Drieling word hoofleiers van skool

Righardt, Thinus en Alandré Pretorius (Foto: Verskaf)

Righardt, Alandré en Thinus Pretorius, ’n drieling van Bronkhorstspruit, is vroeër vanjaar aangewys as drie van Laerskool du Preez Van Wyk se vier hoofleiers.

Righardt is aangewys as hoofseun, Alandré as hoofdogter en Thinus as onderhoofseun. Dié drie het op Nuwejaarsdag 13 jaar oud geword.

Die drieling se ma, Antoinette Pretorius, het gesê sy bars van trots oor haar kinders se prestasies.

“Vir ’n ma van drie kinders is dit maar net ’n seëning dat so iets gebeur, dis ʼn Godgegewe ding. Toe hulle gebore is, het ek nie geweet of ek hulle groot gaan kan kry nie – hulle is vroeg gebore, op 34 weke al,” het sy gesê.

“Om hulle dan 13 jaar later op ’n verhoog te sien is fantasties. Ek het nie eens geweet of ek hulle gaan kan grootmaak nie, en hier staan al drie my kinders as hoofleiers van hul skool! Dit is ’n seëning, ek voel baie bevoorreg om dit te kan ervaar.”

Pretorius sê al drie haar kinders vaar goed op verskillende terreine in die skool.

“Righardt speel in die Gauteng-liga gholf en vaar akademies ook baie goed. Hy is ’n regte hoofseun en baie volwasse. Alandré is ook akademies baie sterk, en sy en Righardt daag mekaar gereeld uit in die akademiese top-tien. Sy het ook Gautengse kleure vir spelling. Sy is kalm en rustig en sy leer hard. Thinus is jolig en grapperig. Hy het altyd tyd vir iets snaaks. Hy het ook deelgeneem aan die Gautengse-kampioenskappe vir hoogspring.”

Alandré, Thinus en Righardt Pretorius

Die drieling neem ook deel aan redenaars en hou van kultuur. Pretorius sê sy dink hulle sal goed saamwerk as hoofleiers van die skool, omdat hulle mekaar goed ondersteun.

“Hulle band is baie sterk en hulle werk goed saam. Alandré was amper blyer vir haar twee broers toe hulle as hoofleiers aangekondig word, as vir haar eie prestasie,” het Pretorius gesê.

Vir die res van die jaar het die drieling verskeie verpligtinge wat hulle moet nakom, soos om met die skoolhoof te vergader, diensroosters op te stel en vergaderings by te woon.

Pretorius sê sy meng nie baie in by hul skoolverpligtinge nie, maar dat sy net hoop dat haar kinders positief ander kant sal uitkom.

“Ek is baie dankbaar en ek ondersteun hulle ten volle, maar ek sal die trotsste wees as al drie my kinders aan die einde van die jaar nog steeds presies dieselfde kinders is as wat hulle was toe hulle as hoofleiers gekies is,” het sy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Uvonka ·

Pragtige kinders, uitstekende prestasies!! Nou toe Antoinette, sien jy, jy het ‘n uitstekende joppie gedoen, wel gedaan. Baie geluk aan Mamma en haar kroos!

Leonie ·

Antoinette, ek ken jou glad nie maar, maar my ma hart is ongelooflik trots saam met jou! Ek was amper in trane toe ek lees van jou dogter wat blyer was vir haar boeties as vir haar eie prestasie. Mag hulle voete stewig gevestig bly op hulle Rots. Hulle lyk na vreeslike oulike kinders. Baie geluk, van een mamma aan ‘n ander.

Ou Dupie Onnies ·

Baie geluk jul drie trots op jul. Sterke vir die jaar en die pad vorentoe. kan nie glo paar jaar terug was jul nog graad 3 en ek vir jul rugby afgerig nie.

Ondersteuner ·

Julle mag met reg trots wees. Baie geluk aan die 3 wat n wonderlike prestasie!!!

se maar net ·

Jy het rede om super trors te wees mamma!! Alle eer en dank aan ons Skepper wat vir jou 3 prag prentjies gegee het!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.