Divenette terug skool toe ná sy maande om lewe veg

Divenette Streicher is opgewonde om terug te wees by die skool. (Foto: Verskaf)

Divenette Streicher is opgewonde om terug te wees by die skool. (Foto: Verskaf)

Die dokters en familie van die 11-jarige Divenette Streicher is positief oor haar herstel. Sy is verlede Woensdag vir die eerste keer in 11 maande skool toe nadat sy verlede jaar maande lank in ʼn Pretoriase hospitaal om haar lewe geveg het.

Divenette is in Februarie verlede jaar aanvanklik met nierpypontsteking en blaasinfeksie gediagnoseer, maar haar toestand het daagliks versleg en sy is uiteindelik in die Steve Biko-hospitaal opgeneem omdat die gesin nie ʼn mediese fonds het nie.

Divenette se blindederm is verwyder, maar dokters het vasgestel dat ʼn bakterie in haar ingewande ook begin het om haar dik- en dunderm aan te tas. ʼn Gedeelte van haar dikderm is verwyder, maar Divenette het al meer pyn ervaar en haar toestand het nie verbeter nie.

Volgens Minette Streicher, Divenette se ma, kon die dokters by Steve Biko-hospitaal nie bepaal wat met Divenette skort nie. Daar is inderhaas geld ingesamel om haar na die Mediclinic Kloof in die ooste van Pretoria oor te plaas, waar sy sedertdien behandeling ontvang het. Sy is einde Junie verlede jaar uit die hospitaal ontslaan.

Divenette, wat vanjaar met gr. 6 in Laerskool Queenswood begin het, se punte was volgens Streicher in haar gr. 4-jaar goed genoeg en sy hoef gevolglik nie gr. 5 te herhaal nie.

“Die skool wou haar nie deur daardie trauma ook laat gaan om haar ʼn jaar terug te hou nie en dus kon sy gelukkig saam met haar maats aanbeweeg na gr. 6 toe. Dit verg baie ekstra aandag aan haar skoolwerk omdat sy so ver agter is, maar sy is positief. Sy begin ook vandeesweek met ekstra wiskundeklasse,” het Streicher aan Maroela Media gesê.

“Ek het haar verlede jaar toe sy so lank tuis was self weer laat lees, want ek kon sien daardie vermoë het ʼn knak gekry en sy was onseker oor sekere woordjies. Ek het ook self haar graad se boeke gekry en ons het so stuk-stuk daardeur gewerk, maar sy kon nie tuisonderrig ontvang of enige toetse skryf nie, omdat sy so kort-kort in en uit die hospitaal moes wees vir operasies,” het Streicher verduidelik.

Divenette destyds in die hospitaal. (Foto: Verskaf)

Divenette destyds in die hospitaal. (Foto: Verskaf)

Streicher vertel Divenette se eerste week terug by die skool het goed verloop. Haar eerste dag het op ʼn positiewe noot begin toe sy eers haar maats sien. “Op pad skool toe was sy baie opgewonde, maar toe ons voor die skool stilhou, het sy vir my gesê: ‘Mamma, nóú stres ek.’ Toe sy die maats sien en hulle omhels haar, het sy ontdooi.”

Volgens Streicher werk sy nou net halfdag sodat sy vir Divenette by die skool kan gaan haal en sy nie in die naskool hoef te wees nie. “Sy kom maklik deur ʼn skooldag. Sy mag niks optel wat swaarder is as ʼn vol 2 l-bottel nie, so haar maats help om haar tas te dra. Sy moet ook nog ʼn korset dra wat haar dermpies beskerm; sy kry dus maar warm.”

Divenette mag glad nie vanjaar aan sportaktiwiteite deelneem nie. “Sy hou van kuns, so ons oorweeg dit nou dat sy met kunsklasse begin. Sy gaan ook miskien skaak speel. Ons kyk maar na aktiwiteite wat sy rustig kan doen.”

