Donasies stroom in vir jong seun en sy hond

Ethan en Leo (Foto: Verskaf)

Toe Ethan Martins, ’n 14-jarige seun van Krugersdorp aan die Wes-Rand, hoor hy sal dalk sy beste hondevriend moet agterlaat wanneer sy gesin eersdaags na Nieu-Seeland emigreer, het dié tienerseun geweet hy sal ’n plan moet maak.

Hy het dadelik sy entrepreneursvaardighede ingespan om die nodige geld te probeer insamel om vir Leo, ’n Jack Russel-kruising, saam te neem wanneer die gesin Suid-Afrika einde Julie verlaat.

Adriaan Martins, Ethan se pa, het Dinsdag aan Maroela Media gesê hy sal binnekort na Auckland vertrek om sy nuwe werk daar te begin. Die besluit om te emigreer was egter bittersoet vir die gesin, aangesien dit hulle ’n enorme bedrag van ongeveer R40 000 sal kos om vir Leo saam te trek.

Die gedagte om Leo agter te laat was vir Ethan ondenkbaar omdat Leo in ’n kort tydjie sy beste vriend geword het.

Leo (Foto: Verskaf)

Volgens Adriaan het Leo sowat ’n jaar gelede deel geword van die Martins-gesin nadat hy op Facebook gesien het iemand soek ’n huis vir ’n verwaarloosde hondjie van Maraisburg in Roodepoort.

“Leo se magie was baie geswel toe ons hom gekry het omdat hy net van tee en droë brood geleef het. Ons het hom ingeneem om hom tydelik te versorg. Nou is Leo al deel van die gesin,” vertel Adriaan.

Ethan en Leo doen omtrent als saam. “Hulle is groot maats. Hulle gaan stap elke middag saam in die veld en Leo slaap selfs in Ethan se bed.”

Ethan het as doelgerigte jong entrepreneur planne beraam om geld in te samel sodat Leo nie hoef agter te bly nie. Hy het begin om oor naweke by sy pa se heuningstalletjie by vlooimarkte uit te help.

By een van die markte het hulle paaie met ’n entrepreneur van Pretoria-Oos, Brett Potgieter, gekruis. Potgieter was baie beïndruk met Ethan se verkoopsvernuf en wou hom betrek by die verkope van sy eie produk. Dié produk, Increda-peg, is ’n veeldoelige wasgoedpennetjie wat gemaak word uit herwinbare materiaal.

Adriaan vertel opgewonde hoe Ethan die afgelope naweek weer omtrent R500 verdien het uit die verkope van hierdie wasgoedpennetjies. “Die Here het vir ons ’n deur oopgemaak die dag toe ons vir Brett ontmoet het,” sê Adriaan.

Ethan die jong entrepreneur (Foto: Verskaf)

Volgens Adriaan is Ethan ’n fantastiese verkoopsman. “My hart is om vir Ethan deur hierdie proses ’n ander lewensles te leer. Ek wil die saadjie in hom plant om op sy eie twee voete te staan en ook vir homself te kan voorsien. Ek sien hoe hy daagliks groei en selfvertroue opbou met die verkope van die wasgoedpennetjies. Ek sien ook hoe hy leer om verskillende mense te hanteer,” sê hy.

Ethan se ouers help waar hulle kan om genoeg geld in te samel om Ethan se droom om Leo saam te neem te verwesenlik. Hulle het ’n fonds gestig waar die publiek kan help met finansiële bydraes.

“Ons is verstom oor die mense se bydraes. Sondag het iemand ’n skenking van R5 000 gedoen en gisteraand het ons ’n astronomiese bedrag van R15 000 van iemand van die buiteland af ontvang,” sê ’n dankbare Adriaan.

Hoewel hulle nog net die helfte van die R40 000 ontvang het, het hulle nou meer hoop as tevore dat hulle die R40 000 betyds sal kan insamel.

Volgens Adriaan is hierdie tyd vir hulle hele gesin ’n groot leerproses. “Die Here is goed vir ons en alles sal uitwerk soos dit moet.”

Bydraes vir Ethan en Leo kan hier gemaak word: https://gogetfunding.com/ethan-leo/

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Huile ek nou ·

Daar is geen manier hoe daai gesiggie kon agterbly nie, ek is so bly hulle kom reg ?

Andries Visagie ·

Ethan, jy sal nog beloon word. Iemand met ‘n hart vir diere verdien net die beste.

Leser ·

Daar is geen beter vriend as ‘n hond nie. Ethan, ek is seker jy sal jou beste maat kan saamneem! Sterkte met jou verkope.

anke ·

daar is geen manier dat daai brakkie kan agterbly nie. Ek hoop jy kry al die geld wat nodig is, Ethan. Sterkte aan julle met die nuwe begin in ‘n nuwe land. Wens ek kon ook. Weens my gestremde kind word ek in geen land verwelkom nie.

Jane ·

SEUN JY IS BETER AS 99% VAN DIE EMIGRANTE wat hulle honde dump in die veld of in die leë huis agterlaat of sommer oor die muur gooi by die SPCA net omdat hulle nie ‘n plan met hulle honde VOORAF gemaak het nie maar wag tot die laaste dag en dan dink mense wil die honde VERNIET he . ek haal my HOED vir jou af en ek hoop jy kan jou baba saamvat .. STERKTE vir julle !!

Lee ·

Dis nou ‘n MOOI storie. Ek is sommer hartseer en bly tegelyke tyd.
As dit my woef-kind is sou ek ook ‘n plan MOES maak !!
Ek gaan beslis ‘n geldjie vir hom inbetaal.
Mag Ethan en sy vriendjie Leo net goeie en gelukkige tye saam hê in die nuwe land.

Sterkte

Andre ·

Hierdie jongman se hart en kop is op die regte plek . Met so n houding so hy ver kom .

A ·

Wow het nou op Go get funding gaan loer. Die hele R40000.00 is klaar ingesamel. So bly vir Ethan en Leo

Sann ·

Só bly vir Ethan en Leo. Jy is ‘n yster, ou seun! Ons diere is een van die vernaamste redes waarom ons ook nogsteeds hier sit.

Wilma ·

Oe my oë natgehuil..wat n oulike seun. Sy liefde vir sy viervoetige maat. Mag hul nog baie gelukkige jare saamhe.

Foxi ·

Nou kyk….hier is nou vir jou n wonderlike verhaal. Dis hoe n mens moet voel oor diere…liefde….nogmaals liefde.
Vandag is Maroela nuus vir my uitstekend! Mooi stories, belangrike nuus ensv.
Mag hierdie seuntjie elke sent ontvang vir sy 4 bene vriend!

Sarie Pieterse ·

Dankbaar vir mense wat nog omgee vir diere !!!!! Dankie Dankie ons self het 4 viervoetige kinders Dis net liefde!!!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.