Dís waaraan melktert ons herinner

(Foto: Maroela Media)

Ter viering van Nasionale Melktertdag, wou ons by Maroela-lesers hoor waaraan laat melktert hulle terugdink.

Dit was nostalgiese stories van oumas wat kleinkinders bederf, die geur van kaneel wat in die kombuis hang, die koolstoof, reënerige dae en koue wintersdae, kuiers op die plaas, familiesaamtrekke en van lepel aflek en bord uitlek. Dit bly ʼn gunsteling.

Een gelukkige Maroela-leser het in aanmerking gekom vir ʼn spesiale Melktertmeester-stel. Baie geluk aan Henry Keyter van Naboomspruit wat nou ʼn behoorlike melktertmeester kan word.

Henry skryf: “Die romerige kaneel geur wat in jou mond vrygestel word as jou mond om die koekvurkie sluit, die krakerigheid van die kors se krummels, die heerlike smaak van melktert in jou mond. Hierdie belewenis van melktert laat my met uiterste deernis aan my oorlede oumagrootjie dink. Sy is op 1 Januarie 1915 gebore en het gereeld vir ons – haar agterkleinkinders – melktert en doppies gebak. Wel, eintlik vir die kerke en ouetehuis se basaars, maar die floppe het nie lank geleef met ons in die omtrek nie!”

Hier is nog ʼn paar staaltjies:

Marie du Plooy van Bloemfontein skryf: “‘Koffie, hier’s jou koffie, mannetjie! hoor ek in my gedagtes hoe my ouma haar anderhelfte roep. Dís wat in my gedagtes opkom by aanskoue van melktert. Ek verlang sommer na Ouma en haar onbeskryflik heerlike melktert – ʼn tert waarvan ek nog nooit háár spesifieke resep raakgeloop het nie. So jammer ek het Ouma nooit gevra nie! Dis nie verniet dat Langenhoven geskryf het nie, ‘Waardeer die gebruike en gewoontes wat van jou voorouers afkom’. Dankie vir Melktertdag; ek kan weer nostalgie koester.”

Marina Visagie van Yzerfontein sê melktert is vir haar trooskos. “Dit laat my dink aan my ouma, aan my ma, die kerkbasaar, aan spesiale geleenthede en groot familiekuiers. Dit bring ʼn gevoel van warmte, bekendheid – ʼn gevoel van nostalgie. Korsloos, krummelkors of skilferkors, met kaneel of kaneelsuiker, warm of koud – hoe-ook-al – dis deel van my erfenis!”

Ronel Erasmus van Velddrift: “Dit laat my dink aan my oumagrootjie met haar voorskoot aan, en die bolla op haar kop en op die tafel staan die groot wit emalje emmer vol vars melk. Sy gaan ʼn groot bak melktert maak, besig met die resep voor haar. Daarna word die melktert in die oond gesit. Drieuur die middag kom die familie oor vir tee met die geur van melktert en vars kaneel wat deur die huis trek. Ons is in afwagting vir die Melktert wat so sag op die tong smelt, net soos sy dit kon maak. Ek mis Oumagrootjie voor die swarthoutstoof.”

(Foto: Maroela Media)

Ansie Kotze van Fochville: “Melktert laat my dink aan my ouma. Al wat ons altyd by haar wou hê, is ʼn melktert. En ek bedoel almal wat vir ouma kom kuier, soek melktert. Sy is nou bietjie oud en die bene en ou lyf wil nie meer nie, maar ouma het vir ons die beste geskenk ooit gegee en ons presies geleer hoe om daai melktert te maak terwyl sy op haar stoeltjie sit en met ons ʼn paar geheime oor daai lekker melktert gedeel.”

Riette Werner van Centurion: “Melktert sal my altyd aan my ma en ouma laat dink. Hulle was voorslagbaksters en hulle melktert was to die for! Ongelukkig is albei reeds oorlede, maar soos die liedjie sê ‘my nooi is in ʼn nartjie’, is my ma en ouma in ʼn melktert. Ek mis die verjaarsdae waar die lekkerste melktert voorgesit is! My Ma sou 24 Februarie verjaar het en ek verjaar 25 Februarie. My ma se bederf vir my verjaarsdag was altyd ʼn melktert!”

Elize Winterbach van Pinetown skryf: “My ouma en oupa het in ʼn ou plaashuis in Frankfort gebly. As ons kleinkinders daar gaan kuier het tydens Kersvakansie, het ek geleer kook. As ek die ruik van kaneel kry, wel die trane in my oë, want dit vat my terug na die kombuistafel waar ouma die kaneel oor die melktert strooi en ek weet dit sal al die hartseer wegvat. Nou het ek net die gedagte en reuk van melktert en kaneel, maar nooit sal ek weer die klein dogtertjie by die kombuistafel wees nie.”

Lindie van Gass van Mooinooi: “Daardie ou kombuistafels en bruin koeldrankglase in ‘n kombuis gevul met mense. Dit is die opvang wanneer familie/vriende bymekaar kom en net hartsake deel oor ‘n snytjie melktert en ‘n koppie koffie. Die lag is oorverdowend. Die aanvaarding oordeelvry.”

