Dogtertjie (3), man (68) kry nuwe ‘ore’

Die Good morning Angels span saam met Felix de Gouveia en sy dogter Mandy (Foto: Verskaf)

Jacaranda FM se Good Morning Angels met Martin Bester het onlangs sewe mense se drome bewaarheid toe hulle nuwe gehoortoestelle ontvang het.

Die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) voorspel dat 900 miljoen mense reeds teen 2050 aan gehoorverlies sal ly. In Suid-Afrika kan een uit elke 12 kinders nie hul onderwysers behoorlik hoor nie. Daar is ook slegs 2 000 oudioloë beskikbaar in Suid-Afrika vir sowat 59 miljoen mense.

Maroela Media het vroeër vandeesweek op Wêreldgehoordag berig dat die meeste gehoorverlies voorkom kan word as die probleem vroeg vasgestel word en die gepaste behandeling gebied word.

Good Morning Angels het met eMoyo, ʼn Suid-Afrikaanse mediese tegnologie- maatskappy, en Entheos, ʼn soortgelyke Amerikaanse maatskappy, saamgespan om sewe mense se gehoor te help herstel.

Een van die ontvangers is die driejarige Micke Zowitsky. Zowitsky se pa is twee jaar gelede in ʼn motorongeluk dood, wat Micke se ma Charise, ʼn kleuterskoolonderwyser, as die broodwinner gelaat het.

“Micke het kort ná haar pappa se dood gehoorprobleme ontwikkel en dit tas natuurlik haar spraak ook aan. Sy kan nie aanpas by die kleuterskool of kommunikeer met ander maatjies nie,” het ʼn vriendin aan Good Morning Angels geskryf.

Charise het haar bes probeer om vir Micke gehoortoestelle te kry, maar aangesien sy nie ʼn mediese fonds het nie, was dit bykans onbekostigbaar vir dié gesin.

“Elke ma wil maar net die beste vir haar kind hê, so dit is baie moeilik,” sê Charise.

Good Morning Angels het hulle gehelp om die demonstrasie-gehoortoestel wat Micke voorheen gebruik het, permanent te kan gebruik. Hoewel sy steeds spraakterapie nodig het, word ʼn baie beter toekoms vir haar voorspel omdat sy nou die gehoortoestel het.

Nog ʼn ontvanger is die 68-jarige Felix de Gouveia.  De Gouveia het die afgelope paar jaar ʼn hele reeks gesondheidsprobleme gehad.

Hy het ʼn beroerte gehad en is ʼn diabeet. Hy is besig om sy sig te verloor en nou het sy gehoor ook begin verswak.

Sy dogter, Mandy, is besig om ʼn plan te beraam om haar pa se gehoor- en -sigprobleme te verlig en is ook besig om ʼn gholfdag vir hom te reël om geld in te samel vir die operasie wat hy aan albei sy oë moet kry. Daarna het sy ook Good Morning Angels gekontak om haar pa met sy gehoor te help.

eMoyo sal twee gehoortoestelle vir De Gouveia skenk en glo dit sal ʼn groot verkil in sy lewe maak.

“Ons is ongelooflik gelukkig en dankbaar vir almal wat gehelp het,” het Mandy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.