Dit is nie wát jy gaan studeer nie, maar dát jy gaan studeer

student-biblioteek-studeer-unsplash-pixabay

Foto: Unsplash/Pixabay.com

Deur Hannie Viljoen

In gr. 11 het ek my plek op die Top-10-akademie prysgegee weens ’n gebrek aan belangstelling. Ek het die skoolvakke as vervelig beskou en die buitemuurse aktiwiteite oormatig verken. Van drama, revue, redenaars, redaktrise van die skoolkoerant, hokkie, korfbal vir die dorpspan, SA water-aërobiese oefeninge, telling hou vir die eerste krieketspan tot selfs spanbestuurder van die eerste rugbyspan, het ek gereken dat ek my talente en gawes maar elders moet verken.

Dit het tot gevolg gehad dat my beste skoolvriendin tiende op die skool se Top-10 was, wat haar die domste van die slimmes gemaak het en ek met ’n elfde plek, die slimste van die dommes. Ek sê dit tong in die kies, maar met die hoop dat dit my beter sal laat voel oor my min belangstelling in akademie.

Ek wou graag na skool ’n diensjaar vir Christus doen of oorsee gaan au pair om vir myself tyd te maak om te besluit wat ek vir die res van my lewe wil doen. Dit is darem ’n geweldige groot verantwoordelikheid om op 18 te besluit wat jy vir ongeveer agt ure elke dag vir die res van jou lewe wil doen. My pa met al sy wysheid (dankie tog vir goeie pa’s) het gesê ek kan albei doen – sodra ek ’n graad het. Hy het geweet as jy uit die ritme van akademie is, sukkel jy weer om die pas op te tel.

Na afloop van die voltooiing van my honneursgraad in kommunikasie het ek tydens my meestersgraad ’n jaar in Nederland gaan au pair en die jaar daarna ’n week per maand ’n diensjaar vir Christus gaan werk, terwyl ek deeltyds op die Puk gewerk het. Vandag, sewe jaar nadat ek my nagraadse graad verwerf het, is ek tans besig met ’n Ph.D.-kwalifikasie in ontwikkelingskommunikasie. Nie omdat ek slim is nie, maar omdat ek hard kan werk en ek lief geraak het vir die akademie. Ja, jy het reg gelees – verlief geraak het op die leer van nuwe vaardighede en om ’n spesialiteit in my belangstellingsveld te bou. Ek glo dat jy altyd kan en moet leer. Dus, raak lief vir lewenslange leer.

Jy kan miskien nou vra: Waarom deel ek hierdie persoonlike inligting met jou? Omdat ek glo dat daar iewers ’n gr. 11‑ of 12-leerder sit en dink dat skool die “pits” is en hy of sy nie sterk genoeg akademies is om ’n tersiêre kwalifikasie te bekom nie, of net ’n gebrek aan belangstelling het.

Puberteit is aaklig, verhoudings tussen seuns en dogters op skool is ongemaklik en die vakke wat jy het, laat jou meestal onbekwaam en dom voel. Juis daarom moet jy ’n tersiêre kwalifikasie aanpak, want dit sal in jou belangstellingsveld wees, wat dit moontlik gaan maak vir jou om te presteer in dít wat jou passie is. Enige vak is moeilik, maar jy weet dat jy bereid sal wees om die ure in te sit in wat jou gelukkig maak en jou kennis sal opskerp. Só is studies ook. Jy lees en leer oor die dinge wat jou opgewonde maak. Vra vir enige persoon in die akademie, die meerderheid van studente vaar baie beter by ’n tersiêre instelling as wat hulle ooit op skool gevaar het.

As jy vandag nog op skool is of onlangs begin werk het, is jy in die gunstige posisie om by Solidariteit Jeug te kan aanklop vir raad of om jou belangstellingsvelde te toets. Hulle sal jou kan lei in die verkenningsproses van wat jy moet studeer.

Daarna kan jy by Solidariteit Helpende Hand vir ’n rentevrye studielening aansoek doen om jou finansieel by te staan op reis na jou akademiese kwalifikasie. Vanjaar se aansoeke sluit 30 September vir 2021 se studiejaar.