Ronél Louw van Brackenfell: “Kleintyd op Ouma en Oupa se arm plaas in die Vrystaat. Gebak in die koolstoof wat met die plaas se eie gedroogde mieliestronke gestook is. Ouma het haar hoenders se vars eiers gebruik en Oupa het die koei gaan melk vir vars melk vir die melktert. Dit was groot melkterte, gebak in ʼn groot vierkantige oondpan. Lekker dik snye met baie kaneel op. Dan vars tuisgemaalde moerkoffie daarmee saam.”

Marinda Haskins van Benoni: “Melktert laat dink my aan my ma. Ek was op hoërskool en dit het finansieel swaar gegaan. Ma het elke Vrydagoggend tussen twee- en drieuur opgestaan en omtrent 40 melkterte gebak wat Pa dan by die werk verkoop het. Dit was ʼn absolute treffer. Die bestellings was elke week meer en ons groot eetkamertafel het gekreun onder al die melkterte. Ek ruik die kors en kaneel nog as ek my oë sluit en dan verlang ek na hulle, wat soveel opgeoffer het vir hul kinders, altyd met die grootste liefde. Moederliefde = melktert vir my!”

Janine de Waal van Pretoria: “Ken jy die reuk van familiekuiers? Niggies en nefies wat skaterlag terwyl hul koljander-so-deur-die-bos en allerhande speletjies speel. Grootmense wat laggend stories en nuus deel terwyl oumas en oupas glimlaggend die spul dophou. Ma’s wat kinders uit die swembad nader roep om tog net te kom peusel aan tannie Anna se varsgemaakte melktert. Dís waaraan melktert my laat dink.”

Juanti Bornman van Lusaka, Zambië, sê melktert laat dink haar aan “huis”. “Daai diep tevrede gevoel van tuiskoms. Van hier behoort ek. Hierdie is my plek, hier is my wortels. Ek is wie en wat ek is oor waar ek vandaan kom. Land van koeksister en melktert saam met jou koffie. Daar waar ons hartstaal sommer net van jou tong afrol sonder om jou woorde twee keer te weeg. Melktert en my mense. ʼn Tevredenheid wat woorde nie kan vasvat nie.”

Zelda Boshoff van Springs skryf: “Ou Ford se gedreun, by ʼn plaas se indraaipad, Boerboel se blaf wat gaste aankondig, teekoppies se rinkel en ketel se fluit, bakhand se gefluister en murmelende oeh aah, ná elke hap aan kaneelgegeurde melktert, reg gemaak uit ʼn boervrou se hand.”

Marina Dippenaar van Worcester: “My vroegste melktert, met die reuk van kaneel daarmee saam. Dié herinnering is meer as 60 jaar oud en kom uit ouma en oupa se kombuis op Swellend. Oupa kon die heel lekkerste melktert bak, ryk en volrond. Hy het alles in die kombuis in oordaad gedoen, so ook sy melkterte! In al my lewensjare daarna het die reuk en smaak van melktert my dadelik teruggeneem na my kinderjare en oupa Dirk se kombuistafel met ʼn groot, vet, volgepropte melktert.”

Sarita Engelbrecht van Vanrhynsdorp: “As ek aan melktert dink, dan dink ek terug aan my ouma Sarie. Terug in my jong dae het ek skofte gewerk en ná elke agt dae het ek na my ouma gery wat in Nababeep gebly het. As jy by die kombuisdeur instap, ruik jy die reuk van die heerlike melktert wat sy gebak het om my welkom te laat voel. Só word ek elke agt dae met ʼn melktert bederf en as ek die horlosie kan terugdraai, sal ek dit môre in ʼn oogwink doen. Melktert bring families bymekaar. Heerlike melktert en ʼn lieflike koppie tee om ʼn koffietafel.”

Melissa Eagleton van Hermanus raak liries: “Melktert laat my dink aan kleintyd op die plaas:
Vroegoggendgeur, hier by my kamerdeur
Ek hoor hoe ouma klits klits klits,
Die suiker maak girts girts girts.
Uiteindelik is die melktert klaar
– nou kan ons baljaar

Ons het melktert slegs geëet op spesiale dae soos verjaarsdae of kerkfunksies. Dit bring sagte soet herinneringe van kindwees, sonder sorge wees en met ‘n feestelike uitkyk op die lewe. Kan ons nie maar elke dag ʼn melktertdag hê nie?”

Martie Cronje van Ramsgate skryf: “My dierbare ouma Breytenbach staan voor haar koolstoof op die plaas in Dirkiesdorp. Die sis van die blinkgeskuurde ketel op die stoof en ouma sê, ‘my kind kies vir jou ʼn koppie dan skink ouma vir jou koffie’. Vroegoggendlekkerte en ek kies die groen deurskynende koppie wat aan ʼn hakie teen die sideboard hang en gee vir ouma aan. Onder die doilie op die kombuistafel sien ek ʼn amperse stoompie trek van ʼn warm melktert en onmiskenbaar die reuk van warm melk en kaneel.”

Nou ja, ons hoop jou mond water en dat iemand vandag vir jou ʼn stukkie melktert aanbied!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.