‘Droom bewaarheid’ ná pa van 7 boerpot wen

Argieffoto

ʼn Pa van Joubertina in die Oos-Kaap wat saam met sy susters en haar kinders in ʼn eenslaapkamerhuisie woon, kan nou uiteindelik beter woonomstandighede vir sy eie kroos verseker nadat hy die jongste Lotto Sportstake 13-boerpot losgeslaan het.

Die 50-jarige man is nou R1 135 259 ryker nadat hy R8 op sy wenkaartjie bestee het. Hy is ʼn entoesiastiese Powerball- en Lotto-deelnemer en sê hy bestee maandeliks ongeveer R250 aan lottokaartjies, maar het nog nooit enigiets gewen nie.

Nadat sy buurman vir hom van Sportstake 13 vertel het, het hy ʼn paar weke gelede besluit om sy geluk met dié spel te beproef – en die geluk was uiteindelik aan sy kant.

Die man, ʼn pa van sewe kinders, sê dit was nog altyd sy droom om vir sy kinders ʼn behoorlike huis te kon gee wat groot genoeg is om almal te kan huisves. Wanneer die hele familie oor die feestydperk by sy suster se huis bymekaarkom, raak dinge bietjie beknop.

“Ek het nog altyd gedink hoe dit sal wees om in my eie huis wakker te word met al my kinders by my. Dit was nog altyd my droom om ʼn ordentlike huis te bou sodat al my kinders onder een dak kan wees en nou kan ek uiteindelik daardie droom ʼn werklikheid maak,” het hy gesê.

Die boerpotwenner, wat al sedert Februarie vanjaar werkloos is, sê dit was vir hom moeilik om sedertdien op sy familie staat te maak vir finansiële ondersteuning. Hy werk vir ʼn plaaslike kontrakterende maatskappy wat hom bel wanneer daar werk beskikbaar is, maar dit verseker hom nie van ʼn vaste inkomste nie.

“Ek het niemand van my nuwe fortuin vertel nie, maar die meeste mense van my tuisdorp weet reeds danksy die advertensies oor waar die persoon woon wat die boerpot gewen het. Ons speel almal saam as ʼn groep en almal wat hulle kaartjies nagegaan het, het bevestig hulle het nie gewen nie,” sê hy.

Hy sê hoewel hy baie opgewonde is oor sy wengeld en die geleenthede wat dit nou vir hom bied, is hy vasbeslote om nederig te bly en sal hy steeds Sportstake 13 speel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Neels ·

Darem toevallig dat die meeste wenners wat so min geld spandeer gereeld die lotto wen. So my raad is moenie te veel geld op n kaartjie bestee nie , jou kanse is dan skraal om te wen. !!!!

Genieve ·

Hy het 7kinders en bly by sy suster waar sy vrou gaan seker nou navore kom nadat hy die boerpot geslaan geluk ou maat gee vir hulle wat jou in die nood gehelp het en bou vir jou kinders n huis na jou hart.

Robert ·

Nee Linda: ek is glad nie jaloers nie net maar soos die Engelsman sê concerned. Daar is genoeg statistieke wat bewys dat mense wat arm was en so ‘n groot klomp geld gewen het oor ‘n paar jaar maar weer in dieselfde situasie sit omdat hulle nie weet hoe om wys met die geld te werk nie.

Gemaskerde Sopbeen ·

Is dit waar dominee dat daar in die bybel staan “Dit wat jy vrees, sal jou oorkom!”? “Ja, broer, dit staan wel daar….” Genugtig dominee, nou vrees ek darem die Lotto ding eers erg!!

Staak saam ·

7 kinders, werkloos maar hy spandeer R250/maand aan dobbel.
Ek sou eerder kos koop.
En nee, ek is nie jaloers nie, ek werk hard vir wat ek het en dobbel geheel en al nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.