Duisende kosblikkies danksy oom (90) se vrygewigheid

Oom-Arend-de-Kock

Oom Arend de Kock. Foto: Maroela Media / Leonie Bezuidenhout

Tydens die Anglo-Boereoorlog was Arend Josias de Kock, gebore in 1863, maar net een van derduisende boere wat dapper geveg, maar steeds alles verloor het – alles behalwe sy gesin wat in ʼn konsentrasiekamp oorleef het. Ná die oorlog het Arend gekies om op te staan en oor te begin. Die in-en-uitvoer-wolonderneming wat hy op die been gebring het, het gegroei en floreer, en ʼn groot rol in die opstaan ná die oorlog gespeel.

Op Dinsdag 3 Oktober vanjaar het sy kleinseun, oom Arend Josias de Kock, sy 90ste verjaardag gevier. Saam met sy verjaardagviering is hulde gebring aan ʼn man en ʼn familie wat besluit het om nie die opbrengs van hul oupa Arend en hul pa se harde werk  vir eie gewin aan te wend nie, maar om ʼn trust te stig wat ten doel het om die Afrikanergemeenskap by te staan.

Die Arend Josias de Kock-trust, wat op 28 Januarie 1998 amptelik geregistreer is, het onder meer reeds bydraes aan die Solidariteit Beweging gemaak om Akademia, die beweging se privaat tersiêre opleidingsinstansie, te help finansier. Daar word ook deurlopend bydraes tot die Solidariteit Helpende Hand se skoolvoedingsprojekte, studiefondse en skooltassieprojek gemaak.

“Dis lekker om te weet daar is êrens ʼn outjie in ʼn skool wat vandag, danksy Helpende Hand, ʼn kosblikkie het,” het Hendrik de Kock, mnr. De Kock se tweede seun en ook voorsitter van die trust se Raad van Trustees, tydens die verjaardagviering by Akademia se kampus in Centurion gesê.

Die verrigtinge is gelei deur dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit. Dr. Hermann het in sy toespraak die Arend Josias de Kock-trust, en De Kock spesifiek, geloof vir die reuse- finansiële bydrae wat hulle oor die jare aan die Solidariteit Beweging gemaak het.

“Die trust is gebore uit ʼn gees van nuut begin,” het dr. Hermann gesê. “Net ná die oorlog en spesifiek ná die Rebellie van 1914, het ons gesien hoe groot die rol van ‘help mekaar’ was. Daar is ʼn hele paar instellings deur gewone mense op die been gebring. ʼn Instelling soos Akademia is by uitstek so ʼn moderne, ‘help mekaar’-instelling uit die gemeenskap.”

De-Kock-gesin

Die De Kock-familie. Van links na regs: Elmari de Kock, Hendrik de Kock, oom Arend de Kock, Rudolph de Kock en Edalice de Kock. Foto: Maroela Media / Leonie Bezuidenhout

In sy toespraak het Hendrik de Kock beaam dat die neem van eienaarskap deel van hul familie se lewensfilosofie is, en dat hulle glo dit wat hulle tot hul beskikking het, is nie uitsluitlik vir eie gewin nie, maar ook om te gebruik in diens en tot voordeel van die gemeenskap.

Gemeenskap

“Deur die middele tot ons beskikking te gebruik om die Afrikanergemeenskap te bevorder, leef ons ook ons verantwoordelikheid teenoor dié gemeenskap uit,” het hy gesê. “Verder is dit belangrik om in terme van die toekoms te dink. Deur die voorbeeld as nageslag te volg, het my ouers besluit hulle wil ʼn verskil maak deur in die toekoms van die gemeenskap te belê. Dit is ook ʼn vervulling en dis lekker om te kan gee. Dit is lekker om te weet dat hulle iemand kon help om deur Akademia ʼn kwalifikasie te bekom wat hulle dalk nie andersins sou kon kry nie. Dis lekker om te weet daar is êrens ʼn outjie in ʼn skool wat vandag danksy Helpende Hand ʼn kosblikkie het.”

Flip-Buys-1

Flip Buys. Foto: Maroela Media / Leonie Bezuidenhout

Aflosstokkie

Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, het klem gelê op die vrygewigheid van die De Kock-familie. “Van my kant af wil ek vir oom baie dankie sê.”

“Oom was een van die eerste senior mense wat in ons droom geglo het. Ek haal graag vir Edmund Burke aan wat gesê het elke geslag is verantwoordelik vir sy eie tyd, en net een geslag wat nie sy verantwoordelikheid nakom nie, kan ʼn volk se einde beteken. Oom het beslis oom se verantwoordelikheid nagekom en ook die aflosstokkie vir ons geslag aangegee, net soos ons weer die stokkie vir die volgende geslag sal aangee.

“Ons is nie ʼn organisasie wat monumente bou vir die verlede nie, ons bou monumente vir die toekoms. As ek ʼn skenking met ʼn boom kan vergelyk: dit help nie jy kap ʼn boom af vir die vuurmaakhout nie. Oom het die klem op volhoubaarheid gelê. Nie net om die boom se vrugte te gebruik nie, maar om ʼn hele boord te plant. Ons wil vir oom die versekering gee dat ons voortgaan met die projekte waar oom se rol begin het, en ons sal dit ook aan ons kinders en kleinkinders oordra.”

Mnr. De Kock het sy waardering betoon teenoor die sprekers. “Eerstens baie dankie vir die gelukwensing met my verjaardag. ʼn Mens is op hierdie ouderdom maar dankbaar dat ʼn mens so ver kan kom,” het hy geskerts.

