Doofgebore tweeling kan op 21 uiteindelik hoor

Melissa en Shanice Lewis (Foto: Verskaf)

Vir langer as twee dekades het gehoorgestremdheid meeste van hul lewe oorskadu, maar dié maand sien ʼn 21-jarige tweeling van Suid-Afrika vir die eerste keer sedert hulle geboorte daarna uit om “voluit te leef”.

Melissa en Shanice Lewis sê hulle lewe het dié maand onherroeplik verander nadat ʼn anonieme skenker kogleêre inplantings vir hulle moontlik gemaak het.

Die tweeling het sedert tweejarige ouderdom van gehoorapparate gebruik gemaak, maar omdat hulle gehoor met ouderdom toenemend verswak het, was gehoorapparate nie meer voldoende nie. Kogleêre inplantings sou die enigste manier wees om beide jong vroue weer te laat hoor, maar die finansies vir só ʼn operasie was nooit beskikbaar nie.

Gary Lewis, die tweeling se pa, vertel Dinsdag aan Maroela Media sy dogters se lewe het ʼn maand ná die operasie ingrypend verander. “Dit was wonderlik om hulle reaksie te sien toe die inplantings die eerste keer aangeskakel is,” vertel Gary.

“Shanice kon onmiddellik mooi hoor. Sy het net gesê: ‘Sjoe, dit is wonderlik.’ Sy was oorstelp met emosies. Melissa kon nie onmiddellik dieselfde frekwensies hoor nie, maar die dokters het mooi verduidelik dat dié inplantings ʼn proses is. Dit sal dermate harder gestel word tot hulle volkome kan hoor en in die tussentyd moet hulle eers gewoond raak aan die verskillende klanke wat hulle nog nooit voorheen kon hoor nie.”

Melissa en Shanice Lewis na die operasie (Foto: Verskaf)

Die tweeling was onlangs vir die tweede verstelling van inplantings waartydens Melissa se gehoor volgens haar pa drasties verbeter het. “Sy het gesê sy kan nie glo watter ongelooflike verskil te maak nie. Dit is ʼn wonderlike voorreg,” sê hy.

Melissa en Shanice het glo gróót planne vir die toekoms. “Melissa begin binnekort in ʼn nuwe pos nadat sy vroeër by haar verloofde in Swakopmund in Namibië aangesluit het. Shanice werk saam met ʼn tutor in Kaapstad wat haar al die nuanses van dié nuwe lewe met klank leer en haar met spraakterapie en ander ontwikkelingsoefeninge help voordat sy ook aan haar eie loopbaan gaan begin bou. Dis opwindende tye vir beide van hulle.”

Erika Basson, bestuurder van die Kinders met Gehoorverlies in Suider-Afrika-stigting, sê nagenoeg 5% van die wêreld se bevolking ly aan gevorderde gehoorgestremdheid en nóg duisende ander verloor jaarliks hul gehoor.

Basson sê kogleêre inplantings kan in meeste gevalle dié gehoorgestremdes se lewe verryk, maar dié operasie is vir meeste onbekostigbaar.

Afhangend van die toestel wat gebruik word, kos só ʼn inplanting tussen R250 000 tot R400 000 vir ʼn enkele kogleêre toestel.

Die Kinders met Gehoorverlies in Suider-Afrika-stigting samel juis fondse in om gehoorgestremdes landwyd te help om dié operasies te bekostig. “Sonder hierdie skenkings sal dié operasie vir honderde net ʼn droom bly,” sê sy.

Die proses om die kogleêre inplantings ten volle by ʼn individu se behoeftes te laat pas neem sowat 12 maande. Vir meer inligting, besoek die Kinders met Gehoorverlies in Suider-Afrika-stigting hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Adriaan Kraftt. ·

Hello Melissa en Shanice. Baie geluk met die gehoor. Groete van Shane. Onthou julle Pilanssberg kamp en Sun Sity. Groete vir julle Gery en Brenda ook.

leser ·

‘n familielid van my was na ‘n operasie doof op ‘n 2 jarige ouderdom
hy het ‘n kogleêre inplanting op 11 jarige ouderdom gekry
wat ‘n wonderlike gesig toe die toestel aangeskakel is en hy kon geluide hoor

Groete ·

Vreemd dat die staat met AIDS help en miljoene ‘n jaar daaraan spandeer maar nie met mense wat doofheid het nie .. dit bly onregverdig, hulle het ook nie gekies om so gebore te word nie en min mense het daardie tipe geld om vir ‘n kogleere inplanting te betaal. Baie dankie aan die anonieme skenker, ek hoop daar is nog baie mense at anoniem sal skenk vir hierdie wonderlike daad.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.