Dokter red man se lewe met knipmes op ongelukstoneel

Dr. Wimpie Odendaal, ʼn chirurg van Kaapstad, was onlangs in Port Elizabeth op die regte plek op die regte tyd om ʼn motorfietsryer se lewe te red met net ʼn knipmes tot sy beskikking.

Odendaal was die eerste mens op die toneel van ʼn padongeluk waarin ʼn motorfietsryer ʼn ernstige borsbesering opgedoen het. Hy kon daarin slaag om ʼn noodoperasie op die man te doen met net die basiese toerusting wat langs die pad tot sy beskikking was.

Odendaal vertel hy en sy vrou, wat ook ʼn dokter is, was met vakansie in Port Elizabeth toe hulle verby die ongeluk gery het.

“Dit was duidelik dat die ongeluk net oomblikke voor ons daar aangekom het, gebeur het. My vrou het onmiddellik haar suster, wat saam met ons in die kar was, gevra om Netcare 911 se nooddienste te bel,” het hy gesê.

ʼn Beseerde man in sy veertigs het regop in die middel van die pad gesit en ʼn vrou, wat duidelik benoud was, het langs haar beskadigde kar gestaan. Hoewel die man ooglopend in pyn was, was dit nie onmiddellik duidelik dat hy ernstige beserings opgedoen het nie, het Netcare 911 in ʼn verklaring gesê.

“Binne sekondes het die man se toestand verswak. Hy het baie vlak asem gehaal, sy bewussyn verloor en sy pols kon nie gevoel word nie,” het Odendaal gesê.

Odendaal en sy vrou het dadelik mond-tot-mond‑asemhaling op die man begin doen.

“Die are in die pasiënt se nek was geswel en sy tragea het geskuif. Dit was duidelik dat die man ’n spanningspneumotoraks (longvlieslugbreuk) ontwikkel het, wat ’n lewensbedreigende kondisie is waar lug tussen die membrane rondom die longe, binne die ribbekas, vasgekeer word.

“In hierdie kondisie is dit moeilik, indien nie onmoontlik nie, om asem te haal. Dit kan ook veroorsaak dat die bloedvloei na die hart verswak. Ek het dadelik geweet dat ons onmiddellik iets sal moet doen om die spanningspneumotoraks te verlig, anders sal die man se kanse op oorlewing baie skraal wees,” het Odendaal gesê.

Odendaal het geen mediese toerusting in sy motor gehad nie, maar teen daardie tyd het mense al in die straat begin saamdrom. Hy het uitgeroep en gevra of iemand ’n skerp voorwerp by hulle het.

“Iemand het vir my ’n knipmes aangebied, en ek het geen ander keuse gehad as om ’n spesifieke area tussen die ribbes oop te maak om die druk te verlig nie. As dit nie vir dié noodingryping was nie, sou die man heel waarskynlik binne minute doodgegaan het,” het hy gesê.

Netcare 911 het kort daarna opgedaag, die pasiënt gestabiliseer, en hom na die naaste hospitaal geneem.

Volgens Odendaal het die man talle weke in die hospitaal deurgebring waar hy aangesterk het na sy beproewing. Hy het sy ribbes op 14 plekke gekraak, sy pelvis gebreek en ’n voet gebreek.

“Ek was baie bly om oor die telefoon met hom te kon gesels. Hy is ontslaan en sterk nou aan by die huis. Ek is dankbaar dat hy lewe en dat hy gesond is,” het Odendaal gesê.

Odendaal moedig mense aan om met basiese mediese toerusting in hulle motors te ry in geval van ’n noodgeval, en ook om die nodige noodnommers byderhand te hê.

“Ek moedig almal aan om hulself te bemagtig deur basiese vaardighede aan te leer. Jy weet nooit wanneer jy dalk in ’n situasie gaan wees waar jy die verskil tussen lewe en dood kan wees nie,” het hy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Hannah ·

Bevoeg genoeg om dadelik te help…
En nie n “blind eye’ te gooi ni.
Hulle kon net sowel aan gery het.
Baie dankie Dr

IK ·

Basiese noodhulp moet deel wees van jou bestuurslisensie se toets. Ek het dit al voorheen gesê en sê dit wéér.

marieta ·

ek stem saam…maar ek hoop nie enige ‘cowboy’ dink nou hulle kan die gespesialiseerde operasie doen nie….en basiese noodhulpapparaat behoort basies in die motor al kan jy dit nie gebruik nie mag n kenner dit kan gebruik….. ek besef nou eers dat myne aangevul moet word…ook met n paar teaterlemmetjies

Barend ·

Die dokter, ‘n chirurg (en sy vrou ook ‘n dokter), het self ook nie “basiese mediese toerusting” byderhand gehad nie!!! Laat dit vir (die) dokters ook ‘n les wees.

Danie van Wyk ·

Ai Dokter en Mevrou…vergeef maar die negatiewe kommentaar. Mag die Heer u ryklik seën !

Gerrie Ferreira ·

Waarheid is waarheid, nie waar nie. Dit is nie negatiewe kommentaar nie.

Ballon ·

Was al voorheen saam mense in noodhulp klas… eish ek sal nie wil hê hulle moet eerste op die toneel opdaag nie. Ek dink party mense het net n beter instink om op die regte manier te help as ander.

JAN ·

Mooi dokter ! bleddie skitterend.!!
Die noodbehandeling vir slangbyt is ‘n suiertjie. Om die gif uit te suig. binne 10 min.
Sny 10 ml spuit se kop af en smeer room enige olie aan om te seel en suig vakuum vir 5 min op elke gaatjie. Of plasiek bottel !!!
“Aspivenin” moet in elke noodtas wees.
[ook vir bysteek ens ]

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.