Donateurs maak harte oop vir studente in Noord-Kaap

Skape in die Noord-Kaap word gevoer weens die uitmergelende en voortslepende droogte. (Argieffoto: Elaine Krige)

Helpende Hand se Studietrust het aangekondig dat hy 26 studente van wie die ouers op plase in die droogste gebiede in die Noord-Kaap woon, elk met R50 000 se studiegeld gaan help.

Volgens Stefan Pieterse, hoof van Helpende Hand se Studietrust, is dié organisasie oorval met steun oor die feesseisoen om hierdie studente te help wie se ouers tans in nood verkeer.

“Die steun was oorweldigend en ʼn goeie bewys van die vertroue wat die publiek in Solidariteit Helpende Hand plaas om armoede op ʼn gestruktureerde wyse te beveg,” het Pieterse gesê.

Nog ʼn verdere 96 skoolkinders uit dié gebied sal ook met R3 242 elk gehelp word, wat direk aan die leerders se skoolkoshuise uitbetaal sal word.

Maroela Media het vroeër berig ʼn proses is aan die gang gesit om die provinsie weens die moordende droogte tot ʼn rampgebied te verklaar.

Volgens Willie Aucamp, ʼn DA-lid in die Nasionale Raad van Provinsies, sal meer as R600 miljoen nodig wees om die uitwerking van die vyf jaar lange droogte in dié gebied te verlig. Hy meen ook minstens 60 000 werksgeleenthede is tans op die spel.

Pieters het gesê sy organisasie het in November reeds meer as R2,1 miljoen se aansoeke vir agterstallige koshuis- en skoolgeld ontvang. Die meeste aansoeke het uit Namakwaland, Kakamas, Prieska en Williston gekom.

Dit het Helpende Hand in November genoop om ʼn Droogtehulp Studiefonds te stig om seker te maak dat hierdie kinders op skool, en veral in hulle koshuise, kan aanbly tot die droogtekrisis verby is.

“Om ʼn boer te sien wat bakhand staan omdat hy nie sy kind se skool- en koshuisgeld kan betaal nie, is hartverskeurend. Daarom doen ons graag ʼn beroep op die korporatiewe bedryf, asook elke lid van die publiek, om hierdie boere en hul kinders in ʼn baie donker tyd by te staan,” het Pieterse gesê.

Hannes Noëth, uitvoerende direkteur van Helpende Hand, voeg by dat mense nie oor die droogte beheer het nie, hoewel die gevolge van so ʼn droogte kan wel deur mense bestuur word.

“Ons kan nie besluit wanneer dit reën nie, maar ons kan sorg dat die kinders aanhou studeer totdat dit weer reën,” het Noëth gesê.

Pieterse het bygevoeg dat Helpende Hand se studietrust die publiek en korporatiewe Suid-Afrika wil bedank vir hul bydraes oor die feesseisoen. “Lesers wat nog tot die fonds wil bydra kan Helpende Hand se webwerf vir meer inligting oor die projek besoek.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

4 Kommentare

jongste oudste gewildste
Studente Ouer

Ek is sooo bly en dankbaar hieroor!!!!
Baie baie dankie!!!!!

Veer

Dis amazing, ek het so gebid dat iemand aan die kinders ook sal dink! God is groot!

Budgie

“Donateurs” … ons arme taal ….

Charles

Welgedaan skenkers – ek was een! ‘n Boer maak ‘n plan!

Ek ondersteun jou 100% Budgie – Hou op!!!!!! om ons taal te verkrag!!!!!!