Een jaar, twee ondernemings en ʼn honneursgraad

Percival

Sommige studente gaan studeer by tersiêre instellings om ʼn graad te verwerf. Maar as jy Percival van der Walt is, verwerf jy jou honneurs in Eiendomswese in dieselfde jaar wat jy twee suksesvolle en winsgewende ondernemings op die been bring. Die Atterbury Trust het met dié uitsonderlike jong man gaan gesels.

Van der Walt het vanjaar spesifiek gespesialiseer daarin om meer omgewingsvriendelike metodes vir geboue en ontwikkelings te ontwerp om rommel en afval te verwerk.

Dié dinamiese jong man sê die sukses van die twee ondernemings wat hy gestig het, berus op die feit dat hy altyd op soek is na nuwe geleenthede. “Die eerste een het ontstaan toe ʼn finansiële-adviseur vriend, Wenzel Appelgryn, my raad gevra het oor ontwikkeling. Hy het ʼn stuk grond gehad wat hy wou verkoop, maar toe begin hy wonder of hy dit nie self kan ontwikkel en ʼn groter wins kan maak nie. Ek spesialiseer in eiendom en daarom kon ek vir hom goeie raad gee. Vandaar het ons (ek en Wenzel) besluit om vennote te word,” vertel hy.

Percival sê die ondernemings is nie net winsgewend nie, hy maak reeds baie goeie geld daaruit. “Ons maatskappy, Grace Corner Developments, is geregistreer en ons is besig met ons eerste groot transaksie waarmee ons verwag om goeie wins te maak. Ons tree basies op as middelman tussen verkopers van erwe en ʼn ontwikkelaar wat grond soek om te ontwikkel.”

Hy het sy tweede onderneming, Le Pap, begin ná hy besef het dat mense wat by boupersele werk, gewoonlik nie die geleentheid het om vinnig kos te koop nie. Met dié onderneming het hy ook in ʼn vennootskap met Louis Lombaard getree. Hy het op klein skaal aan hulle begin kos verkoop. “Ek het so ʼn paar maande gelede verby ʼn bouperseel gedraf en toe wonder ek skielik of die ouens wat daar werk, nie honger word nie. Ek het ʼn paar somme gemaak en toe begin ek informeel pap en sous verkoop by een bouperseel waar Louis betrokke was. En jy sal verbaas wees hoe baie wins jy kan maak.”

Percival beplan om die onderneming baie uit te brei. “Ons wil volgende jaar stelsels ontwikkel om gereeld meer maaltye by boupersele te verskaf. As mense op ons staatmaak om elke dag hul middagetes te verskaf, moet jy elke dag daar wees, wat ons nog nie nou kan doen nie. Ons wil dalk ʼn koswaentjie kry en een of twee mense aanstel wat die daaglikse kook en verspreiding van die kos kan hanteer,” verduidelik hy.

Hy meen enigeen kan ʼn onderneming begin, selfs met min kapitaal. “Met Grace Corner was dit letterlik die R500 vir die maatskappy se registrasiekoste en my maandelikse foonrekening! Ons het nie regtig spesifieke kapitaaluitgawes nie. En met Le Pap was dit ʼn pot, die bestanddele en petrol vir die bakkie.”

Sy raad aan mense wat graag ondernemings wil begin, is om nie te wag vir dinge om te gebeur nie. “As jy nie self iets aan jou situasie doen nie, gaan jy vir altyd wag. Daar is oral geleenthede, mens moet net jou oë oophou en as jy ʼn gaping raaksien, hom vat,” sê hy.

Hoewel die toekoms vir die twee ondernemings goed lyk, wil hy graag ʼn voltydse werk by ʼn boufirma kry om verdere ondervinding op te doen. “Ek weet ek kan nog baie leer en by ʼn groot maatskappy sal ek kan ontwikkel en waardevolle ervaring opdoen. Ek het ʼn paar onderhoude wat voorlê en ek hoop ek kry ʼn betrekking by ʼn goeie boufirma. Maar ek sal altyd my eie ding ook doen en my langtermyndroom is beslis om self ʼn ontwikkelaar te wees met my eie onderneming,” sê hy.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Johann Bakkes ·

Baie geluk en wel gedaan! Ons het meer sulke mense nodig wat eie inisiatief aan die dag kan lê. Voorspoed en sukses met die studies en besighede wat volg.

Johann Marx ·

Well done….maar die Bybel sê daar is niks nuuts onder die son nie. Daar is hordes maatskappye wat presies dieselfde doen. Middelman tussen grond-eienaar en ontwikkelaar….en kos karavaantjies by bou-persele.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.