Droomtroue vir bruid met terminale kanker

Larami Meyer op haar troudag (Foto: Iolande Baker Photography)

Centurion Hospice het vir ’n 36-jarige vrou van Pretoria, wat terminaal siek is aan ’n seldsame maagkarsinoom, haar droomtroue gehou.

Larami Meyer (36) het met ’n tradisionele sluier oor haar gesig en blonde pruik die paadjie afgestap.

“Nadat ek met chemoterapie begin het, het my hare binne die eerste twee weke uitgeval. Ek het gedink: ‘Dit is net hare; dit sal weer groei’. Maar toe besef ek dat dit nie net hare is nie. Ek het my bos blond-bruin hare jare lank versorg, gekleur en laat groei,” het Larami twee dae voor dié troue gesê.

Larami het in haar wit en pers trourok gestraal toe sy op die maat van Jak de Priester se Lara die paadjie afstap na haar toekomstige man.

Die liedjie was heel gepas vir die troue, want dit gaan oor twee kinders wat op mekaar verlief raak en jare later uiteindelik weer bymekaar kom.

Otto Meyer (Foto: Iolande Baker Photography)

Otto Meyer (38) en Larami het as tieners aan die Kwaggasrand Skool in Pretoria-Wes op mekaar verlief geraak.

“Ek was dertien jaar oud toe Otto my gesoen het. Dit was ook my heel eerste soen – en nou moontlik ook my laaste soen,” sê Larami.

Larami het in later na ʼn ander provinsie verhuis en hulle liefde moes oor gesteelde telefoonoomblikke en briewe gedy.

Die lewe het egter sy verloop geneem en Larami is later getroud alhoewel die verhouding nie uitgewerk het nie, terwyl Otto enkellopend gebly het.

Sowat twee jaar gelede het hul liefde weer op Facebook begin blom.

Kort nadat die tweetjies saam ingetrek het, het Larami siek geword. Na 18 operasies waartydens haar baarmoeder en eierstokke verwyder is, kon die dokters eers verlede Desember vasgestel het dat sy kanker het.

Otto het haar kort na dié diagnose gevra om met hom te trou.

“Sy is vir my steeds mooi – mooier as die eerste dag wat ek haar by die skool gesien het. Ek sal by haar wees vir die res van haar lewe. En wanneer sy sterf, sal ek weet dat ek haar gelukkig gemaak het,” het Otto gesê oomblikke voordat sy bruid by die paadjie afgestap het.

Voordat Larami Otto se huweliksaanbod aanvaar het, het hy vir haar gefluister: “Ek is lief vir jou. Hare of geen hare nie. Ek is lief vir jou en sal saam met jou die sukkel-om-te-loop-pad stap. Of jou blaas jou partymaal in die steek laat of nie, ek is lief vir jou.”

Otto en Larami Meyer voor die kansel (Foto: Iolande Baker Photography)

Larami, wat voorheen as paramedikus en kleuterskoolonderwyseres gewerk het, se paaie het met die van Centurion Hospice gekruis toe sy navraag gedoen het oor die binnepasiënte-eenheid en hoe sy te werk moes gaan indien sy opgeneem sou word.

Haar en Otto se liefdesverhaal het die Hospice-personeel so ontroer dat hulle daar en dan besluit het om die troue vir hulle te beplan.

Larami en Otto het nie op ʼn wittebrood gegaan nie, want sy het twee dae na die troue weer met behandeling begin.

Larami Meyer en haar ma Sandra Burger (Foto: Iolande Baker Photography)

“My grootste droom voordat ek sterf is om op Tafelberg te staan. Ons was ook nog nooit in Kaapstad nie.”

Mense wat ʼn bydrae wil maak om Larami en Otto op Tafelberg te kry, kan vir Yolanda Barnard-Lemmer kontak by [email protected].

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

E ·

Dit is opregte liefde. Daar is niks wat hulle mekaar kan bied of belowe behalwe liefde.

Moedeloos ·

Sjoe raak sommer hartseer. Wens jul alle voorspoed en seën toe vir jul huweliksjare. Mag jul elke dag net sonskyn ervaar. Ek woon in die Kaap en sien amper nie eers meer Tafelberg elke dag raak nie (uit gewoonte daaraan) maar die berg bly een van die mooiste gesige om te sien en te beleef veral as dit n mooi oop skoon dag in die Kaap is. Ek hoop van harte dat jou wens sal waar word om Tafelberg te kan sien en besoek.

Tanya ·

Sjoe dis vreeslike mooi! EN hy het al die jare vir haar gewag!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.