Duisende Bybelboekies bring hoop in nood

Altesaam 4 000 geletterdheidsboekies is in Pretoria afgelewer. Nog ‘n duisend boekies vanuit die skenking is aan die Wes-Kaap besorg. (Foto: Verskaf.)

Die Bybelgenootskap van Suid-Afrika het vandeesweek 5 000 Bybelgeletterdheidsboekies aan Solidariteit Helpende Hand geskenk. Hierdie boekies gaan tydens Covid-19 saam met kospakkies onder behoeftige gesinne versprei word. Dit sal ook vir Helpende Hand se Kosblikkie- en Skooltassie-projek aangewend word.

Hannes Noëth, uitvoerende direkteur van Solidariteit Helpende Hand, sê dit is ’n voorreg om die skenking te ontvang en dit saam met die kospakkies wat hulle gaan versprei, uit te kan deel.

“Solidariteit Helpende Hand het nog altyd gewerk met die beginsel dat nie net fisieke armoede aangepak moet word nie, maar ook geestelike armoede. Die samewerkingsooreenkoms met die Bybelgenootskap bevestig dat ons ernstig is daaroor en dat ons, saam met die kospakkies, hoop aan gesinne wil bring,” sê Noëth.

Die Bybelgeletterdheidsboekies, soos geskenk deur die Bybelgenootskap van Suid-Afrika. (Foto: Verskaf.)

Dr. Gerhard Lindeque, organiserende sekretaris namens die Hervormde Kerk, sê dat dié Bybelgeletterdheidsboekies in ’n groot behoefte in die land voorsien.

“Baie mense wat sukkel om te lees of nie kan lees nie word hierdeur gehelp. Ons onthou hoe ons voorouers mense aan die hand van die Bybel geleer het om te lees en te skryf. Hierdie boekies staan in die plek daarvan deur die gebruik van Bybelverhale om mense toegang tot Skrif en geletterdheid te gee,” sê Lindeque.

“Daar is 23 miljoen mense in Suid-Afrika wat nie hulle eie Bybel het nie, maar dit help nie ’n mens gee vir iemand ’n Bybel en hy of sy kan nie lees nie. Daarom het ons begin met hierdie projek – om mense van kleins af te leer lees en skryf aan die hand van Bybelverhale en so ook by hulle ’n liefde vir die Bybel en die gebruik van die Bybel te kweek. Jesus het gesê ’n mens kan nie van brood alleen leef nie, maar ook van elke woord wat uit die mond van God kom. Hierdie boekies is ’n begin daarvan, om die Woord van die Here ook toeganklik te maak vir mense van ’n vroeë ouderdom af,” verduidelik Lindeque.

Carl Vermaak, organiserende sekretaris namens die AP Kerk, sê dat die Bybelgenootskap van Suid-Afrika vanjaar 200 jaar oud is, en daarmee saam het hulle dié projek, Die Bybel: Hoop vir almal, van stapel gestuur. Met hierdie projek poog hulle om twee miljoen Bybels en geletterdheidsboekies oor die hele Suid-Afrika te versprei.

“As ons in die afsonderingstyd aan die Bybel dink, sal ons onthou dat Paulus in Timoteus geskryf het dat die Woord van God nie gebind kan wees nie. Paulus self het in die tronk gesit en gesê dat die Woord nie só gebind kan word dat dit nie versprei kan word nie. Daarom dié projek, Die Bybel: Hoop vir almal, om die Bybelgenootskap se 200ste bestaansjaar in Suid-Afrika te vier, asook om hoop vir almal te bring in hierdie tydperk waar almal dit so broodnodig het,” sê Vermaak.

“Terwyl ons mense in armoede sit, het ons besef dat hulle ook ’n Bybelse armoede beleef. Hoe verder ons die Woord kan versprei en onder ons mense kan vestig sodat daar ’n liefde vir die Woord is, hoe verder kan ons die krisisse van ons tyd aanpak,” vertel Vermaak verder.

Solidariteit Helpende Hand ontvang die skenking van die Bybelgenootskap.
V.l.n.r. is René Roux, Gerhard Lindeque, Mariana Kriel, Shane Fraser, Carl Vermaak en Mike Roodt. (Foto: Verskaf.)

Die samewerkingsinisiatief tussen Helpende Hand en die Bybelgenootskap het by Helpende Hand se Helpende Kerke-kongres in November 2019 begin.

“Helpende Hand weet dat daar ook hoop saam met elke kospakkie bedien word, en in die tyd van Covid-19 het mense ’n behoefte aan hoop en ekstra ondersteuning. Daarom is hierdie skenking van ewigheidswaarde as ons dit saam met die kospakkies kan uitdeel. Ons weet dat die hoop nie in die mens lê nie en hoewel die toekoms onseker is, is dit in Christus wel seker,” voeg Noëth by.

Dirk Gevers, uitvoerende hoof van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika, skryf in die voorwoord van die geletterdheidsboekie: “Die Bybel bring werklik ware hoop vir almal en dit is met groot blydskap dat ons graag hierdie boekie met jou wil deel in die hoop dat dit jou sal help om die lewende boodskap van die Bybel op ’n dieper vlak te ervaar.”

Die geletterdheidsboekies sal eersdaags saam met kospakkies vanuit Gauteng en die Wes-Kaap versprei word, asook aan die Kosblikkie-projek se begunstigdes. Aanstaande jaar sal dit ook saam met die Skooltassie-projek aan behoeftige gr. 1-leerders versprei word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Pierreli ·

Ek dink dis ‘n wonderlike inisiatief!!!Goeie werk. Ons mense het die Woord so brood nodig.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.