Droogtehulp: Water op pad na die Vrystaat

Die kleuters van Kleurgenot Kleuterskool. Foto: Verskaf

Die kleuters van Kleutergenot Kleuterskool. Foto: Verskaf

Sowat 7 000 ℓ water word vandag danksy die burgerregte-organisasie AfriForum en die selfoonnetwerkverskaffer Cell C na die Vrystaat vervoer.

Dié water kom van skenkings en word vervoer van die Kleutergenot-kleuterskool in Rietvalleirand in Pretoria.

“Kleutergenot-kleuterskool het bykans 3 000 ℓ water ingesamel. AfriForum en ander organisasies het nóg water geskenk, terwyl Cell C met die vervoerreëlings na die tafel toe gekom het,” het Henk Maree, AfriForum se nasionale woordvoerder, gesê.

Sophia Theunissen van die Kleutergenot-kleuterskool sê dié projek weerspieël waarvoor die skool staan. “Kleutergenot-kleuterskool is ’n omgeeskool waar ons die kleuters leer om die behoeftes en nood van ander mense, veral kinders, raak te sien. Hierdie projek is vanuit ’n Christelike oog benader.”

Hoewel die projek moontlik gemaak is deur verskeie skenkings, sê Theunnissen dit is slegs geloof wat dit moontlik kon maak. “Die hand van die Here is duidelik te sien in die hoeveelheid water wat ingesamel is. Ons wil dankie sê aan elke ouer wat sy en haar hart oopgemaak het.”

Suzette van der Merwe, die besturende hoof van die Cell C-stigting, het gesê daar is ’n dringende behoefte aan water in droogtegeteisterde gebiede en dat dit wonderlik is om te sien hoeveel jongmense en gemeenskappe saamwerk om water aan dié gebiede te verskaf. “Cell C glo in die opheffing van gemeenskappe en hierdie is net een manier waarop ons dit kan doen.”

Maroela Media het voorheen berig oor AfriForum se bydraes tot droogtehulp.

Jy kan R10 bydra deur jou naam na 38312 te SMS. AfriForum is bereid om elke bydrae te verdubbel.

Jakaranda FM het ook sy eie projek van stapel gestuur. Dié radiostasie het vyf trokke beskikbaar wat water na die Vrystaat kan vervoer. Die versamelpunt vir die water is 14de Straat 89, Erand Gardens in Midrand. Vir meer inligting besoek die Facebook-skakel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.