Duisende stroom na Loftus om Kaapstad te help

Jacaranda FM se Elma Smit saam met Jack Parow en Martin Bester, sanger en Jacaranda FM-omroeper. Foto: Verskaf

Nagenoeg 30 000 mense het Saterdag na die Loftus Versfeld-stadion in Pretoria gestroom en aangesluit by Jacaranda FM se poging om broodnodige geld vir die Kaapstad-waterkrisis in te samel.

Dié geleentheid, wat deel vorm van Project Waterdrop, is tydens die Super Rugby-kragmeting tussen die Vodacom Blue Bulls en die DHL Stormers gehou.

Luidens ʼn verklaring van Jacaranda FM fokus Project Waterdrop spesifiek op die installering van boorgate met sonkragpompe by skole in die Wes-Kaap wat die swaarste deur die droogte geraak is, teen ʼn geraamde minimum koste van R50 000 per skool. Die radiostasie meen dié projek sal volhoubare, betekenisvolle en kostedoeltreffende hulp aan die skole in nood verleen.

Volgens JacarandaFM was daar nagenoeg 30 000 mense wat Saterdag na Loftus Versfeld gestroom het. Foto: Tim Moolman Photo

“Finale syfers word steeds bereken, maar deur die opregte inspanning van Jacaranda FM se luisteraars, onder wie name soos Solly Msimanga, Tshwane se uitvoerende burgemeester, Kagiso Mediase HUB, Mark Harris, Victor Matfield, Jean de Villiers, Bakkies Botha, Kobus Wiese, Jack Parow, Dewald Wasserfall en ons eie Martin Bester, het ons duisende rande ingesamel wat ons sal help om behoeftige skole by te staan,” het Kevin Fine, Jacaranda FM se algemene bestuurder, gesê.

Luidens die verklaring sal die eerste boorgat op 22 Junie gesink word en twee skole in arm gemeenskappe van water voorsien, naamlik Ocean View ELSN (Opvoeding vir Leerders met Spesiale Behoeftes) met 100 leerders en Kleinberg Laerskool met 600 leerders.

Die Stad Tshwane het R30 000 tot die projek bygedra. Hier is Dianne Broodryk van Jacaranda FM, Willem Strauss, president van die Blou Bulle-rugbyunie, en Solly Msimanga, burgemeester van Tshwane. Foto: Tim Moolman Photo

“Ons het ook op die dag meer as 210 000 liter water ingesamel en die span by DHL het goedgunstiglik aangebied om dit na Kaapstad te vervoer. Dit is ʼn fantastiese begin en ons moedig individue en maatskappye aan om asseblief aan te hou bydra in die volgende paar maande. Dit sal ons in staat stel om selfs nog meer skole te help,” het Fine gesê.

Diegene wat Project Waterdrop wil ondersteun, kan dit op die volgende maniere doen:

  • Deur ʼn skenking direk aan Jacaranda FM se Good Morning Angels te maak: FNB-rekening, takkode 255005, rekeningnommer 62411883590 met “ProjectWaterDrop” as verwysing.
  • Die 80-jarige Nathan Liedeman van Malmesbury in die Wes-Kaap is deur Jacaranda FM na Gauteng gevlieg om sy eerste Bulls-wedstryd by Loftus Versfeld te kyk. Foto: Tim Moolman Photo

    Deur Jacaranda FM se Facebook-blad of webwerf te besoek en die SnapScan-kode op die Project Waterdrop-beeld te gebruik om ʼn skenking te maak.

  • Deur ʼn skool, of skole, aan te neem, deur die volle R50 000 per skool te dek. Dit kan gedoen word deur ʼn e-pos te stuur na [email protected] met “Project Waterdrop Adopt A School” as onderwerp en die besonderhede van die bydrae in die e-pos.
  • Deur die goeie nuus oor hierdie inisiatief te help versprei op sosiale media met die hutsteken #ProjectWaterDrop en #CC4CT (Capital City for Cape Town).

Vir meer inligting, besoek www.jacarandafm.com.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

rollie ·

Soos dit goeie gaste betaam, het die Stormers maar die rugbywedstryd aan die Bulle gegee. ‘n Mens kan mos nie die gasheer met die helpende hand in die verleentheid stel nie, dis slegte maniere.

Harry ·

Ek werk sedert 2010 in die Kaap en bly 5 km vanaf Kaapstad, maar is ‘n Pretorianer en kom elke tweede naweek huis toe. As dit nie vir die media was nie, sou ek nooit gedink het dat water skaarser in die Kaap as in Pretoria is nie. In die Kaap het die krane nog nooit opgedroog nie en is daar feitlik geen kragonderbrekings of slaggate in die paaie nie. In Pretoria is daar gereelde kragonderbrekings, wateronderbrekings en ontelbare slaggate in die paaie. Watertariewe in die Kaap is egter baie hoog en die stadsraad maak genoeg geld uit hul waterverkope, maar dit is ironies dat selfs nadat die media bekend gemaak het dat die Kaapse krane nie meer gedurende 2018 gaan opdroog nie, dat Pretorianers geld insamel vir Kaapstad? Wat van die arme boere waar dit glad nie gereen het nie en hul nie meer ‘n bestaan kan maak nie – moet hul nie eerder die mediadekking en hulp kry nie?

Lynette Schultz ·

Angus Buchan het verlede jaar November in die parlement, toe hy daar gaan bid het, gesê teen Maart 2018 sal die droogte in die Kaap gebreek en die damme vol wees….

BlyBul ·

Daar’s genoeg trane in die Kaap na die game! Die Stormers word mos stom wanneer hulle verloor :D ROFLOL

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.