Dorinda se suksesverhaal: Van kolwyntjieverkoper tot entrepreneur

Dorinda Maritz en Lindie Strydom toe Dorinda nog muffins verkoop het. (Foto: Lindie Strydom/Facebook)

“Waar daar donker is, is daar lig. Bly net op die lig, die silwer randjie van elke donker wolk fokus.”

Só het Dorinda Maritz, entrepreneur en ma, oor haar lewensuitkyk aan Maroela Media vertel.

’n Verbrokkelde huwelik, skokdiagnose en onverwagse afdanking het nie ’n stokkie voor Dorinda en haar toekomsplanne gesteek nie. Maar sy was nie altyd só positief oor die lewe nie, erken Dorinda.

“Ek was een van daardie mense wat gedink het dat niemand omgee nie, dat almal teen my was.”

Tog het dit net ’n handjievol mense gekos om Dorinda waarlik raak te sien en haar ’n hupstoot te gee na haar eie paadjie van sukses.

Met ’n tas in die hand en haar seun, wat in daardie stadium nog in doeke was, op haar heup, het Dorinda in 2011 op ’n bus geklim. Dit was ná die verbrokkeling van haar huwelik, sy was gereed om Tzaneen vaarwel toe te roep en ’n nuwe lewe in Gauteng te begin.

Sy het gespook om die pot aan die kook te hou. Haar seun, nou 11, was nog altyd haar dryfkrag en hy was die een waarop sy haar fokus geplaas het.

Voordat sy uiteindelik werk in Pretoria gekry het, het sy jare as karwag in Meyerton gewerk.

“Ek is met hartversaking gediagnoseer en is afgedank omdat ek so baie dokter toe moes gaan.”

Nog ’n terugslag.

Toe ’n vriendin voorstel dat sy moet bedel om kos op die tafel te sit, het Dorinda volstrek geweier.

“Ek het geweet dat dit nooit gaan gebeur nie,” onthou sy.

“Dis toe ek muffins begin bak en verkoop het.”

Dit is ook hoe die Egoli-aktrise, Lindie Strydom, se paaie vir die eerste keer met Dorinda s’n in 2019 gekruis het.

Dorinda Maritz het vir ‘n wyle muffins verkoop. (Foto: Lindie Strydom/Facebook)

Lindie se man, Johann, het in daardie stadium nog in Silverton gewerk. Soggens het hy verby Dorinda gery, dit het tradisie geword dat hy elke oggend ’n muffin by haar sou koop.

“Hy het altyd sy hand uitgehou wanneer hy verbygery het,” vertel Dorinda laggend.

Lindie het aan Maroela Media vertel dat haar man tóé al geweet het dat daar iets spesiaals in Dorinda steek.

“Ek het nog altyd gesê dat sy oë anders na mense kyk,” het Lindie gesê.

“Ek delf dalk diep met die fyn besonderhede, maar dit gaan daaroor om iemand raak te sien, om nie self te besluit wat iemand se storie is nie.”

Lindie, wat in daardie stadium nog vir die Gautengse gemeenskapradiostasie GrootFM gewerk het en by talle projekte betrokke was, het deur haar man van Dorinda te hore gekom. Toe Lindie ’n Kersete moes reël, het sy geweet dat sy by Dorinda gaan aanklop vir muffins, nie net om haar te ondersteun nie, maar om meer uit te vind oor die moedige vrou wat langs die pad staan en muffins verkoop.

Die muffins wat Dorinda nie op daardie betrokke dag kon verkoop nie, het sy dikwels aan haweloses uitgedeel.

Covid-19 het Dorinda se wortels weer los laat skiet. Sy en haar seun moes noodgedwonge na ’n kleinhoewe trek. Weens gesondheidsredes kon sy ook nie daagliks so lank in die son staan nie.

Hier het sy weer plan gemaak om kos op die tafel te sit. Dorinda het allerhande goedere gekoop, dikwels herstel en dan weer herverkoop. Die eerste hiervan, onthou Dorinda, was ’n bromponie. Dié kon sy slegs aankoop met die hulp van engele, soos wat sy hulle beskryf.

