Doen-dit-self: ʼn Bonsai vir pa

(Foto: Life is a Garden)

Vadersdag is om die draai en as jy steeds kopkrap oor wat om vir Pa te gee op dié spesiale dag, is ʼn doen-dit-self bonsaiboompie dalk net die antwoord.

Hierdie handgemaakte geskenk is nie net bedagsaam nie, maar ook maklik om te maak en boonop baie pret. Dit is ook maklik om al die benodighede in die hande te kry en met behoorlike sorg, kan bonsaiboompies jare lank floreer.

Vadersdag word volgende Sondag (16 Junie) gevier.

Al wat jy gaan nodig hê is:

– ʼn Jenewerstruik
– ʼn Bonsai-skêr
– Bonsaigrond
– ʼn Eetstokkie
– ʼn Bonsai-pot
– Draad (twee verskillende soorte – dik draad vir die stam en dunner draad vir die takke)
– ʼn Stukkie nylongaas

Só gaan jy te werk:

Stap 1

Verwyder die boompie uit die pot en stof versigtig die grond van sy wortels af. Jy kan die eetstokkie gebruik om die fyner grond by te kom. Sodra jy die wortels duidelik kan sien, kan jy sien waar die dikste wortels uitkom.

Stap 2

Jou uiteindelik doelwit is om die middel van jou bonsai se takke dik te laat vertoon, terwyl dit geleidelik dunner word na buite. Begin jou bonsai te snoei deur enige takke weg te sny wat oor mekaar kruis, asook enige dik takke naby aan die bokant van jou boompie waar die blare is. As daar enige groot snye in jou boompie gemaak word, sit ʼn bietjie bonsai-seëlmiddel oor die snye. As jou boompie baie slordig lyk, kan jy tot ʼn 1/3de daarvan wegsnoei. Verwyder ook alle dooie blare en takkies. Kyk mooi na jou boompie en besluit waar jy die kroon van die boom wil hê. Sny dan enige takke korter waar nodig sodat die bonsai nie te lank vertoon nie.

Stap 3

Deur dik draad te gebruik, kan jy veroorsaak dat jou bonsaiboom na ʼn kant toe groei om te lyk of dit deur die wind gewaai word. Druk ʼn stuk koper- of aluminiumdraad in die grond en laat dit om die stam van die boom buig teen ʼn 45 grade hoek. Behou hierdie hoek terwyl jy die draad om die stam draai al die pad tot bo. Sny enige oortollige draad af. Die boom is nou effens buigbaar, so jy kan dit so ʼn bietjie buig om dit ʼn interessante skuins-effek te gee.

Stap 4

Nou moet jy jou takke bedraad. Begin deur die dunner draad een keer om die stam te bind en draai dit om die lengte van die takke. Jy kan nou jou takke buig na waar jy dit wil hê, maar werk baie versigtig sodat die takke nie breek nie. Gewoonlik loop ʼn bonsaiboom se takke parallel met die vloer en gaan dan effens af. Probeer om die takke na te maak sodat dit lyk soos die takke van ʼn groot boom.

Stap 5

Bonsaiboompies hou nie daarvan as hul wortels in water geweek is nie, so dit is belangrik om ʼn dreineringsgat aan die onderkant van die pot te sit. Die gat moet egter op een of ander manier bedek word om te verhoed dat die grond uitval. ʼn Stukkie nylongaas is perfek hiervoor en jy kan weer die draad gebruik om dit vas te maak.

Maak seker daar is twee klein gaatjies aan die onderkant van jou pot. Ryg ʼn stuk draad deur die twee gaatjies sodat die twee punte van die draad na bo steek. Jy gaan later hierdie draad gebruik om jou boom aan die pot vas te bind.

Stap 6

Gebruik die eetstokkie om enige oorblywende grond om die wortels weg te skraap. Jy kan dan sowat ʼn 1/3de van die wortels snoei, maar moenie die fyn worteltjies afbreek nie. Hulle help met die voeding van die boom.

Stap 7

Bedek die onderkant van jou pot met grond en plaas die boom bo-op die grond. Posisioneer die boom op die regte hoek, dit moet nie perfek regop staan nie. Nou kan jy die draad wat deur die pot geryg is, gebruik om die boom in plek te hou. Buig die twee punte van die draad bymekaar en verseker die draad hou die boomwortels af. Knip enige stukke draad weg wat uitsteek. Nou kan jy die wortels met nog grond bedek. Druk die grond tussen die wortels in (jy kan hier weer die eetstokkie gebruik) om seker te maak daar is geen lugleegtes nie.

Stap 8

Sodra jy die boompie goed natgemaak het, is jy gereed om die geskenk te oorhandig. Jy kan fyn klippies om die boom strooi of ʼn klein bietjie mos plant om dit af te rond. Bind ʼn mooi lint om die pot of skryf ʼn boodskap op ʼn houtbordjie en druk dit in die grond. Onthou om vir pa te herinner om minstens vier weke te wag voordat hy enige kunsmis toedien en maak voortdurend seker dat die draad nie die boompie se takke beskadig nie.

Hierdie inligting is verskaf deur Life is a Garden.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Maria ·

Dankie Vader dat een van my mede werkers n man. Hy het sy harte oopgemaak wat ek nooit besef nie. Hy se altyd net vrouens maar n man het ook gevoelens al is hulle eggo …..het nodig vir as Vaderdag om ook bietjie kan bedref dit beteken iets vir hulle. Dankie Moses

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.