E-rommel g’n weggooigoed

Justin van der Walt FOTO: Atterbury Trust

Justin van der Walt FOTO: Atterbury Trust

Ten spyte van ʼn motorfietsongeluk op die ouderdom van 16 wat hom die meeste van die gebruik van sy regterarm gekos het, het Justin van der Walt nie toegelaat dat enige tekortkoming hom verhoed om groot drome na te jaag en ‘n e-rommel herwinningsmaatskappy te begin nie.

Van der Walt is in 2013 as wenner van die Bestaande Besigheidsprys van die Akademia Sakeplankompetisie gekroon. Akademia gee jaarliks erkenning aan verskeie sakeondernemings in Suid-Afrika wat nuut en innoverend is. Van der Walt se onderneming het ook verskeie ander pryse ingepalm. Dit sluit onder meer in die tweede plek in die SA SMME Award in 2009, Kaapstad se entrepreneurskompetisie in 2011, finalis in Entrepreneur SA 2013 en DHL Rising Star 2013.

Van der Walt is kort na sy motorfietsongeluk ingeskryf vir ’n rekenaarkursus waar hy ’n gaping in die Suid-Afrikaanse mark geïdentifiseer het en ’n besigheidsidee daarvoor ontwerp het.

Die Atterbury Trust het met hom gesels om meer oor die merkwaardige besigheidsman en sy onderneming, JUST PCs, uit te vind. Die besigheid het ’n herstel-vir-donasie program wat verseker dat maatskappye op verantwoordelike maniere van e-rommel kan ontslae raak.

Van der Walt verduidelik dat maatskappye wêreldwyd ongeveer 50 miljoen ton e-rommel per jaar produseer. Toestelle soos ’n selfoon, rekenaar en televisie besit gevaarlike elemente soos lood, kwik en kadmium. Die onverantwoordelike weggooi van die toerusting kan lei tot die besoedeling van drinkwater. Dit is ook ’n gesondheidsrisiko om toerusting sonder die regte vaardighede probeer herwin.

Die toename van tegnologiese toerusting in maatskappye veroorsaak dikwels dat organisasies elke drie tot vyf jaar verouderde toerusting vervang. Dit is egter onwettig om dié toerusting ashoop toe te stuur, wat veroorsaak dat duisende ou rekenaars en ander toerusting in stoorkamers van maatskappye beland.

JUST PCs win dié ou toerusting by maatskappye in en herstel dit. Met die winste wat van die toerusting gemaak word, word die onderneming uitgebrei en voordele word in die gemeenskap teruggeploeg. Hulle het onlangs meer as 1 000 rekenaars aan nie-winsgewende organisasies en skole geskenk. Elke rekenaar wat geskenk is, het ʼn 12-maande waarborg.

Die Akademiaprys het hom in staat gestel om verder te studeer en hy het in 2014 sy eerste jaar van ’n diploma in kleinsake-bestuur en entrepreneurskap geslaag. Sy studies het ook tot nuwe projekte vir JUST PCs gelei. Hy het die prysgeld, R75 000, in die onderneming teruggeploeg.

Die Verenigde Nasies het tydens die verfilming van ’n dokumentêr in 2010, oor die moets en moenies van e-rommel, erkenning aan JUST PCs gegee. Tydens die verfilming is dit beskryf as ’n maatskappy wat op ’n omgewingsvriendelike en sosiaal-verantwoordelike manier met e-rommel werk.

Van der Walt koester groot drome vir JUST PCs en droom daarvan om as markleier op die Suid-Afrikaanse landskap te dien met takke in meeste groot stede. Hy het ’n passie vir sy onderneming en vir die verskil wat dit kan maak in die lewens van mense en die aarde. Hy beplan ook om internasionaal uit te brei. “Nuwe entrepreneurs moet altyd oop wees vir raad en perspektiewe om ’n sukses van ’n sake-idee te maak,” sê hy.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Eliza-beth ·

Hierdie is nou groter en beter nuus as die Mej SA uitslag! Verdien eerder om op die eerste bladsy van die nuus te wees! Baie geluk met jou prys – welverdiend!

j muller ·

Fantasties!!!! Wys wat gedoen kan word as net wil! Die kleinste skeet knou ons om moed op te gee…. kyk wat het hy vermag met die verstand van God gekry… terugslae en die WIL om n beter omgewing vir toekoms te skep. As elk wil n verskil maak, kan wereld n baie beter nalatingskap vir nageslagte wees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.