Echo-huis wen wasmasjien deur ‘Vuil Wasgoed’-inisiatief

Bouwer-en-kinders

Bouwer Bosch saam met die inwoners van die Echo-jeugontwikkelingshuis. Foto: Maroela Media / Leonie Bezuidenhout

Die Pretoriase Echo-jeugontwikkelingshuis, Vyfster, het Vrydag ʼn aangename verrassing gekry toe Bouwer Bosch namens die span van die Vuil Wasgoed-fliek ʼn splinternuwe wasmasjien aan dié huis oorhandig het.

Echo het verskeie huise in Pretoria, Johannesburg en die Kaap, asook kommunes vir jong volwassenes wat klaar is met skool en reeds werk of studeer. Vyfster is een van die kommunes wat jong mense van 18 jaar en ouer huisves.

Die kompetisie vir die wasmasjien is deur Vuil Wasgoed van stapel gestuur en deur King Price-versekeraars geborg.

“Dit is seker al ʼn jaar dat die huis nie ʼn werkende wasmasjien het nie,” het Natalie de Winnaar, huidige huismoeder vir Vyfster, gesê. “Ons vorige maatskaplike werkster, Sané Leach, is al jare deel van die Echo-gemeenskap. Sy het van Bouwer-hulle se kompetisie te hore gekom, en het besluit om as ʼn verrassing namens die huis in te skryf om die nuwe wasmasjien te wen.”

De Winnaar sê die waarde wat die wasmasjien in die huis toevoeg, kan nie beskryf word nie. “Ons ouens werk baie hard en lang ure en het nie noodwendig vervoer nie. So, om dan te moet huis toe kom en nog soek na ʼn plek om wasgoed te doen, is regtig ʼn kwessie. Almal wat in hierdie huis woon, is verantwoordelik vir hulle huishoudelike take, omdat ons hulle hier leer van werksetiek en selfstandigheid.”

Inwoners-kyk-na-masjien

Die inwoners van die Echo-huis bekyk hulle splinternuwe wasmasjiene. Foto: Maroela Media / Leonie Bezuidenhout

Volgens TK Motsoege, ʼn inwoner van die huis, moes hulle voorheen die wasgoed na een van die ander Echo-huise in die omgewing dra om te laat was. “Dis nie so ver om te stap nie, maar dit kan vreeslik swaar word om te dra,” het hy geskerts.

“Dit is altyd vir ons lekker om met kreatiewe projekte soos flieks mense op die een of ander manier by ons betrokke te kry,” het Bosch gesê. “Ons het die kompetisie op die been gebring om hande te kan vat met die gemeenskap en iets terug te gee.”

Stephan Bredell, bemarkingsbestuurder by King Price-versekeraars, sê dit is vir hulle maatskappy ook belangrik om terug te ploeg in die gemeenskap. “King Price wil Suid-Afrika ʼn beter plek maak. Daarom het ons besluit om hande te vat met Vuil Wasgoed deur vir iemand wat dit baie nodig het ʼn wasmasjien te skenk,” het hy gesê.

Hou gerus Maroela Media dop. Maroela en Vuil Wasgoed stuur eersdaags ʼn kompetisie van stapel vir een gelukkige Maroela-leser om ook ʼn splinternuwe wasmasjien te wen.

Vuil Wasgoed word op 8 Desember in fliekteaters landswyd bekend gestel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.