar die res van ons nie, so voor jy veralgemeen en oordeel dink ook aan die groot prentjie. Die meeste van ons werk hard vir ons geld en as ons dit op duur vakansies en duur chocolates wil spandeer en nie op die huis hulp wat alreeds verdien wat sy moet dan los ons.

As jy jou huishulp ekstra wil betaal dan keer niemand jou nie.. So nee as ek vanaand op my bed lê en my duur chocolates eet op my sagte bank gaan ek nie aan my huishulp dink nie, ek gaan dink hoe vrek hard ek gewerk het om dit te kan koop.

swanna ·

Nou almal van julle wat sulke goeie getuig skrifte van julle huis hulpe skryf. Hoekom betaal julle hulle nie volgens wat hul vir julle werd is nie. Sies man!!!!!!!

Afrikaanse Knaap ·

As jy nie jou huishulp R20 per uur, plus transport betaal nie, moet jy nie ‘n huishulp he nie. En as jy dink dit te veel, gaan maak jy ‘n ander man se huis skoon heel dag. Sit jou bietjie in hulle skoene.

GM ·

Behandel almal met respek, daarmee stem ek saam. Mens kan ongelukkig nie alle huishulpe oor dieselfde kam skeer, wat die loon aanbetref nie. Ek het al gesien hoe ‘n huishulp, wat meer as 20 jaar ‘deel van die gesin’ was, hul wergewers in die rug gesteek het. Mens kan ook nie die ouer huishulpe van destyds met die jonges van vandag vergelyk nie. Tye het verander. Baie van die jonges is arrogant, en stel nie belang om te werk nie. Ek glo ook elkeen moet besluit waarvoor hul bereid is om te werk. As jy ongelukkig is, beweeg aan. Niemand dwing jou huishulp om vir jou te werk nie. Ek maak my eie huis skoon, en sou nie so min betaal wou word om iemand anders se huis skoon te maak nie, maar mens moet na die hele pakket ook kyk. Eet hul uit jou kaste? Kry hul geld vir vervoer? Kry hul gratis verblyf, water en krag? Als ‘add’ op. Mens kan hul nie R6000 per maand betaal as jou salaris R10 000 is nie, dis ook onrealisties. En deur vir party te sê hul moenie ‘n huishulp hê as hul nie bereid is om duur vir een te betaal nie, gaan beteken dat iemand sonder werk gaan sit, wat bereid sou wees om R20 per uur te verdien sodat haar kinders kon eet. Gaan jy vir ‘n Pep rok dieselfde betaal as vir ‘n ontwerpersrok? Nee. Netso is alle huishulpe nie ‘n mamoewiese salaris werd nie.

Vir Wat ·

Nee wat, ek werk eerder self in my eie huis. Die huisrooftogte is almal waar die huiswerkers betrokke is. Hulle gee inligting oor jou huis uit sonder dat jy daarvan weet. Geen huishulp is daardie dankbaarheid werd nie.

Bertie Koen ·

Kyla, my hart klomp warm. Ek kan ook met trots sê dat ons gesin ons deeltydse ‘ma’, Josephine Moloi wat slegs Saterdae by ons gestryk het, goed behandel het, alles wat ons kon, het ons vir haar gegee. Komberse, tekkies, baadjies, alles! Sy het ‘n wasmasjien gekry toe sy met pensioen gegaan het, sodat sy nie nodig gehad het om met haar hande wasgoed te gaan was nie. Sy het ontbyt, middagete saam met ons geëet, en as sy haar growwe swart hand in myne gesit het as ons bid, dan het my transe sommer geloop. Daar het baie trane gerol as ons, ons seer met mekaar deel. Sy het 30jr by ons gewerk. Fiena is so 6jaar gelede hemel toe. Ek mis haar steeds elke dag. Ek kyk baie na ons foto’s waar sy my kleinkinders liefderik vashou. Ek dank die Here vir haar elke dag. Haar kleinkinders kontak my nog steeds. Lief vir jou, Fiena …. my liefdesnaam vir jou. Altyd in ons harte.

Skud-My-Kop ·

Kan mense soveel gal braak, en hulle self so regverdig. Wat julle het is juis gebore uit ‘n oord van voorreg en geleenthede. Ja julle werk hard, meeste van ons doen……ja julle het nie hand-outs gekry nie…..maar julle is ook nie benadeel oor die kleur van julle vel nie. Julle het nie groot geword in ‘n shack nie en baie van julle is nie ontneem van onderrig, net omdat julle moes werk om te help of julle ouers julle nie die luxury van “education” kon gee nie. So stop die self-entitlement en sien raak die menslikheid in die berig. Dat om iemand mens-waardig te behandel nie ‘n duur prys is nie. En dink jouself in as die rolle ooit verruil moes gewees het – hoe sou jy oorleef het? Gun ander tog ‘n bietjie son, leef en laat leef en genade tog soek bietjie daai “compasssion” in die diepte van jou hart en wees die voorbeeld.

