Dowe gemeenskap se skoonhede gekroon

Marisa Smit (Mej. Doof SA), Tholang Setona (Mnr. Doof SA) en Judith Madi (Mev. Doof SA). (Foto: Verskaf)

Vanjaar se Mej. Doof SA, Mnr. Doof SA en Mev. Doof SA is die afgelope naweek tydens ʼn glansryke geleentheid by Gold Reef City in Johannesburg gekroon.

Marisa Smit het met die titel van Mej. Doof SA weggestap, terwyl Judith Madi as Mev. Doof SA gekroon is. In die mansafdeling is Tholang Setona as Mnr. Doof SA aangewys.

Dit was die vierde keer wat Smit vir dié kompetisie ingeskryf het en sy was verheug om uiteindelik met die kroon weg te stap. In dieselfde kategorie is Daniella Buckley as eerste prinses en Simone Ebersohn as tweede prinses aangewys. Dit is die tweede agtereenvolgende jaar wat Ebersohn as tweede prinses aangewys word.

Samantha Nortje is aangewys as eerste prinses in die Mev. Doof SA-kategorie, met Sasha Molouly as tweede prinses.

Vir Setona was dit ook ʼn soete vasbyt-oorwinning om as Mnr. Doof SA aangewys te word aangesien dit ook vanjaar die vierde keer was wat hy vir die kompetisie ingeskryf het. Charl Strydom is in hierdie kategorie in die tweede plek aangewys en Darren Archer in die derde plek.

Die wenners het met pryse ter waarde van meer as R20 000 weggestap.

Die organiseerders van die kompetisie verduidelik dat MDSA nie bloot ʼn skoonheidskompetisie is nie, maar dat deelnemers volgens ʼn wye verskeidenheid kriteria beoordeel word, selfs nog voordat beoordelaars hulle met ʼn oog gesien het.

“MDSA skep bewusmaking rakende die dowe gemeenskap deur hierdie kompetisie. Die kompetisie bevorder selfvertroue onder die deelnemers en het ten doel om hulle aan te spoor om deur hul inisiatiewe te presteer,” sê organiseerders in ʼn verklaring.

“’n Wonderlike manier wat ons gebruik om hul kommunikasie-, leierskap- en interaksie-vaardighede te bevorder, is deur ʼn publisiteitsweek aan te bied wat ten volle deur ons hoofborg, Tourism Friendly, geborg word en vanjaar is 29 maatskappye onder hul vaandel. Ons deelnemers word inderdaad toegerus om toekomstige leiers vir die dowe gemeenskap te wees.”

MDSA is ʼn geregistreerde niewinsgewende organisasie wat ten doel het om verskeie inisiatiewe van stapel te stuur waardeur die dowe gemeenskap bemagtig word. Die kompetisie word sedert Julie 2018 ook deur ʼn 100% dowe direksie bestuur, en spog met ʼn groeiende aantal inskrywings en borgelys.

Organiseerders hoop op volgende jaar gebaretaal werksessies in al nege provinsies in die land aan te bied om sodoende die gaping tussen dowes en horendes te oorbrug.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Lizzie ·

Ek lees nou dat die prysgeld ongeveer R20 000 was vir die wenners. Wil net vra hoekom kan hulle nie ook soos ander skoonheidskompetisies groter pryse kry nie. Ek dink byvoorbeeld aan die Mej SA kompetisie, of is daar so ‘n groot verskil tussen horende en nie horende persone wat vir skoonheidskompetisies inskryf? ek vra maar net.

Lourindia ·

Die grootste probleem is om borge te kry om hierdie kompetisie te ondersteun. Die MDSA span werk baie hard aan groter sigbaarheid om sodoende beter borgskappe te kan verkry. Hierdie jaar se pryse is die grootste in die geskiedenis van die kompetisie, die vorige jare was pryse maar klein en min

Jope ·

Dan gaan die Miss. Black SA, Miss Chinese SA en en en ook meer en meer geld wil he.

Se maar niks ·

My in siening en weet baie dowes van groot prensetasie sit sonder werk en te kort gehoorstukke wat nie mediesie fondese het nie asook tekortkoming keurses vir hulle toekoms glo waar hulle meer behoeftes nodig sal he as MDSA. So ek verstaan dowes dat deel neem moet borge versamel om deel te kan neem. Baie geluk aan almal en ek trots op julle xx

HC ·

Baie geluk, 3!!!
Ja, MDSA het baie harde gewerk!
Baie trotse op dowes se model

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.