Drieling vang saam graad

Marko, Christine en Simoné Bester (Foto: Verskaf)

ʼn Drieling van Boksburg aan die Oos-Rand, Simoné, Christine en Marko Bester, sal ná vandag almal met ’n graad van die Universiteit Stellenbosch (US) kan spog.

Die US het in ʼn verklaring gesê die Bester-drieling is baie na aan mekaar en het saam besluit om aan dié universiteit te studeer. Hulle het ook sedert hul tweede studiejaar saam ʼn woonstel gedeel.

Simoné en Marko het vanoggend ʼn BRek (Hons)-graad ontvang en Christine ontvang vanmiddag haar graad in BA Visuele Kommunikasie-ontwerp.

“Hierdie twee susters en broer is sedert geboorte onafskeidbaar. Hulle was aanvanklik deel van ’n vierling, maar die oudste, ʼn suster, Tanya, is sewe maande ná geboorte oorlede,” lui die verklaring.

Simoné vertel hoe sy gereeld vir Marko moes gaan wakker maak Donderdagoggende voor klas. “In ons eerste jaar moes ek elke Donderdagoggend by Marko se koshuis omstap om seker te maak hy is wakker. Klokslag het hy elke Donderdagoggend verslaap … maar dit kan seker toegeskryf word aan sy groter waardering vir Stellenbosch se sosiale lewe!” het sy gesê.

“Al drie het reeds werk in hulle onderskeie studievelde bekom – iets waaroor hulle verheug is aangesien dit gebeur het nog voordat hulle amptelik hul graadsertifikate ontvang het,” lui die verklaring.

“Ons drie het nooit gedink ons sou ons grade op dieselfde dag ontvang nie,” het Simoné gesê.

Die drieling gaan nou daaraan gewoond moet raak om verder van mekaar af te wees, omdat hulle in verskillende plekke gaan werk. “Hoewel hulle aanstaande jaar nog saam in die Wes-Kaap gaan wees, gaan hul paadjies so ietwat uitmekaar loop aangesien Christine as grafiese kunstenaar by ʼn veiligheidsonderneming op Stellenbosch gaan begin werk, en Simoné en Marko nader aan die Moederstad gaan trek om saam by ʼn ouditeursfirma in Tygerberg in te val.”

Die drieling se gesin woon vandag die gradeplegtighede by.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Christine ·

Baie geluk julle drie , ek glo die Ouers is baie trots op julle en ek wens julle alle voorspoed toe in die besigheids wereld.

Deon Beukes ·

Kan nie glo die tyd loop so nie, net nou die dag het julle nog so in n ry in jul stoeltjies gesit en wag vir jul bottels terwyl ons geBRAAI het !!!
Baie geluk julle 3 en sterkte met jul toekoms

Hannelie ·

Baie geluk jul 3. Dis so lekker as die sibbes so goed oor die weg kom. Sterkte met jul loopbane vorentoe.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.