Dr. Fransman: Oor die ‘ding’ voor haar naam

Dr Viola Fransman geniet ‘n koppie tee saam met Maroela Media. (Foto: Eunice Stoltz/Maroela Media.)

Tussen die Matroos- en Langeberg-Wes-bergreekse in De Doorns, sit Viola Fransman (48) en haar ma, Joyce, voor die rekenaar, afwagtend vir die spoggeleentheid. Die tjips en glase’tjies is netjies uitgepak, want vandag hou hulle behoorlik partytjie.

Hoewel haar virtuele gradeplegtigheid – weens die Covid-19-pandemie – maar net ʼn paar minute geduur het, is Viola dankbaar sy het ná jare se studies haar doktorsgraad in teologie aan die Noordwes-Universiteit verwerf.

Viola draai die tyd terug na die sewentigerjare, haar grootwordjare in Wellington in die Wes-Kaap, waar haar passie vir die Here en kinders háár toe reeds uitgekies het.

In ’n tweevertrek-raadshuisie deel Viola ’n kamer met haar ouma en ander kinders. Hulle is 17 wat in dié huis woon, maar sy onthou nie dat sy ooit hartseer was nie.

“Almal se huise was so, jy het nie gedink dit was vreemd nie, daar was drankmisbruik en mishandeling, maar die volwassenes het ons beskerm. Daar was altyd lag en speel. Hartseer tye was daar nie rêrig nie, jy het geweet alles sal orraait wees, maak nie saak wat nie. Ek het ’n vangnet gehad.”

In gr. 9 tydens ’n tentdiens het Viola stelselmatig meer bewus geraak van die Here se teenwoordigheid.

“Ons het maar vorentoe gegaan, want die oom het alleen daar voor gestaan en ons het hom jammer gekry, toe gaan ons nou maar. Maar die Here het van daar ’n pad met my begin stap.”

“Een Sondagmôre (ek het nog so ’n blommerok aangehad, ek sal dit nooit vergeet nie) toe kom daar so gedagte by my verby: eendag as ek groot is gaan ek sorg dat kinders nooit verveeld met die Here sal wees nie, hulle gaan leer van Hom, but they will never be bored”.

’n Kind wie gereeld by Viola inloer vir springmielies. (Foto: Eunice Stoltz/Maroela Media.)

Van daardie dag het Viola vakansieprogramme vir kinders begin fasiliteer.

“Sonder enige opleiding het ek net geweet hulle moet speel en daar moet een of ander vorm van ʼn Bybelstorie gebeur.” Op 15 raak sy betrokke by jeugwerk op plase, tot en met matriek.

“Elke keer as ek nog moes gaan studeer, het ek niks geld nie, en dan gebeur daar beurse; I still don’t know how – as ek klaar is, dan skuld ek niks nie. Ek figure dit toe later uit dit is seker maar die Here, jy weet.”

Viola het jeugwerk by die Hugenote Kollege in Wellington studeer waartydens sy ook teologie as vak moes neem.

“Ek weet nie waarom ek so ver in teologie studeer het nie, dit het my die meeste laat stoei op kollege. Ek studeer jeugwerk, toe gee hulle dit [teologie] vir my. My eerste en enigste hereksamen was oor dit. En hier het ek nou ver met dit gegaan.”

Sedertdien het Viola haar honneurs-, magister- en, tot meer onlangs, haar doktorsgraad in teologie verwerf.

Tussendeur haar studies het sy by verskeie sendingorganisasies dienswerk onder meestal volwassenes gedoen – van Windhoek in Namibië tot Rawsonville terug in die Wes-Kaap, en eindelik De Doorns.

In die laat 1990’s het Viola haar belofte daardie dag tydens Sondagskool onthou; wanneer sy eendag groot is, gaan sy sorg dat kinders van die Here leer.

Op ’n dag sê iemand vir haar dat as sy so graag met kinders wil werk, sy by die Petra Instituut moet aansluit. Dié instituut is in 1989 deur wyle ds. Johan du Preez, erkende joernalis Max du Preez se broer, gestig en het destyds geheet die Kinderevangeliste Opleidingsinstituut (KEO).

