Doen-dit-self: ʼn Kitsversiering vir jou tafel

Een van die bekendste soorte aalwynplante is die Aloe vera, ʼn plant met vlesige groen blare wat in ʼn pot ʼn uiters modieuse dekorstuk maak. (Foto: Life is a Garden)

Een van die bekendste soorte aalwynplante is die Aloe vera, ʼn plant met vlesige groen blare wat in ʼn pot ʼn uiters modieuse dekorstuk maak. En boonop is dié tafelversiering baie maklik om te maak – selfs al het jy nie groen vingers nie.

Aalwynplante kan oor die hele Afrika gevind word met verskeie spesies wat inheems aan Suid-Afrika is. Verskeie aalwynvariëteite is gepas vir binnenshuise groei en die meeste is droogtebestand, wat hulle wonderlike waterslim-plante maak. Jou naaste kwekery behoort ʼn verskeidenheid aalwyne aan te hou wat jy kan gebruik vir ʼn elegante middelstuk vir die volgende kuiersessie om jou tafel.

Jy sal die volgende benodig:

  1. Aalwynplant
  2. Glasvaas
  3. Riviersand (growwe sand)
  4. Dekoratiewe klippe (dit kan natuurlike klippe, glasklippe of edelstene wees)

Só gaan jy te werk:

Stap 1: Gooi grond en/of sand onder in jou vaas.

Stap 2: Plaas ʼn paar klippe of stene bo-op die sand.

Stap 3: Plaas die aalwynplant in die vaas.

Stap 4: Plaas nog sand en klippe in die vaas totdat jou tafelversiering mooi lyk. Moenie enige water byvoeg nie!

Jy kan enige grootte of vorm vaas gebruik. (Foto: Life is a Garden)

Hoe om vir jou aalwyn te sorg:

Aalwynplante het baie min sorg nodig. Terwyl jou aalwyn in die vaas is, moet jy nie die plant water gee nie. Plaas die plant naby ʼn venster wat baie son kry sodat die aalwyn baie indirekte sonlig ontvang. Direkte sonlig kan die blare laat bruin word. Roteer die vaas een of twee keer ʼn week sodat al die kante van die aalwyn ewe veel lig kry.

Jou aalwyn kan egter nie vir altyd in die vaas oorleef nie. Ná ʼn paar weke moet jy jou aalwyn in ʼn pot oorplant.

Plant die aalwyn in ʼn pot met minstens een dreineringsgat wat tussen 5 cm en 8 cm groter in deursnee is as die basis van jou plant. Dreinering is belangrik omdat te veel vog jou aalwyn se wortels kan laat vrot. Plant die aalwyn in ʼn grondmengsel wat spesiaal vir kaktusse en ander vetplante geformuleer is, of kombineer ewe veel grond en growwe sand om jou eie mengsel te maak.

Gee jou vetplant net water wanneer die grond heeltemal droog is, of elke paar weke. Gooi die water op die grond naby die basis van die plant totdat die grond deeglik nat is. Laat die pot toe om vir ʼn halfuur behoorlik te dreineer en gooi dan enige oortollige water weg wat op die drupbord uitgeloop het.

Aalwyne het oor die algemeen nie kunsmis nodig nie, maar jy kan af en toe kunsmis toedien indien die plant nie so gesond lyk soos dit moet nie. Bemes die plant midlente deur water met vloeibare kunsmis vir huisplante te meng.

Hierdie inligting is verskaf deur Life is a Garden.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.