Dit is hoe Clover Mama Afrika armoede aanpak

clover-mama-afrika-2017-01

Selestien Moses wys die verskillende soorte brood wat sy bak. “Ons het ’n ‘Ouma se Brood’ begin bak wat swaarder en baie gewild onder die plaaslike gemeenskap is.” Foto: Verskaf.

Die uitwissing van armoede is geen maklike taak nie en kan beslis nie deur een organisasie gedoen word nie. Dit is dikwels die kleinste inisiatiewe wat ʼn groot uitwerking op die kwessie het.

Vroue van die landelike omgewing, wat deel is van die Clover Mama Afrika-projek, is dikwels die bestuurders van verandering op voetsoolvlak. Hulle is die innoverende denkers en die leiers wat gemeenskapsprojekte en kleinsake-ondernemings skep. Hierdie projekte en ondernemings word dan gebruik om ʼn werklike verskil in die lewe van die mense te maak wat dit die nodigste het.

Die mammas van Clover Mama Afrika is van die beste voorbeelde van vroue wat werksgeleenthede in hulle eie gemeenskap skep terwyl hulle só help om armoede uit te wis.

Prof. Elain Vlok, die stigter van Clover Mama Afrika, wil eer aan ʼn paar vroue van die projek bring vir die harde werk wat hulle elke dag doen in ʼn poging om armoede in hulle gemeenskappe uit te wis.

“Een so ʼn voorbeeld is Shirley Merime van Ennerdale in die suide van Johannesburg. Sy bestuur sedert 1995 die Ebenezer Hannah-huis, maar help haar gemeenskap reeds 31 jaar lank. Mamma Shirley het as ʼn weeskind grootgeword en haar agtergrond gee haar begrip en insig in die behoeftes van weeskinders. Sy het tien lede in haar gemeenskap in diens geneem en het ook ʼn voorskoolsentrum wat na 30 kinders uit die omliggende informele gemeenskappe omsien. Shirley bied ook ʼn veilige hawe vir 60 kinders en 70 bejaardes op ʼn heeltydse grondslag,” sê Vlok.

“Nog so ʼn wonderlike mamma is Selestien Moses van die Khayalethu-sorgsentrum in Ashbury aan die Oos-Rand, wat 14 heeltydse personeellede in diens het en talle tydelike werksgeleenthede aan ander gemeenskapslede bied,” verduidelik sy.

Vlok sê Moses verstaan die betekenis van harde werk. Sy voorsien 300 kinders en meer as 80 bejaardes van maaltye. Moses maak ook seker hulle kry berading en voorsien in talle van die mense se basiese behoeftes. “Sy gaan voort met haar werk omdat sy ʼn liefde in haar hart vir ander het en omdat sy graag iets vir iemand wil beteken.”

Mamma Sipiwe Solomons van Hosanna-gemeenskapskerk en -projekte wat al die pad van Mpumalanga af kom, verskaf ʼn inkomste aan 30 lede van haar gemeenskap. Sy verskaf ook vervoer aan weeskinders en tuisversorging aan 140 kinders wat 8 en 14 jaar oud is.

Verder bied sy mense vaardigheidsopleiding in tuinmaak en naaldwerk terwyl sy ook geletterdheidsklasse vir werklose volwassenes aanbied.

clover-mama-afrika-2017-02

Bakkers en kokke is trots op die deeg wat hulle by die Clover Mama Afrika-projek geleer maak het. Vlnr voor is Phomolo Raisa van Botshabelo, Juandi Meyer, prof Elain Vlok, en Bongani en Virginie Merime van Ennerdale. Vlnr agter is Selestien Moses van Ashbury, Mirriam Makamu van Tembisa, Mirriam Toni van Mbekweni, Mary Smit van Hazyview en Nondumiso Mpitimpiti van Amalinda Forest. Foto: Verskaf.

Nog ʼn voorbeeld van ʼn wonderlike Clover Mama Afrika-inisiatief is Mamma Florence van die Vrystaat en Mamma Mirriam Toni in Mbekweni. Florence, wat ʼn veilige hawe vir meer as 250 kinders bied, is ʼn dinamiese vrou wat uitmuntend is in al haar selfhelpprojekte en werk aan 28 lede bied. Mirriam het in die vroeë 1990’s die Ncedisiwe-sentrum begin, wat 26 lede in diens het.

“Hierdie vyf mammas het gesamentlik meer as 100 mense in diens en toon werklik die rol wat ʼn individu kan speel om verligting van armoede in Suid-Afrika te verseker. Ek wil eer aan hierdie vroue bring vir die groot verskil wat hulle maak. Dit is vir my lekker om hierdie vroue te ondersteun wat ander in hulle gemeenskap help,” sê Vlok.

Die Clover Mama Afrika-projek ondersteun 42 vroue oor Suid-Afrika. Hierdie merkwaardige vroue versorg gesamentlik meer as 15 500 kinders en 2 500 bejaardes, van wie baie misbruik, wees, haweloos en kwesbaar is.

Clover Mama Afrika help hierdie vroue met belangrike vaardighede soos kook, bak, naaldwerk, sakebestuur en tuinmaak. Benewens die opleidingsessies word die vroue ook van die nodige gereedskap, toerusting en infrastruktuur voorsien om vir hulself ʼn inkomste te skep en in die proses aan hulle gemeenskap terug te gee.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Hendrik ·

Wel ek het ‘n paar jaar gelede Prof Elain Vlok gekontak om die Clover Mama projek in ons gemeenskap te vestig en daar is prontuit vir my gese dat hulle kan nie dit ons gemeenskap, wat wit is, implimenteer is omdat ons nie multi-kultureel is nie. So ons sal maar van ‘n burgerregtegroep moet gebruik maak om dit in wit gemeenskappe te implimenteer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.