‘Doodsvonnis’‑diagnose laat digter triomfeer

Deur Linette Retief

Dokters het gesê Jonathan Groenewald sou net tot die ouderdom van vyf leef, maar 30 jaar later leef hy steeds ʼn merkwaardige lewe. (Foto: Verskaf)

ʼn Mediese diagnose wat vir die meeste mense ʼn doodsvonnis sou wees, was vir Jonathan Groenewald (33) net nog meer rede om te triomfeer.

Dokters het destyds toe hy net twee jaar oud was vir sy ouers gesê dat hy net nog drie jaar sou leef. Drie dekades later laat hy steeds medici op hul neuse kyk.

Die 33-jarige kletsrymer-digter-ambassadeur vir gestremdes, ook bekend as 2Jay Harmonix, is as kleuter met spierdistrofie gediagnoseer. Dié siekte het sy liggaam verlam, sy groei belemmer en sy been- en spiermassa weggevreet.

Jonathan se mond is een van die min liggaamsdele wat hy nog kan beweeg nadat die spierdistrofie 98% van sy motoriese vaardighede uitgewis het. Dis juis dít wat hierdie sonderlinge man gebruik om uitsluitlik in een rigting te beweeg: vorentoe.

En dié missie is ook op sy arm getatoeëer, ʼn ewige herinnering aan sy aardse doel.

Vandag is Jonathan nie net ʼn kletsrymkunstenaar wat al by ʼn Bulls vs. Stormers‑wedstryd by Loftus opgetree het nie. Hy is ook ʼn motiveringspreker en ʼn trotse Loslitdag- en Doekdraf-ambassadeur vir die Nasionale Raad vir en van Persone met Gestremdhede (NCPD).

Boonop is Jonathan ook ʼn liriekskrywer wat in 2015 sy debuutalbum Motivational bekendgestel het. Sy liriekbundel Lyrix is onlangs vrygestel en hy is tans besig met sy nuwe album Throne On Wheels.

Sy missie in die lewe is op sy arm getatoeëer, ʼn ewige herinnering aan sy aardse doel. (Foto: Verskaf)

Van introvert tot uitskieter

Jonathan vertel hy was vroeër ʼn introvert sonder vriende. Daarom het hy begin om sy emosies in die vorm van aggressie-belaaide lirieke neer te skryf as ʼn manier om uiting aan sy negatiewe lewensuitkyk te gee.

Dié uitlaatklep het sy passie geword en hom gou uit sy dop laat kruip. Sy emosies en kreatiwiteit vind nou uitdrukking tydens poësie-sessies.

Deesdae, sê hy, dra sy musiek ʼn meer positiewe boodskap. Dit handel oor die bittersoet lewe van die gestremde kunstenaar en die menslike instink om teëspoed te bowe te kom. Kyk ʼn mens na die duisende mense landwyd wat voortdurend deur hom geïnspireer en gemobiliseer word, is dit beslis ʼn boodskap wat aanklank vind.

Te oordeel aan Jonathan se lys prestasies en vrywilligerswerk – van sy optredes by musiekfeeste en poësiegeleenthede, sy ambassadeurswerk vir die NCPD en die Spierdistrofievereniging tot by sy motiveringspraatjies – blyk dit eweneens duidelik deel van dié sonderlinge man se plan is ʼn reis wat nog ver van klaar is.

Vir Jonathan Groenewald is daar net een rigting om te beweeg en dit is vorentoe. (Foto: Verskaf)

Wat vir Jonathan aan die gang hou, sê hy, is sy oortuiging dat sy gestremdheid nie beter of slegter as enigiemand anders sʼn is nie. “Ek kan nie daaroor huil terwyl die wêreld aangaan nie. Ek moes besluit: gaan ek volg, lei of agterbly, en die antwoord is dat ek sal volg sodat ek kan leer om te lei en elke struikelblok wat ek in die gesig staar sal platslaan.”

So lui sy oproep tot aksie vir homself en ʼn groeiende aantal volgelinge, insluitend die twee busse vol bewonderaars van heinde en verre wat onlangs die bekendstelling van Lyrix bygewoon het.

Jonathan se bundel, Lyrix, is onlangs by die Pierneefteater bekendgestel as deel van die NCPD se jeugmaandprogram wat ook op inklusiewe werkskepping, ondernemingsontwikkeling en selfverteenwoordiging gefokus het. Lyrix is Jonathan se tweede bundel wat deur Fanie Marais se Cordis Trust geborg word en dit is die eerste een waarin hy al die liedjies self geskryf het.

Die Pierneefteater in Villieria, Pretoria, is die enigste teater in Gauteng wat toeganklik is vir persone met fisiese gestremdhede.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Maria ·

Ek is ook gestremd wil vir jou se baie…baie… trots op jou en hou aan HOOP!

Magaretha van heerden ·

Jammer vir hom en bly vir wat hy bereik. Wil net byvoeg geen mens se aardse doel is om n motiveerder te wees nie. Ons almal se doel is om God te vereer. Kyk gerus na David Ring se verhaal.

Jozi ·

Daar is soveel maniere waarop ons nietige wesens ons Hemelse Vader kan vereer.
Maar ek glo ons is almal uniek, en doen dit op ons eie manier.
Al wat ek kan sê is dat wanneer ons God se liefde in ons binneste ervaar gaan dit na buite vloei.
Dit is dan, wanneer ons deur die krag en die leiding van die Heilige Gees, die mense wat elke liewe dag op ons pad kom se lewens sal wil aanraak – en hier verwys ek nie na “Bible Bashing” nie.
Is ons nie juis daar om mekaar te dra, te ondersteun en te motiveer nie?

My mening ·

Wat n voorbeeld vir ons almal wat so onnodig oor dinge kan kla. Ons moet eerder dankbaar wees vir alles wat ons het.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.