“Ek weet tot vandag toe nie wie dit was nie, maar iemand het vir my geld ingesamel en R20 000 geskenk. Daarmee het ek die eerste bromponie gekoop. Ons kon dit regmaak en weer verkoop.”

Dorinda Maritz het pas die eerste voertuig vir haar sakeonderneming gekoop. (Foto: verskaf)

Dorinda het egter veel groter drome gekoester. Sy wou meer doen as geld verdien, sy wou ’n bron van bemagtiging vir haarself en vir mense rondom haar word.

Deur dié koop-en-verkoop-onderneming het Dorinda R5 000 gespaar; sy wou ’n kursus in yskasherstelwerk voltooi. Sy het egter R15 000 tekort geskiet.

In Augustus 2020, tydens ’n gesprek oor vroue-entrepreneurs by GrootFM, het Lindie dadelik aan Dorinda gedink. Met die hulp van ’n borg is Dorinda se herstelwerkkursus betaal.

“Dorinda is nie iemand wat gaan lê nie,” vertel Lindie.

Sy is ook nie iemand wat bloot bakhand, afwagtend, staan nie.

“Jy kan nie net ontvang nie, jy moet bereid wees om te gee.”

Dorinda se plan om in die veld te werk, was waarskynlik nie die maklikste besluit nie, maar sy het aangehou droom en werk, want sy wou haar eie sakeonderneming op die been bring.

“Ek wou vir myself werk, van niemand afhanklik wees nie. Ek was daarop uit om mense verkeerd te bewys, te bewys dat vroue ook in dié bedryf suksesvol kan wees.”

Haar sakeonderneming, Refrigeration Ladies, verskaf vandag aan nog 10 mense werk. Dorinda vertel trots dat sy onlangs die onderneming se heel eerste bakkie kontant kon aankoop en dat hulle regdeur Limpopo herstelwerk doen.

Toe Dorinda ’n week gelede Lindie gebel het om haar oorwinningsverhaal te deel, was Lindie verstom en verheug.

“Mens kry nie altyd die geleentheid om die volle sirkel te sien nie, hoe iemand suksesvol word nie.”

Die hartversaking waarmee Dorinda twee jaar gelede gediagnoseer is, hou haar nie terug nie.

“Hulle het my vyf jaar gegee om te leef, maar dokters bepaal nie my tyd nie, die Here doen.

“Ek wil mense bemagtig. Ek het nog werk om te doen.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Harley Davidson ·

Die sukses verhaal laat my glo dat daar baie mense in dieselfde posisie is, so sou die boere saamwerk en hulle produkte deur mense soos die verkoop en die middelman uitsny kan jy huidige benaadeelde mense bemagtig en sodoende wen al die partye.

Pippie ·

Ek stem saam met jou en ek sou dit ook bitter graag wil ondersteun.

Groen Ghoen ·

Die Barmhartige Samaritaan sou trots op hierdie pragtige verhaal van ontferming wees! Confucius was reg…. “Dit is beter om ‘n kers aan te steek as om die donkerte te vloek.”

TRP ·

Ek haal my hoed vir jou af, mag jou besigheid groei van krag tot krag. Ek hou van jou geloof, jy is reg, jou lewe is in God se hande.

Henk ·

Wat ń verhaal! Dit lees soos ń boeiende spannings drama! Baie geluk met jou sukses dame, wonderlik om te hoor dat jy so opreg en eenvoudig die Here se hand in jou lewe erken. Jy was vandag op twee maniere vir mt ń voorbeeld.

Sandra ·

Ja dit is deesdae te maklik vir jong mense om op ‘n straathoek bakhand te staan om te bedel. Hulle kan gerus ‘n blaadjie uit die vrou se boekie vat wat haar volharding en weiering om bakhand te staan, neem.

Delia ·

N baie mooi verhaal vol hoop. Mag jy van krag tot krag gaan. Wonderlik

Moekie ·

Dis nou volharding! Wat ‘n mooi lewensverhaal. Mag jy geseën word met vele meer. Jy dink nie net aan jouself nie, maar help ook ander. Dis hoe inspirasie en volharding klink.

Niklaas ·

Dis ‘n mooi verhaal en so inspirerend vir almal , veral diegene wat swaarkry en depressief voel. Daars altyd hoop. Voorspoed vorentoe vir jou , dame.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.