Konsentrasiekampe

“My oupa Harry was vir my ʼn groot inspirasie. Soos dit destyds in die Kaapkolonie gegaan het tydens die oorlog, is alles verengels. Sy naam Harry kom dus van Arrie (Arend) en die Engelse het dit toe sommer Harry gemaak.”

“Toe ek die eerste keer van Akademia hoor, was ek baie opgewonde,” het hy gesê. “Dit het my onmiddellik getref – hier is ʼn ding wat nou regtig ʼn goeie ding is, wat regtig nodig is en ondersteun moet word. Ek was vuur en vlam daarvoor. Dit was ʼn inisiatief wat ek gevoel het moet gebeur, en moet slaag.”

“Om so iets van die grond af te kry, is nie maklik nie. ʼn Mens het gevoel jy wil daar skouer aan die wiel sit en bydra, en dit was vir my ʼn uitstekende geleentheid om iets wat skoon by my ʼn passie geword het, te help. Ek is vol vertroue dat julle voortaan die geld gaan benut vir al die goeie dinge wat ons nodig het om te doen.”

Oom-Arend-en-Marthinus-Visser

Oom Arend de Kock en Marthinus Visser van Akademia. Foto: Maroela Media / Leonie Bezuidenhout

Tydens die verjaardagviering is ʼn ode aan mnr. De Kock oorhandig om hom te bedank vir die stig van die AJ de Kock-trust. Die bewoording daarvan lees soos volg:

Arend Josias de Kock – ʼn ode aan die gees van ʼn nuwe begin

Die Arend Josias de Kock-trust is in 1863 tot stand gebring met die geboorte van Arend Josias de Kock (oom Harry) en amptelik geregistreer op 28 Januarie 1998 deur Arend Josias de Kock (oom Arend), kleinseun van oom Harry.

Tydens die Anglo-Boereoorlog is oom Harry deur generaal De Wet as kommandant van die Frankfort-kommando aangestel. In die oorlog het hy al sy aardse besittings verloor. Die Vrystaat was die modelrepubliek en het onder leiding van generaal De Wet bittereinders opgelewer. Oom Harry was egter ook ná die oorlog ʼn “nuwe beginner”. Hy was ʼn indrukwekkende mens en sakeman, in hoë aansien in die gemeenskap – ʼn leier en volksman. Hy het baie vermag en onder meer die Boere Saamwerk Beperk (ʼn wolfabriek) bestuur en oor die land uitgebou. Sy doelwit was egter nie persoonlike gewin nie maar ʼn nuwe begin vir Afrikaners in moeilike omstandighede.

Oom Harry se seun, Willem Johan, het ná die Eerste Wêreldoorlog die graad “Doctor of Dental Surgery” aan die Universiteit van Michigan in Amerika behaal. Met sy heengaan het hy vir sy kinders die vermoë nagelaat om verder aan ʼn toekoms te bou. Sy seun Arend Josias de Kock het steen vir steen voortgebou op sy oupa en pa se fondament om ʼn reserwe op te bou waarin andere in die toekoms kon belê. Die Arend Josias de Kock-trust is in Suid-Afrika geregistreer en die tradisie van “nuwe beginners” word daarin voortgesit.

Hierdie ode is aan die gees van ʼn nuwe begin soos vergestalt deur Arend Josias de Kock en sy nageslag.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Perspektief ·

My hart wil bars van trots, dis nou bakgat Afrikaner, nee…Boere-Afrikaner. Die selfde fundingryke adel-volk wat van SA die legendariese land gemaak het, met sy sterk rand & weermag, die selfde land wat nou op sy kniee uit-bloei. Die volk wat deur propaganda as die muishond uitgekryt word. Mense soos die De Kock familie, help keer dat ons uitsterf aangesien ons identiteit ten sterwe is … dit is sowaar prysings waardig!

Mavis ·

Daarsy oom, dit is nou wat dit beteken om jou geld te sit waar jou mond is. Ek het NET RESPEK vir oom en oom se seuns .. julle lewer ‘n waardevolle bydrae tot die verligting van ander se armoede/nood.

Eish ·

O, dis pragtig! Dis die materiaal waarvan geskiedenis aanmekaargeweef word!
Dis waar die eerste tree gegee na n beter more. Dis waar inspirasie sy oorsprong het.

Theresa ·

Wat ‘n heerlike artikel om te lees!! Baie dankie aan ‘n wonderlike man en sy familie wat soveel omgee vir hul mense! Hoop die verjaarsdag was besonders!

Dankie ·

Baie dankie! Aan almal wat die mooi voorbeeld wil volg, skryf die skenking kontrakte so dat dit vir altyd na ons nageslag gaan sodat instansies soos universiteite wat sulke skenkings oor paar jaar of dekades juis weg van ons wil kanaliseer, nie slaag nie en die vondse oorgedra kan word na regverdige en goed bestuurde instansies. Ek verwys nou veral na skenkings aan universiteite van dekades terug wat nou van ons weerhou word.

Riena ·

Wat `n inspirerende berig! Ons hoop ook dat die familie de Kock genoeg kinders van hul eie sal kry om die verhaal te kan voortsit in kinders, kleinkinders en agterkleinkinders. Ons weet almal dat daar nie van `n nageslag gepraat kan word as ons nie vandag die kinders ontvang wat God vir ons wil gee nie. Ons almal kan leer van hierdie Oom en sy familie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.