Droom word waar toe siek 15-jarige Ed Sheeran ontmoet

Leila (voor) saam met die Reach for a Dream en Good Morning Angels -spanne (Foto: Jacaranda FM)

Die 15-jarige Leila Durr van Pretoria, wat aan ’n lewensbedreigende en ongeneesbare neuromuskulêre siekte ly, se grootste droom was om in die gehoor by ʼn Ed Sheeran-konsert te wees.

Nooit sou die tiener kon dink dat sy nie net haar musiekheld in aksie op die verhoog sal sien nie, maar hom sommer in persoon sal ontmoet. Dít danksy Reach for a Dream en Jacaranda FM se Good Morning Angels.

Durr is gediagnoseer met Friedreich’s ataxia (FA) wat haar permanent afhanklik van ’n rolstoel maak, maar ten spyte daarvan woon sy ʼn hoofstroomskool by en neem sy deel aan skoolaktiwiteite so ver as sy kan.

Musiek speel ʼn groot rol in Durr se lewe, maar as gevolg van die FA-siekte sal sy met verloop van tyd ook haar gehoor en sig verloor.

Haar ouers het dit goedgedink om uit te reik na Reach for a Dream om hul dogter se musiekdroom waar te maak, toe hulle hoor haar gunstelingkunstenaar, Sheeran, gaan in Suid-Afrika optree. Good Morning Angels het dadelik ingespring en Durr se wildste drome oortref deur ʼn ontmoeting met Sheeran te reël.

Leila en Ed Sheeran (Foto: Facebook via Big Concerts)

Nadat Durr reeds Saterdag na Sheeran se vertoning by die FNB‑stadion in Soweto gegaan het, het Good Morning Angels gereël dat sy, haar ouers en haar beste vriendin Sondag wéér ʼn keer dié vertoning kan bywoon. Dit is daar waar Durr voor die vertoning vir Sheeran ontmoet het.

“Leila was een van die min aanhangers wat die geleentheid gekry het om vir Ed te ontmoet voor die konsert. Sy het hom op sy knieë gehad! Hulle het foto’s saam geneem, hy het ʼn paar plakkate vir haar geteken en hulle het gesels,” het Jacaranda FM in ʼn verklaring gesê.

Durr het gesê dit was vir haar ʼn groot oomblik toe sy vir Sheeran ontmoet. “Ek was bietjie op my senuwees voor die tyd, maar hy was baie oulik. Hy inspireer my. Sy liedjies het so baie betekenis vir my,” het sy aan Martin Bester gesê.

Durr het gesê sy hou spesifiek baie van Sheeran se liedjie Thinking out Loud omdat dit begin met die woorde “When your legs don’t walk like they used to before”, en sy haar met die gevoel kan vereenselwig.

Durr het gesê sy het vir Sheeran gesê dat sy Saterdag ook by sy vertoning was en dat hy gesê het dat hy bly is sy is daar, omdat die vertoning op Sondag bietjie anders as Saterdag is.

Om Durr net so tikkie meer te bederf het Vodacom ook aan boord gekom en vir Durr ʼn splinternuwe iPhone X geskenk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

VanAfrika ·

Aah wat n voorreg om hom te kan ontmoet en dat hy nederig met haar gesit en gesels het. Definitief iets vir haar plakboek en dagboek en hopelik sommer n paar cd’s en dvd’s daarby.

annie ·

Wow!!!! traan geknip. So bly vir haar. “You go Ed” ook mal oor jou musiek.

Koos ·

Ed, thank you so much for being so humble, as demonstrated at your show. You are a exsample to so many, and I am sorry to say, even artists in our own SA.

Jol ·

@Koos, bly maar by Afrikaans pel haha nie asof hy dié gaan lees nie.

Boskind ·

Ed Sheeran ek kan net met trots hierbo lees en die foto waar jy op jou knieë voor Leila is sodat jy haar in die oë kan kyk! Dit is ‘n teken van respek dat jy haar nie uit die hoogte aankyk nie. Dit wil gedoen wees. Nou hou ek nog meer van jou Ed. Leila, ek kan sommer sien hoe gelukkig jy is. Hoop jy het die vertoning terdeë geniet.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.