Die Poolse diskusgooier Piotr Małachowski het onlangs positiewe reaksie ontvang nadat hy sy Olimpiese silwermedalje opgeveil het om vir ʼn driejarige seuntjie se kankerbehandeling te betaal.
Małachowski het in Augustus sy medalje op eBay geadverteer, ʼn webwerf met gesertifiseerde advertensies vir produkte wat te koop is of opgeveil word, nadat Olek, die driejarige, se ma na die atleet uitgereik het.
Olek veg al vir meer as twee jaar teen retinoblastoom, ʼn skaars oogkanker wat by kinders gediagnoseer word.
Małachowski het op sosiale media vertel hoewel dit ʼn atleet se grooste droom is om só ʼn medalje te besit, het hy nie twee keer gedink om iemand se lewe daarmee te verander nie.
“Om die medalje te wen is niks minder nie as ʼn droom wat waar geword het. Maar die lewe het my nou ʼn kans gegee om die waarde van dié silwermedalje te verhoog deur iemand se lewe daarmee te red,” het hy gesê.
Die medalje is intussen vir ʼn onbekende bedrag opgeveil en Olek is in staat om verdere behandeling vir die kanker te kry.
Sy ma het aan CNN vertel Olek sou nooit die nodige behandeling in Pole gekry het nie.
“Daar was geen kans om Olek se oog in Pole te red nie, en sy enige kans was behandeling in New York. Vandag is dit moontlik,” het sy vertel.
“In Rio het ek my beywer vir goud. Met dié veilig het ons ons beywer vir iets meer waardevol,” het Małachowski bygevoeg.
Bron: CNN
Dit noem ek goeie nuus. Kleinman, tannie Ina hoop jy word gou gesond in New York. Die Here stuur so baie engele oor ons pad.
Ongelooflik edel van die man. Wonder hoeveel mense sal dit nog doen? Ek haal my hoed af vir hom, en ek hoop die behandeling help dat die blou oog seuntjie weer gou op die been is.
Dankie vir die wonderlike man en sterkte aan die pragtige seuntjie en sy moeder!!!
Absoluut awesome..jy sal geseen wees …daar is nog mense wat omgee
Die lyding van n onskuldige kind , laat ons harte versag.
Dankie vir mense wat goedhartige dade doen.
Hulle is Jesus se hande op aarde.
Dink ook aan Logan , n baba met breinkanker.