Tydens onlangse navorsing onder Solidariteit Helpende Hand se Studiefondssentrum en gemeenskapstudiefonds se studente wat hul tersiêre kwalifikasie verwerf het, het 75% van die 535 studente wat aan die navorsing deelgeneem het, aangedui dat hulle finansieel in ’n beter posisie as hulle ouers is. Sowat 70% van die studente het aangedui dat hulle finansieel by die kwalifikasie gebaat het, dat hulle ’n werk kon kry of dat hulle hul loopbane bevorder het. Dieselfde persentasie het na afloop van die voltooiing van hul kwalifikasie van geen inkomste nie of ’n inkomste laer as R10 000 per maand, tot meer as R15 000 per maand geskiet. Altesaam 60% van die studente het ook meer selfvertroue gekry en waardig gevoel omdat hulle hulself met ’n kwalifikasie kon toerus en kon bewys dat hulle ook tot meer in staat is.

’n Tersiêre kwalifikasie leer jou verantwoordelikheid, doelgerigtheid en uithouvermoë. Dit leer jou om klaar te maak waarmee jy begin. Dit leer jou dat akademie nie ’n kompetisie is nie, maar ’n interne prestasie, wat jy slegs vir jou eie gewin aandurf. Dit leer jou dat die wêreld jou niks skuld nie en dat jy vir jou eie toekoms verantwoordelik is. Dit leer jou om alles te gee om vir jouself ’n beter toekoms te bou én dit bou ’n brug na beter geleenthede.

Almal kan hulself met ’n tersiêre kwalifikasie toerus – mits jy dit doen in die veld waarin jy belangstel, anders sal jy moeilik die kwalifikasie voltooi. Dit is nie wát jy gaan studeer nie, maar dát jy gaan studeer het, wat jou van ’n beter toekoms en sterker identiteit voorsien.

  • Hannie Viljoen is ’n navorser by Solidariteit Helpende Hand wat pas ’n studie gedoen het oor studente wat deur die Studiefondssentrum studeer het se finansiële posisie, hul beroepsloopbaan en werksomgewing ná afloop van hulle studies. Vir meer inligting oor die uitslae van die Studiefonds se navorsing, besoek gerus Helpende Hand se Studiefondssentrum.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

commontar ·

Ek neig om nie saam te stem nie. Eerstens daar is duisende grade wat bitter min beteken en dalk op die beste vir jou ‘n werkie as kelner/kelnerin kan losslaan. Tweedens wat is almal so behep met grade – daar is hoeveel ambagte en betekenisvolle goed wat mense kan doen sonder ‘n graad. Kan nie verstaan hoekom alles moet gaan oor ‘n meestal niks betekende graad nie!

OW ·

Ek stem.As mens vandag spesifiek nie beroepsgerigte opleiding het nie,gaan jy nie werk kry nie.Ek dink ons mense kom uit ‘n geskiedenis van, kry net ‘n graad dan is die Kaap hollands.Daardie dae is lankal verby.Toe ek ‘n kind was is daar neergesien op die ambags beroepe.Dit is egter hoogs gespesialiseerde opleiding en daar sal altyd werk wees vir die beroepe.

commontar ·

Ja baie mense kyk maar neer op ‘n ambag, maar mense is so oningelig rakende sulke beroepe. As ons almal nou grade het wie gaan sorg dat almal se lewens daagliks aangaan. En dan dink ek persoonlik instansies moet van die bisar grade wegvat – van hulle beteken absoluut niks nie, al word dit met cum laude verwerf. Ek dink my loodgieter verdien baie meer as van hierdie gegradueerdes

Santie Gildenhuys ·

Uitstekende advies van Hannie Viljoen oor die voordele van STUDIE na matriek! Ek is nou juis besig om tyd te wy aan aansoekprosedures vir studierigtings en beurse; die saamstel van jou CV, ens. met my graad elfs in die Engels klas. Ek het hierdie artikel op hulle gr 11 en 12 WA groepies geplaas en glo hulle sal baie baat daarby vind!

J ·

Kennis is mag!

Mense met KENNIS neem beter besluite oor ALLES (as mense SONDER kennis), en dit bevoordeel hulle lewenslank.

Lerende mense pas voortdurend aan by die veranderende wêreld en bly sodoende’relevant’.

Deur te leer voeg ‘n mens ‘waarde toe’ tot jouself … dit maak jou meer ‘waardevol’ en jy bly in aanvraag!

Of ons daarvan hou of nie … lewenslange leer is hier om te bly!

Maak nie baie saak of jy by univeristeite van Wetenskap of Tegnologie studeer of by die ‘universiteit van die lewe’ nie … leergierige mense sal suksesvol wees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.