Streicher het gesê sy kan agterkom Divenette is effe onseker as dit by skoolwerk kom. “Sy is bang sy doen iets verkeerd en haar geheue is nie meer wat dit was nie. Die dokters het ons daaroor gewaarsku, aangesien sy in ʼn tydperk van sewe maande 19 operasies moes ondergaan. Dit beteken sy moes 19 keer volle narkose kry, asook 10 ander kere semi-narkose. Dit is iets wat ons moet dophou, maar ons vertrou op die Here dat dit mettertyd beter sal word.”

Sy het bygevoeg dit het in die maande nadat Divenette uit die hospitaal ontslaan is, fisiek goed gegaan met haar. “Dit was maar moeilik met die kolostomiesakkie en wonde wat ons by die huis moes hanteer en sy moes steeds in isolasie wees totdat die sakkie in Oktober verwyder kon word. Tot op daardie punt kon ons nie regtig ons eie lewe hê nie, maar sy het so goed gevaar en goed gewig aangesit, wat gehelp het vir die operasie.”

Emosioneel het Divenette haar op en af dae. “Vir baie maande het sy haar sin gekry en als het om haar gedraai, maar nou is ons back to reality en moet daar weer tugtiging plaasvind. Dit is ʼn heel ander uitdaging wat ons moet trotseer.”

Divenette Streicher is opgewonde om terug te wees by die skool. (Foto: Verskaf)

Divenette Streicher is opgewonde om terug te wees by die skool. (Foto: Verskaf)

Ook met Divenette se jonger boetie, Divianco (8), gaan dit goed in die omstandighede. “Hy moes vir ʼn lang tydperk saam met sy ouma, oupa en tannie bly omdat ek en sy pa, Divan, soveel tyd by die hospitaal deurgebring het. ʼn Mens het maar ʼn skuldgevoel teenoor die kinders en ons moet nou weer ons ritme as gesin terugkry. Ek en Divan vertrou op die Here om vir ons wysheid te gee hoe om die kinders te hanteer en die standvastigheid terug te kry. Ons staan bymekaar, so dit help baie.”

In die omstandighede gaan dit goed met haar en Divan. “Dit gaan maar op en af en partykeer raak dit ʼn handvol waar ons nie weet wat om te doen nie. Finansieel het ons ook ʼn groot knou gekry en het nou ʼn jaar lange agterstand wat ons nie weet hoe ons dit gaan inhaal nie, en noudat ek net halfdag werk, is my salaris ook net die helfte van wat dit was.”

Divenette sal vir eers nie weer onder die mes hoef te gaan nie. “Haar maagspiere het kant toe getrek, maar die dokter het gesê hy gaan dit nie nou opereer nie, want dit is verskriklik pynlik en hy voel sy het al genoeg deurgemaak. Hy het tydens die laaste operasie weefsel oor haar organe getrek, en solank daar nie breuke ontwikkel nie, hoef sy nie weer ʼn operasie te ondergaan nie. Dit is ʼn groot verligting.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Lollie ·

Pragtig! So bly vir haar! Jy is ń skitterende mensie, moenie aan jouself twyfel nie

AmY ·

Baie sterkte. Jy gaan dit maak. Jy is ‘n sterk en mooi meisiekind.

Sheryah ·

Ek vertrou saam met julle vir ‘n herskeppende wonderwerk in haar liggaam.

Ek wil mamma en pappe tog aanraai om haar fyn dop te hou met die akademie. Dit gaan baie moeilik wees om op ‘n agterstand van ‘n jaar se werk wat sy verloor het nuwe informasie op te bou. Persoonlik sou ek haar eerder terug gehou het en Graad 5 herhaal het om vir haar ‘n groter kans op sukses te gee. Dis vroeg in die haar, so daar is nog tyd. Sy sou weer maats kon maak in die nuwe graad.

As julle dit nie wil doen nie, probeer dalk om ‘homeschooling’ se graad 5 werk te kry en laat haar dit deurwerk. Sy het die basis nodig om graad 6 daarop te kan bou, veral in die lig gesien dat sy sukkel met haar geheue.

Baie sterkte vir julle as gesin en veral vir haar.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.