Drome word waar met ontwerper se modebeurse

Andrea Beyers en Gert-Johan Coetzee.

Andrea Beyers en Gert-Johan Coetzee.

 

Drie meisies, drie beurse, drie drome wat waar geword het. Dít is wat verlede naweek by die Northwest School of Design (NWSD) in Klerksdorp ontvou het toe die wenners van die Gert-Johan Coetzee- en Luminance-beurse in die ontwerper se beursprogram aangekondig is.

Matriekleerder Andrea Beyers van Mitchell’s Plain het die modeontwerp-beurs losgeslaan, terwyl twee 28-jariges, wat byna moed opgegee het wat hul modedrome betref, die twee nuwe Modekommunikasie en Aankope-beurse gewen het. Gautengers Thembakazi Stokwe en Xoliswa Kawuzela gaan albei hul posisies in die “regte wêreld” opgee en weer voltyds student word.

Die beurse is in geheel R500 000 werd en sluit ook mentorskap deur die sakeleiers agter die beurse in. Thembakazi, wat die Luminance Social Responsibility Grant gewen het, sal kans kry om oor vakansies by die luukse Luminance-boetieks onder dr. Judy Dlamini ʼn internskap te doen, terwyl Xoliswa en Andrea dieselfde by Coetzee se ateljee sal ervaar.

Xoliswa Kawuzela en Gert-Johan Coetzee

Xoliswa Kawuzela en Gert-Johan Coetzee.

Thembakazi het sielkunde aan die Universiteit van Johannesburg studeer omdat haar ouers gevoel het die modebedryf gaan nie genoeg sekuriteit bied nie. Maar haar hart was nooit daarin nie en nadat sy graad behaal het, het sy allerhande onverwante poste beklee. Toe sy egter dr. Dlamini oor die radio hoor praat oor die beurse, het ʼn lig vir haar opgegaan. Sy het dadelik ingeskryf. “Ek het nog altyd gedroom om by Vogue in New York te werk, en met ʼn mentor soos dr. Dlamini is enigiets moontlik,” sê sy.

Dlamini was uiters beïndruk deur Thembakazi se vasbeslotenheid om nooit haar droom te laat vaar nie, en het besluit om haar deel van die Luminance-familie te maak. “Thembi het die soort ingesteldheid wat lei na sukses, en ons het sulke jongmense nodig,” het sy verduidelik.

Op sy beurt is Gert-Johan ook opgewonde om die mentor van ʼn sakegerigte student te word. Hy glo Xoliswa se vorige ervaring in die sakewêreld, waar sy in die bankwese gewerk het, sal in haar guns tel. “Sy is ook die ma van ʼn seuntjie, so haar volwassenheid en sin vir verantwoordelikheid is ʼn bonus,” het hy gesê.

Xoliswa hoop dat hierdie tweede kans haar die geleentheid sal bied om haar modedrome in sakesukses te omskep. “My ouers het my ná skool weerhou van modestudies, maar nou staan hulle agter my – my ma het selfs aangebied om my seuntjie op te pas terwyl ek voltyds teruggaan kollege toe,” het sy bygevoeg.

Gert-Johan Coetzee en dr. Judy Dlamini

Dr. Judy Dlamini en Gert-Johan Coetzee.

Andrea Beyers, die jongste van hierdie nuwe beursgroep, is net 17, maar sy teken al vandat sy vyf jaar oud is rokke en wil niks anders as ontwerper word nie. Sy herinner Gert-Johan aan homself op daardie jong ouderdom, het hy verduidelik.

Gert-Johan se beursprogram by NWSD, waar hy self geswot het, is al sewe jaar aan die gang, maar dit het nog altyd net voorsiening gemaak vir modeontwerpstudente. Dit was ʼn strategiese besluit om nog ʼn beurs beskikbaar te stel vir ʼn student wat meer sakegerig as kreatief is. Sy oortuiging dat sakeleiers ʼn verantwoordelikheid het om handjie by te sit met die opvoeding van die volgende generasie het sy sakekennis, Judy Dlamini, só geïnspireer dat sy nou ook so ʼn beurs borg, bykomend tot haar familie-onderneming se bestaande, aparte beurse.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Sune van Heerden ·

Dagsê Irene

Ons vra om verskoning vir enige flaters wat ingesluip het. Die berig is gewysig.

Groetnis
Suné
nms Maroela Media

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.