Met hul hoofkantore in Witrivier, Mpumalanga, moes Viola die Wes-Kaap vir drie maande verlaat om haar opleiding te voltooi. Tydens haar opleiding in 1997 is ds. Johan du Preez in ’n noodlottige motorongeluk oorlede en het sy saam met dié instituut die rouproses van hul mentor en stigterslid deurgemaak.

Ná drie maande, wat sy beskryf as “lewensveranderend” is sy terug na De Doorns waar sy op plase aan volwassenes opleiding in kinderbediening gegee het.

Haar betrokkenheid by die Petra Instituut en haar studies het haar nader en nader aan kinders in De Doorns gelei. Soveel so dat haar doktorsgraad juis oor mentorskap onder jeug in spesifiek die Hexrivier-vallei gehandel het. Hier dink sy terug aan die vangnet wat sy as kind gehad het, en die gebrek daarvan onder groot getalle kinders se lewens vandag.

Maar wat nou van die doktorsgraad?

“Die situasie-analise van De Doorns tydens my studies het my baie geleer. Ek het geweet hier is enkelma’s, maar ek het nie geweet daar is so baie nie. Ek het geweet mense ontvang staatstoelae, maar ek het nooit geweet dit is wat die ekonomie van swart- en bruin mense aan die gang hou in De Doorns nie.”

Die doktorsgraad wat Viola vanjaar verwerf het. (Foto: Eunice Stoltz/Maroela Media.)

Viola het ook tot die besef gekom hoeveel kinders sonder die teenwoordigheid van ouers grootword.

“Seisoentyd in De Doorns is almal in die stoor, ma en pa en almal. Van September tot April maak kinders hulself groot. Dan wonder ons hoekom doen daai kinders sleg op skool, hoekom gaan so min van hulle universiteit toe, want vanaf gr. R tot matriek kyk jy vir ses maande elke jaar na jouself, dit is sewe en ’n half jare waar kinders na hulself moet kyk; daar is geen vangnet wat hulle kan vang nie.”

Viola is ernstig wanneer sy haarself afvra nadat sy in diepte van die uitdagings in De Doorns geleer het: “Gaan dit nou net sleg bly of wat gaan jy daarmee maak?”

Volgens haar is daar baie goed wat gedoen moet word. Een daarvan is om mentors vir kinders te kry, selfs vanaf ’n jong ouderdom.

Terwyl Viola haar toespits om volwassenes op te lei in spesifiek kinderbediening, is dit haar doel om aan kinders waardigheid te gee. Nou, met die ding voor haar naam, as dr. Fransman, maak sy dit haar werk om die vensters en gordyne oop te trek, “so that you can see.

“En as ek iets doen, dan laat ek jou my join, al is dit net ’n klein dingetjie. Hier kom kinders by my huis aan wat al agt en nege is, dan het hulle nog nie deur die [Huguenote] tonnel gery nie, of die movies in Worcester ervaar nie, hulle het nog nie ’n roomys geëet in ’n restaurant nie, of net lughawe toe gegaan om te sien hoe styg ’n vliegtuig op nie, hulle sien net hy vlieg hier oor…”

Niemand trek die gordyn vir hulle weg dat hulle kan sien nie.

“Ek maak ’n punt daarvan: waarmee ek ook al besig is, as een van die kinders daar verbykom, join hulle my. As ek Coke-hoender maak, of pannekoek of cupcakes, is daar ’n kind op ’n stoel wat kyk en proe. Of ek maak popcorn en gee vir elkeen ’n hand. Ons strooi versiersuiker oor, dan is als net wit.”

“Ek het nie klomp geld nie, maar ek help hulle om te glo. Want daar was mense wat my gehelp het en gesê het, “You can be anything!”

Dr. Viola Fransman buite haar woning in De Doorns. (Foto: Eunice Stoltz/Maroela Media.)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

anniekiewiet ·

Wonderlik! Mag jou lewe in Christus aan elkeen wys en jy oorvloedig kans kry om God se Naam oral uit te dra. Baie geluk!

Stof ·

Met groot respek aan hierdie dienswille gestuurde, wens ek haar guns op haar werk toe. Mag sy vele siele toevoeg tot ons ewige bestemming.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.