Dogtertjie vra droogtehulp eerder as geskenke

Zandri Visser (Foto: Verskaf)

Leandri Visser het gedink haar agtjarige dogtertjie, Zandri, gaan dalk spyt wees oor haar besluit om eerder geldskenkings vir droogtehulp in plaas van geskenke op haar verjaardag te vra.

Zandri wou vir haar verjaardag ʼn plaaspartytjie hou en het haar ma gevra of haar maats eerder geld kan bring wat sy vir honger diere kan skenk, eerder as geskenke.

“Ons boer nie self nie, so ons het nie besef sy is so bewus van wat aangaan nie. Maar sy het maats wat op plase woon, so dit kom seker van hul gesprekke met mekaar,” sê Leandri.

Die gesin woon op Olifantshoek in die Noord-Kaap. Leandri vertel dat sy ʼn paar keer vir Zandri gevra het of sy seker is. “Ek was bang sy besef nie dat sy dan werklik geen geskenke op haar verjaardag gaan kry nie,” sê sy.

Zandri het volgehou dat sy eerder die diere wil help as om geskenke te kry. Haar ma het dit so op die partytjie-uitnodiging aangedui en al die maats het met koeverte in die hand opgedaag.

Leandri sê die ander ma’s het gedink dit is ʼn baie knap idee – dit het daartoe gelei dat hulle ook aan hul eie kinders moes verduidelik wat die droogtekrisis in Suid-Afrika behels.

“Ons is baie trots op haar. Ons het nie geweet dit het haar regtig so diep geraak nie. Ek het gedink sy sou van plan verander, maar sy het nie, en dit het my trots gemaak. Sy het ook nie op die dag van die partytjie enigsins daarna verwys dat sy niks geskenke kry nie,” sê Leandri.

Leandri en Zandri het ná die partytjie lootjies getrek van mense in die omgewing wat hulp nodig het. Hulle het toe voer gekoop en die boer het dit by hulle kom afhaal.

“Dit was vir Zandri wonderlik, want sy kon dit self beleef omdat dit mense in ons omgewing is. Die mense by wie ons die voer gekoop het, het ook vyf ekstra bale gratis bygevoeg,” sê Leandri.

“Sy was hoogs in haar skik, en het nooit eens weer oor geskenke vir haar verjaardag gepraat nie. Ons het nie geweet dit gaan haar só tref nie, maar sy het nie lekker gevoel oor al die honger diere nie en dus besluit om iets daaromtrent te doen. Dit het regtig swaar op haar hart gelê.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Hennie ·

Welgedaan LEANDRI, jy het n hart van goud en ek is seker dat jy eendag gaan uitstaan as iemand wat besorg is oor mense en diere. Die HERE sal jou ryklik seen!!

Maria M S ·

Só trots op jou Meisiekind, met jou omgee hart. Baie dankie dat jy aan S A se mense gewys het dis die klein dade van iemand wat sorg vir groot veranderinge in ander se lewens.

isabelle ·

MEER MENSE SOOS DIE KLEINE MENSIE EN DIE WERELD IS N BETER PLEK

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.