Dogters en ma’s bederf by swierige ‘high tea’

Jenna-Clifford-Leandie-du-Randt

Die aktrise, model en skrywer, Leandie du Randt, was die gasspreker by die ‘high tea’ wat vir ma’s en hulle dogters by die Jenna Clifford boetiewinkel in Lynnwood, Pretoria aangebied is. Foto: Esté Meyer Jansen

ʼn Uitgesoekte groepie ma’s en hulle dogters is Saterdagoggend by die Jenna Clifford boetiekwinkel in Lynnwood, Pretoria bederf met ʼn teemaaltyd (high tea) en ʼn inspirerende praatjie deur die aktrise en skrywer, Leandie du Randt.

Die oggend is die breinkind van Carlin du Toit, ambassadeur van die Lynnwood Bridge-boetiekwinkel, wat glo dat jong vroue en meisies meer as ooit ʼn behoefte het aan positiewe rolmodelle, asook ondersteuning en motivering. “Net soos Jenna Clifford wil ek graag help om vroue te bemagtig en daarom het ek ʼn mentorskap-program vir jong meisies op die been gebring. Verder deel ek Leandie se visie dat meisies en vroue gemaklik moet wees in hulle lyf en dit maak Leandie se boek, Gemaklik in Jou Eie Lyf, die ideale pasmaat vir hierdie oggend,” het Du Toit gesê.

John Owens, Mnr. Suid-Afrika 2013/2014, het almal ook verras met ʼn motiveringspraatjie waartydens hy verduidelik het dat hy as ʼn pa besef het meisies moet eerder gewys word wat om te doen, as net gesê word. Hy het die gehoor ook meer oor die Mnr. Suid-Afrika kompetisie vertel. Nog bekendes wat die oggend bygewoon het was Ben Kruger, wat die rol van Oom Okkie in Binnelanders vertolk, asook Dane Venter, Teen World Supermodel, en Annemieke van Aarde, Mej. Gauteng 2014/2015.

“Ek wou die oggend seker maak dat elke vrou bederf word met ʼn inspirerende boodskap of twee, geskenkies, lekker eetgoedjies en verskillende soorte tee,” het Du Toit bygevoeg. “Ek glo tee is ʼn drukkie in ʼn koppie. Dit is vir my belangrik dat elke vrou Jenna se persoonlike mantra van liefde, skoonheid, passie en waarheid self kon ervaar.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.