Drie dekades se getuienisse van vervolgde Christene se geloof

Jan Gouws,die uitvoerende direkteur van Geopende Deure Suider-Afrika, is reeds drie dekades by die organisasie betrokke. (Foto: Verskaf)

Jan Gouws, uitvoerende direkteur van Geopende Deure Suid-Afrika, sê elke vervolgde Christen se getuienis het hom gehelp vorm en sy geloof laat groei in die dertig jaar wat hy reeds by die organisasie betrokke is.

“Hoe kan jy nie verander word deur die getuienis van ʼn vervolgde Christen nie? Dit was nog elke keer vir my ʼn hoogtepunt as ek my arms om een van hierdie Christene kon vou en saam met hulle kon bid en huil.”

Jan het onlangs met Maroela Media gesels oor sy drie dekades van betrokkenheid by die organisasie wat wêreldwyd vervolgde Christene ondersteun en versterk.

“Ek het in 1972 twee boeke gelees, God se smokkelaar deur Broer Andrew en Gemartel vir Christus deur Richard Wurmbrand, en daarna was ek vuur en vlam om voltyds vir die Here te gaan werk.”

Hy wou aanvanklik ʼn predikant word, maar die Here het ander planne gehad en Jan het sy roeping voltyds binne die kerk begin uitleef.

“Jare later het ek ʼn ou vriend ontmoet wat vir Geopende Deure gewerk het. Hy het my vertel van die pos by die Suid-Afrikaanse kantoor. Ek het onmiddellik besef dit is ook geleentheid om voltyds vir die Here te werk, en om ʼn lang storie kort te maak, het die Here vir my ʼn deur oopgemaak en ek het in 1991 hier begin werk.”

Jan sê dit was met sy eerste besoek aan ʼn vervolgde gemeente dat die werk in ʼn brandende passie omskep is.

“Elke een van hierdie mense wat as gevolg van hulle geloof vervolg word se getuienisse is vir my soos die voortsetting van die boek Handelinge.”

Nog ’n hoogtepunt vir Jan in sy tyd by die organisasies was sy verskeie ontmoetings met pastoor Samuel Lamb (Lin Xiangao) van China. Die pastoor was 21 jaar lank in die gevangenis omdat hy eenvoudig geweier het om sy rug op Jesus te draai.

“Ten spyte van sy omstandighede het hy eenvoudig voortgegaan om sout en lig te wees.”

Pastoor Samuel is uiteindelik vrygelaat omdat hy, in sy eie woorde, meer suksesvol mense in die tronk bekeer het as in die buitewêreld. “Hy het gesê hulle kon nie weghardloop as hy praat nie; hulle kon maar net luister.

“Hy het my geleer om ongeag die omstandighede waarin ek verkeer nog steeds my lig helder te laat skyn. Die Here gee ons, ten spyte van ons omstandighede, baie geleenthede om hom te dien. Ons moet net ons oë daarvoor oopmaak en nie na verskonings soek nie.”

Jan het saam met Geopende Deure die vervolgde kerk in 17 lande besoek en talle van hulle al selfs tot vier keer besoek. “Vier van dié lande is in die top-10 van Geopende Deure se wêreldwaarnemingslys. Ek kan ongelukkig weens veiligheidsredes nie die lande identifiseer nie, maar die lande is in streke soos Afrika suid van die Sahara, die Midde-Ooste, Noord-Afrika en lande in Asië.”

Jan het ook al die geleentheid gehad om self ʼn smokkelaar vir God te wees. “Die Here het een keer om 02:00 die oggend chaos op ’n lughawe gesaai sodat sewe van ons met 18 kg se Bybels die betrokke land kon insmokkel – en ons het daarin geslaag om veilig deur te gaan.

“Ons kon die Bybels veilig aflewer en die dag daarna het ons iemand ontmoet wat een van hierdie Bybels ontvang het. Sy het aan ons vertel hoe dankbaar sy is en dat sy al jare lank gebid het vir haar eie kopie van haar Bybel. Sy het die Bybel gesoen, teen haar bors vasgedruk en die trane het oor haar wange gerol.”

Die vervolgde Christene van Noord-Korea lê Jan veral na aan die hart. Hy sê die situasie vir mense wat kies om God te volg, versleg elke jaar daar.

“Deur Geopende Deure se geheime netwerk hou ons ongeveer 90 0000 geheime gelowiges in die land aan die lewe. Lesers kan saam met ons werk om vervolgde Christene in die wêreld se gevaarlikste plekke, soos Noord-Korea, te ondersteun en hulle te wys dat hulle nooit alleen is nie. ʼn Bedrag van so min as R280 kan kos, medisyne en ʼn veilige hawe bied aan ʼn Noord-Koreaanse gelowige wat van uiterste vervolging vlug. ʼn Skenking van R1 400 kan dieselfde doen vir vyf Noord-Koreaanse gelowiges.

“Een Noord-Koreaanse gelowige sê oor die hulp wat hy ontvang het: Te danke aan julle weet ons dat God bestaan en nie van ons vergeet het nie’.”

  • Indien jy graag wil bydra tot hierdie unieke projek, kan jy Geopende Deure se webwerf besoek en ʼn skenking maak. Of stuur ʼn SMS met die woord “MAROELA” en jou naam na 43699 om ʼn skenking te maak. Standaard SMS-tariewe geld.
  • Jan Gouws het met Maroela Media gesels oor sy dertig jaar by Geopende Deure Suider-Afrika. Hy vertel hoe vervolgde gelowiges se getuienisse hom steeds aanraak en van die kere toe hy self Bybels vir die mense ingesmokkel het. Luister na die volledige gesprek onder boaan hierdie berig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.