Dokter wat SA op trekker deurkruis, samel duisende in

Dr. André Hattingh het Suid-Afrika in sy trekker deurkruis. (Foto: verskaf)

ʼn Dankbare hart, heerlike kosherinneringe en ʼn nuwe waardering vir Suid-Afrikaanse skoonheid en gasvryheid. Dít is waarmee dr. André Hattingh ná sy trekkerrit deur Suid-Afrika terug huis toe gekeer het.

“In elke dorpie was daar mense wat gewag het, wat moeite gedoen het. Ons is ongelooflik dankbaar,” het Hattingh aan Maroela Media gesê.

Die “On-Trac-Tor”-liefdadigheidsrit het op 2 Julie vanjaar in Witrivier afgeskop. Dit het oor 2 500 kilometer en ʼn allemintige ses provinsies gestrek. Hattingh sou aanvanklik deur slegs vyf provinsies reis, maar ʼn onverwagse draai in die Noord-Kaap het vir ʼn ekstra provinsie op sy kaart gesorg.

Op sy Mahindra-trekker, waarvoor hy vandag uiters dankbaar is, het hy, “shaken, but not stirred,” op Saterdag 15 Julie uiteindelik weer in Witrivier aangekom, waar tientalle motors en geesdriftige ondersteuners op hom gewag het.

Hy staan aan’t stuur van Pediatric Care Africa, ʼn nie-winsgerigte organisasie, wat hul daaraan wy om mediese sorg en ander nodige prosedures aan kinders te voorsien wat nie geldelik daartoe in staat is om dit self te bekom nie.

Met sy jaarlikse landwye motorfietsrit, wat hy vroeër vanjaar aangepak het, het hy geld ingesamel om algemene nood aan te spreek. Met die trekkerrit, word die geld aan spesifieke kinders met spesifieke mediese toestande toegeken.

(Foto: verskaf)

Die kinders wat deur dié trekkerrit gehelp gaan word, het toestande wat van hartprobleme tot brandwonde strek.

Alhoewel Hattingh nie sy aanvanklike mikpunt van R1 miljoen kon bereik nie, kon hy sowat R250 000 vir die kinders se operasies insamel.

“Ons is steeds ongelooflik dankbaar. Die mense wat ons langs die pad ontmoet het, hul goedhartigheid, kan nie met enige geld vergelyk word nie.”

Pediatric Care Africa sal deur die loop van die jaar verdere geldinsamelingsgeleenthede, soos gholfdae en feeste, van stapel stuur om die res van die nodige fondse vir die operasies in te samel.

“Ons beoog om drie kinders met broodnodige operasies te voorsien. Ons het belowe, en sal dus enigiets in ons vermoë doen om daardie operasies te laat gebeur.”

Hattingh was dankbaar vir die inwoners van elke dorp waardeur hy gery het. (Foto: verskaf)

Hattingh het deur dorpe en stede soos Witrivier, Lydenburg, Burgersfort, Mokopane, Thabazimbi, Koster, Wolmaransstad, Hartswater, Winburg, Clarens, Colenso, Vryheid, Dundee, Piet Retief en Badplaas gery.

Hy skerts dat terwyl die Gautengers in die sneeu baljaar het, het hy net die ongelooflike koue van die streke waardeur hy gery het, beleef. Hy het egter opnuut ʼn waardering vir Suid-Afrika se skoonheid, veral in die winter, gekry.

“Dit was koud, maar sjoe, dit was mooi.”

Dit was vir hom ʼn hoogtepunt om deur sy grootworddorp, Koster, in Noordwes te reis.

Tydens sy kuiertjie in dié dorp, het hy nie net ou maats vir die eerste keer in jare gesien nie, maar het hy ook die geleentheid gehad om saam met ʼn oudonderwyser van hom te kuier.

Dié onderwyser, vertel Hattingh, het nie net ʼn reuserol in sy vormingsjare gespeel nie, maar was ook die een wat gehelp het om vir hom ʼn studiebeurs te reël. Sonder dié beurs, sou Hattingh nie medies kon gaan studeer het of gedoen het wat hy vandag doen nie.

(Foto: verskaf)

In eg Suid-Afrikaanse styl, is Hattingh en die groep mense saam met wie hy gereis het net buite Thabazimbi deur ʼn plaaslike inwoner ingewag. Hy het nie net vir hulle genoeg vleis gegee om te braai nie, maar het hulle ook voorsien van die res van die braaibenodigdhede, soos hout en vuurhoutjies.

“Dit was ongelooflik. Ek kon dit nie glo nie.”

Met sy reistog het Hattingh ook gehoop om bewustheid oor plaasmoorde te skep, iets waarin hy geslaag het. Een van sy groot doelwitte was om met mense in die buiteland daaroor te gesels.

“Ek het vier keer met mense in Australië en drie keer met mense in Nederland gesels,” vertel hy trots.

“Boere is stelselmatig besig om meer en meer in die buiteland te begin werk. As ons nie boere het nie, gaan daar hongersnood en chaos wees. Ons het hulle baie meer nodig as wat hulle ons het.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.