Hannelie ·

Ons het ‘n “Ma Lina” gehad, haar naam was Bettie Makgalaton. Sy het ons kinders almal groot gemaak, beide my ouers het gewerk, baie lang ure. Bettie het in die oggend ons ontbyt gemaak, sy het ons broodjies vir skool gemaak, my hare soggens gevleg, want my ma moes al vroeg uit om te gaan werk, en saans het sy gesorg dat ons mae vol is voor my ma en pa van die werk af gekom het. Sy was ons almal se ma. Sy het ons getug as dit moes. My pa het haar kleinkind laat leer tot hy Matriek geslaag het. Sy was die een wat elke Desember vakansie saam see toe gegaan het, want ons kinders het aangedring sy moet saam en klaar. Let wel my ma en pa was nie afwesige ouers nie, hul moes werk om ons kinders die geleerdheid te gee. Ek was 25 toe Bettie na haar ewige tuiste is, sal ek vergeet hoe sy vir ons leer sing het: “Kom kniel by die kruis”. Sy het my leer Tswana praat. Ek is al oor die 50, maar sal haar nooit ooit kan vergeet.

Lynette Schultz ·

Dit is onmenslik om van ‘n vrou te verwag om haar eie kinders in ander se sorg te plaas, sodat sy jou kinders kan versorg. Mense wat dit doen dra by tot die enorme sosio-ekonomiese probleme van hierdie land. ‘n Ma moet onder dieselfde dak as haar kinders slaap.

Ja, haal maar jou klippe uit – ek verwag dit van jou, maar ek sê vir jou as jy ‘n vrou van haar gesin weghou saans is jy deel van ‘n groot probleem.

Niks wat jou skuldige gewete jou nou vir haar laat doen kan die jare vir haar teruggee wat julle gesin van haar geroof het nie, i.e. tyd met haar eie gesin.

Ons het nog altyd ‘n vrou wat vir ons huiswerk doen en al het sy gevra om ‘in te slaap’ het ons geweier omdat haar kinders haar nodig het. Ons betaal heelwat meer as die voorgeskrewe minimumloon, omdat ons weet taxigeld is duur. Ons het ook ‘n aanpassig gemaak dat sy later werk toe kom soggens, want ons verstaan hoeveel tyd werk toe ry in beslag neem.

Ons is in ‘n posisie om dit te doen, want ons werk van die huis af. Ander mense het ongelukkig nie hierdie luukse nie.

kallie ·

Ons huishulp werk al meer as 30 jaar vir ons,sy het ons kinders ook groot gemaak,soos sy het ons opofferings gemaak,haar met ons kar huistoe gevat naweke en oor kerstye of petrolgeld vir taxis gegee. Berge kos en koekies saam huis toe gegee,haar laaste kind deur die laer en hoërskool gesit. Ek het geveg by die Hooggeregshof vir geld wat die kind se pa vir haar gelos het toe hy gesterf het(95000,00),hope der hope korrespondensie,tot by die Minister van Justisie gedraai. Ons leen vir haar duisende om haar hop huis te teël en mooi te maak,sy eet 3 maaltye elke dag,woon in, het tv en wasgeriewe,het ook ons kinders se troues bygewoon. Let wel ons is nie ryk nie,soos daar aan die een kant geoffer word so ook aan die ander kant. Sy en ek en my vrou is naby aftrede en ons al 3 weet, die geil lewe is dan oor. Ons het mekaar die hand gereik.

Wonder ·

Mense elke saak het sy meriete, hoekom mekaar aanval? Jy kry jou wonderlike huishulpe en jy kry die waaroor jy wonder wat hulle heeldag doen.

Theresa ·

Om ‘n huishulp aan te stel is ‘n keuse. Vir haar om die werk te aanvaar, is ‘n keuse. Hou blaam na enige kant toe uit hierdie ding. ‘n Ander kan nie aan ‘n ander voorskryf wat en hoe dit gedoen moet word net omdat hy/sy dink dis nou die beste manier nie. Werkgewer. Werknemer. En wat daarmee saamgaan – soos orals. As iemand als wil doen vir ‘n werknemer – laat hul dit doen. As iemand meer gedistansieerd wil wees, laat hul dit so doen. Die een wat besluit om als te doen, het geen reg om hom/haarself te verhef tot iemand wat ander kan laat sleg voel omdat hul dit nie ook so wil doen nie. En dan, as mens wel so goed is vir iemand – dis ‘n persoonlike keuse en ervaring – so op die media???

Pieter Hugo ·

Hiers die probleem, en ‘n voorstel ter oplossing. Huishulpe en tuiniers is nie belasting aftrekbare uitgawes nie, so in effek word hulle belas teen dieselfde effektiewe koers as hul werkgewers. Maak salarisse aan huishulpe aftrekbaar, en mense sal kan bekostig om hulle meer te betaal. Daarbenewens sal mens die salaris moet verklaar om die aftrekking te kry wat beteken dat uitbuiting sal minder wees. Direkte ‘redistribution’

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.