Dr. Kobus Neethling, die wêreldbekende kreatiwiteitskenner en president van die Suid-Afrikaanse Kreatiwiteitstigting, is bekend vir sy noemenswaardige bydrae tot die veld van kreatiwiteit en innovasie. Hy is onlangs met die Paul Torrance‑ lewenslange kreatiwiteitsprys vereer as kreatiwiteitspesialis van die jaar.
Neethling is die eerste ontvanger van dié internasionale toekenning en vind dit besonders omdat dit die eerste keer is wat ’n lewenslange toekenning vir kreatiwiteit aan iemand toegeken word. “Wat dit vir my persoonlik besonders maak, is dat dit aan die sielkundige Paul Torrance se naam gekoppel word, en hy was ’n besonderse figuur in my lewe,” sê Neethling.
Neethling het vir byna twintig jaar onder Torrance as sy mentor gewerk en ’n noue band met hom gehad. Hy het sy meestersgraad aan die Universiteit van Georgia voltooi en later ’n na-doktoraal in die temas van identifikasie en uitbouing van kreatiwiteit voltooi. Dit is hier waar die kreatiwiteitsgogga vir Neethling begin byt het.
Paul Torrance word beskou as die vader van moderne kreatiwiteit in die twintigste eeu. Moderne kreatiwiteit is in die vyftigerjare gebore, wat tot die ontstaan van konsepte soos “dinkskrum” (brainstorming) en “kreatiewe probleemoplossing” gelei het. Dit is Torrance se baanbrekerswerk in moderne kreatiwiteit wat ’n groot impak op Neethling se studies van die heelbrein en breinprofiele waarby agt dimensies geïnkorporeer is, gehad het. “Ek sien my lewe as ’n lewe voor kreatiwiteit en ’n lewe na kreatiwiteit,” sê Torrance.
Volgens Neethling is dit moeilik om een definisie aan die konsep van kreatiwiteit se koppel. Hy beskryf dit wel as die vermoë om iets nuuts te kan skep deur twee items, wat glad nie bymekaar hoort nie, te plaas. “Op skool is ons geleer alles kom in aparte pakkies – soos byvoorbeeld die vak geskiedenis kom in een pakkie, terwyl wiskunde as vak in ’n aparte pakkie kom. Alles is eintlik verbind met mekaar. En kreatiwiteit laat jou toe om verskillende dinge met mekaar te verbind en iets wonderliks te skep.”
Neethling vertel die mensdom het nog altyd ’n eng uitkyk oor kreatiwiteit en die beskrywing daarvan gehad. “Daar is duisende vorme van kreatiwiteit. Kreatiwiteit is byvoorbeeld nie net kuns nie. Kuns is slegs een vorm van kreatiwiteit. Jy kan kreatief wees op die wyse hoe jy mense hanteer. Of jy kan as onderwyser jou klaskamer met andersheid of oorspronklikheid benader,” vertel Neethling.
Omstandighede in die werksplek kan verbeter indien mense mekaar se verskillende vorme van kreatiwiteit begin respekteer, sê Neethling. “Een vorm van kreatiwiteit is nie beter as ’n ander een nie. Elkeen het voorkeure en ons moet mekaar se voorkeure respekteer om goed in ’n span te kan saamwerk. Gebruik eerder mekaar se verskille om sukses as ’n span te behaal.”
Alhoewel kreatiwiteit vandag ʼn gesogste vaardigheid in enige werk- of skoolomgewing is, meen Neethling daar is steeds ’n gebrek aan kreatiwiteit en die bevordering van verskillende vorme van kreatiwiteit in skoolopleiding. “Onderwysers moet kyk hoe hulle hul vakke meer kreatief of skeppend kan maak sodat dit meer relevant tot vandag se lewe is. Onderwysers moet die verskillende vorme van kreatiwiteit aanspreek,” sê Neethling.
Neethling is ook die hoof van die Kobus Neethling Instituut wat wêreldkenners op die gebied van kreatiwiteit en heelbreininstrumente is. Neethling staan bekend vir sy 8-dimensie-breininstrument wat hy in die negentigerjare ontwikkel het om te bepaal waar jou sterkpunte in kreatiwiteit lê – dus om te bepaal wat jou vorm van kreatiwiteit is. Op grond van hierdie model kan kreatiwiteit ook op enige ouderdom aangeleer of verbeter word, sê Neethling.
Vir Neethling is die geheim agter kreatiwiteit die vlotheid van idees en om met ʼn klomp verskillende oorspronklike idees in enige situasie vorendag te kom.
Neethling se wenk aan mense is om altyd met vernuwende oë na die lewe te kyk en op jou voete te dink wanneer verrassende omstandighede opduik.
- Neethling het met Anja van der Merwe van Maroela Media gesels oor sy onlangse toekenning in die wêreld van kreatiwiteit.
Baie geluk doktor,ek is ‘n groot aanhanger.Sterkte
Baie geluk Dr Kobus – ek het juis laas naweek weer deur ‘n paar van jou boeke geblaai :)
Was jare gelede op ‘n kursus wat hy aangebied het saam met omtrent 20 ander mense van dieselfde kantoor waar ek gewerk het. Was absolute geldmors vir die werk en tydmors vir my.
Jy is ‘n merkwaardige man.