Dokter lê 7 000 km vir liefdadigheid af

Die motorfietsryers wat saam met Dr. André Hattingh gery het (Foto: verskaf)

In een van die dorpies moes ’n gebraaide beeskop en ’n pynappel as middagete dien, maar vir kosliefhebber dr. André Hattingh, was dit net deel van die hele ervaring.

Hattingh, uitvoerende hoof en stigter van die niewinsgewende organisasie Pediatric Care Africa en oupa van vyf, het Saterdag weer in sy tuisdorp tot stilstand gekom nadat hy ’n 7 000 km op sy Harley Davidson vir liefdadigheid afgelê het.

Die reistog het op 13 Februarie in Witrivier, Mpumalanga, afgeskop en het al die bekende en onbekende hoeke van die land ingesluit. Daar het om en by 600 mense deur die loop van die reis by Hattingh aangesluit en tot by sekere bestemmings op sy roete saamgery.

Rede vir rit

“Ons moet ons eie geluk skep, ons word nie deur die regering gesubsidieer nie. Voor die pandemie kon ons funksies en gholfdae hou om geld in te samel, nou is dit vreeslik moeilik,” het Hattingh aan Maroela Media vertel.

Dit is die derde keer wat hy die rit met ʼn motorfiets aanpak sodat Pediatric Care Africa daarin kan slaag om te verseker dat kinders landwyd toegang tot die beste moontlike mediese sorg kry. Deel van die sorg is besoeke aan algemene praktisyns en spesialiste, asook om vir operasies te betaal waar nodig.

Die poel mense wat die organisasie se hulp nodig het, het die afgelope tyd met ʼn allemintige 600% toegeneem.

“Mense het hul werke verloor, hulle kan nie meer gesondheidsorg bekostig nie.”

Een van die organisasie se ander doelwitte is om te verseker dat alle magies vol is.

“Jy sal nie kan raai hoeveel kinders byna van die honger gesterf het tydens die grendeltyd nie. Onthou, daar is van hulle wat net een keer per dag by die skool geëet het. Toe die skole toemaak, was daardie etes iets van die verlede.

“In Engels is daar ʼn spreekwoord wat lui you are what you eat, en as hulle niks eet nie, kan hulle niks wees nie. Kos is soos voorkomende behandeling, aangesien dit baie siektetoestande kan voorkom.”

Elke kilometer wat Hattingh en sy ryers afgelê het, is deur vriende, sakeondernemings of die ryers self geborg. Die eindbedrag is egter nog nie finaal bereken nie.

Dr. André Hattingh saam met sy gelukbringer (Foto: verskaf)

Bestemmings op roete

Hattingh het talle interessante plekke op sy rit besoek. Hy was meegevoer deur die skoonheid van die Karoo en die asemrowende Augrabies-waterval in die Noord-Kaap wat hy vir die eerste keer in sy lewe besoek het.

“Op een van die dorpies het ons by ʼn tannie stilgehou wat besig was om iets in ʼn pot gaar te maak. Dit was toe al die tyd ʼn beeskop, en dis wat ons vir middagete gehad het.”

Hattingh beskryf homself as ʼn foodie.

“Ek drink, rook of dobbel nie; kos is ʼn groot versoeking. Ek is seker die enigste een wat drie kilo’s na so ʼn rit sal optel.”

Hy het skertsend vertel dat die verkeersbeamptes in die Kaap nie ʼn bang haar op hul koppe het nie.

“ʼn Verkeersbeampte het van die ryers afgetrek en lisensies nagegaan. Drie of vier het tot boetes ontvang. Dit is nie sommer enige man wat so baie motorfietsryers sal aftrek nie – gelukkig is ons eintlik vriendelik.”

Man op die motorfiets

“Wanneer mense vir my vra waarom ek daarvan hou om motorfiets te ry, is my antwoord gewoonlik ‘want ek het nie ’n perd nie’,” het Hattingh skertsend gesê.

Op ’n ernstige noot het hy verduidelik dat ʼn mens moet gebruik wat jy het om ʼn verskil te maak.

“Ek ry al vir dekades motorfiets; ek het dit in die VSA leer ry – dis wat ek ken en dis wat ek gebruik.”

Hy het benadruk dat die stigma wat aan motorfietsryers kleef, ongegrond is.

“Motorfietsryers is gewoonlik mense vir wie liefdadigheidswerk na aan die hart lê. Ons lyk dalk bietjie vreesaanjaend, maar onthou, ons wil so lyk – jy weet, om die taxi’s bietjie af te skrik.”

Wat vir dok André voorlê

Die dapper, passievolle dokter pak later vanjaar weer sy trekkerrit aan.

“Ek lê 2 000 km in ʼn trekker af om geld vir spesifieke operasies in te samel. Daar is hierdie jaar ʼn seuntjie met ʼn foutiewe hartkleppie wat ons graag wil help. Ek het sy ma belowe dat ek alles in my vermoë sal doen om seker te maak dat ons sy lewe red.”

Bewusmaking oor die plaasmoordkrisis is ook deel van dié rit.

“Ek het op ʼn plaas grootgeword; die kwessie lê my na aan die hart.”

Hy het egter geskerts dat hy fisioterapeute landwyd by die rit wil betrek. “Dis ʼn baie moeilike rit en dit veroorsaak pyn. Die eerste 1 000 km is ʼn uitdaging vir die liggaam en die tweede 1 000 km is ʼn geestelike en verstandelike uitdaging.”

  • Vir meer inligting oor Pediatric Care Africa, besoek die webwerf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.