Dra kleurvolle kopdoeke, oorbelle ten bate van Kansa

Wys jou ondersteuning aan mense met kanker deur ‘n kleurvolle kopdoek, serp en oorbelle te dra, en ‘n boom in jou buurt in pienk te tooi. (Foto: Verskaf)

ʼn Helder kopdoek, oorbelle en pienk materiaal is ʼn manier om vir mense met kanker te wys dat daar hoop is en dat die gemeenskap hulle saak op die hart dra, asook ten volle ondersteun.

Dit is ook ʼn prettige veldtog van die Pienk Bome vir Pauline-projek en die Kankervereniging van Suid-Afrika (Kansa) om geld in te samel vir Kansa se talle sorg- en ondersteuningsprogramme.

Alle klubs, werkplekke, skole, instansies en individue word genooi om ʼn kleurvolle kopdoek of serp te dra, of om bome in hulle nabye omgewing in pienk materiaal toe te draai as deel van die veldtog in Oktober wat die bewusmakingsmaand vir borskanker is.

Carol-Ann van Jaarsveldt het die Pienk Bome-projek in 2012 in Graaff-Reinet op die been gebring om haar ma en ouma, wie se name albei Pauline was, te eer nadat sy albei vroue aan kanker afgestaan het. Sy wou ander pasiënte hoop gee en ondersteuning bied, en die projek is vinnig deur ander dorpe aangeneem.

When we lend a helping hand, maybe we’ll begin to understand what is right and what is wrong. And when we dream another’s dream, instead of doing our own thing, maybe we’ll sing a different song and we’ll be more of what the world needs.”

Dit is die lirieke van die amptelike Pienk Bome vir Pauline‑lied. Volgens Adri Jansen van Nieuwenhuizen, besturende direkteur van die projek, beskryf die woorde die passie waarmee verteenwoordigers van hulle veldtog hulself toewy aan hierdie saak en mense bystaan wat deur kanker geraak word.

“Ons organisasie het krag tot krag gegaan en die afgelope vier jaar fokus ons daarop om geld in te samel vir versorging- en ondersteuningsprogramme van kankerpasiënte met die hulp van Kansa,” het Jansen van Nieuwenhuizen bygevoeg.

(Foto: Verskaf)

Gerda Strauss, Kansa se hoof van dienslewering, meen dit is waar die twee organisasie perfekte pasmaats is. “Kansa is passievol oor die versorging en dien van pasiënte.

“Gedurende die pandemie het die behoeftes van ons pasiënte en hulle geliefdes dramaties toegeneem. Deur die langtermynvennootskap met Pienk Bome vir Pauline kan ons ʼn groot verskil maak deur middel van die geld wat ingesamel word.

“Ons kan hulpbehoewende pasiënte bystaan deur doeke, maaltydvervangings, rolstoele en ander mediese hulptoestelle te verskaf. Kansa waardeer hierdie verhouding en ons sien uit na ʼn fantastiese 2021‑veldtog waar ons ʼn verskil kan maak in die lewens van menige kankerpasiënte oral in Suid-Afrika.”

(Foto: Verskaf)

Strauss sê vanjaar se geld sal gebruik word om Kansa se drie versorgingtuistes in Pretoria, George en Kaapstad te verf en verbeteringe aan te bring. Dit sal ook help om gesubsidieerde verblyf aan pasiënte by tuistes soos die te verskaf.

“Verder sal dit ons help om vyf borskankerpasiënte se prostese en bra’s te befonds en vyf nuwe borsmodelle en vier opwipklinieke vir bewusmaking. Die skenkings word ook gebruik om ondersoeke en gesubsidieerde tuisversorging vir pasiënte met geen of lae inkomste te verskaf, wat self nie eers die basiese tariewe kan bekostig nie.”

Die publiek asook die sakesektor kan ʼn bydrae lewer tot hierdie inspirerende projek en so ook hul eie lewens en dié van ander ophelder. Die unieke kopdoeke word verkoop vir R100 elk, oorringe vir R50 en pienk materiaal om bome te tooi vir R30 per meter.

(Foto: Verskaf)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Belinda ·

Ek het vandag n donasie aan hospice gemaak :-)
Ek maak n punt daarvan om ten minste 2x per jaar skenkings te maak.

Niks kan mens se hart laat beter voel as om te weet dat jy jou deel gebring het aan die minder bevoorregte mense nie. Ek sal wel ook die sampioene met die pink bakkies by pick-n-pay gaan aankoop om CANSA te support…

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.