Drie entrepreneurs vereer vir bydraes tot ekonomie-ontwikkeling

Barbara Thandeki, Nicholas Lamohr en Michelle Mzee. (Foto: Verskaf)

Drie kleinsake-eienaars wat verlede week as deel van ʼn groep van 21 aan die geborgde agt maande lange Kleinsake-akademie (KSA) van die Universiteit van Stellenbosch Bestuurskool (USB) gegradueer het, is verder vereer vir hul bydraes om die ekonomie te verbeter en armoede te verlig.

Barbara Thandeki, een van die gegradueerdes en mede-eienaar van die handgemaakte pruikmakers Khubar Hair & Beauty, het die De Beers-toekenning ontvang vir die sakeonderneming met die meeste potensiaal.

Thandeki, wat van Gugulethu in die Wes-Kaap afkomstig is, vertel aan Maroela Media dat sy reeds twee diplomas in aankoopbestuur verwerf het en al 11 jaar ondervinding in aankope agter haar naam het. Sy is tans in die beplanningsfase om die Khubar-onderneming as ʼn franchise te ontwikkel.

“My ouers was entrepreneurs en het hul lewe gemaak deur kruideniersware in Gugulethu te verkoop. Hulle het vir my opleiding, gesondheid en basiese behoeftes gesorg,” sê sy. Tans is Thandeki se visier daarop gemik om ʼn MBA te voltooi.

“Ek wil in vyf jaar ʼn spesialis in klein- en mediumondernemings en entrepreneurskap wees, waar ek ander mense, veral vroue, mense met gestremdhede en jongmense kan help om hul ondernemings op die been te bring. Volgende jaar beplan ek om my nagraadse studie in sakebestuur te voltooi,” sê sy.

Digitale entrepreneur Nicholas Lamohr, wat die Linchpin-PM-onderneming in Dieprivier tot stand gebring het, het die Distell Topstudent-toekenning ontvang, terwyl Michelle Mzee, die uitvoerende direkteur van die skoonmaak-en-sekuriteitsmaatskappy Cleanstation in Parow, die Absa-toekenning vir die beste sakeplan gewen het.

Linchpin-PM is aanvanklik as ʼn geslote korporasie in 2011 begin, met die oog op grafiese en webontwerp. In die afgelope ses jaar het die onderneming verdubbel sonder enige duidelike riglyne oor waarheen die onderneming op pad is of enige sakestrategie, sê Lamohr.

“Ná 16 jaar in die digitale en gedruktemateriaal-bedryf, was dit tyd vir ʼn verandering. Ná ʼn maand van gebed en vas, aan die einde van Maart 2017, het ek besluit om as hoofbestuurder uit my vorige pos te bedank, en voltyds my eie onderneming te bedryf,” sê hy.

Hy verduidelik dat die onderneming intussen ontwikkel het na een wat onderskeidelik finansiële, strategie- en bemarkingsprobleme wat klein- en mediumondernemings, asook ander sakeondernemings, in die gesig staar, op te los as dit kom by toegang tot gehalte, bekostigbare ontwerpvaardighede en gereedskap binne die digitale mark.

Sy vyfjaardoelwitte sluit in om die gekose verskaffer van gedrukte materiaal vir die ses TVET-opleidingskolleges in die Wes-Kaap teen Februarie 2020 te wees en om ʼn jaar daarna ʼn omset van sowat R240 000 per maand te bereik.

Die KSA word geborg deur Distell, Absa en De Beers, en bemagtig kleinsake-eienaars in lae-inkomstegebiede met kennis om hulle ondernemings te laat groei, meer volhoubaar te word en hulle potensiaal om werk te skep te verhoog.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.