Eerste kunstefees wat op SA-televisie uitgesaai word

Saartjie Botha het meer oor die nuwe formaat van die Woordfees vertel. (Foto: Greteli Fincham)

Die Toyota US Woordfees TV-opwipkanaal, Fees TV, is die eerste kunstefees wat op Suid-Afrikaanse televisie uitgesaai sal word en sal van 1 tot 7 Oktober op die lug wees. Dis natuurlik geen grap om ’n hele fees vir televisie te verfilm nie. Maryke Roberts het met Saartjie Botha, Toyota US Woordfees-direkteur, oor dié reusetaak gesels.

Belangstellendes wat nie DStv-intekenaars is nie, kan slegs vir ’n maand inteken en die hele fees in hul sitkamer geniet. Fees TV is vir daardie sewe dae in Suid-Afrika 24 uur ’n dag op DStv-kanaal 150 beskikbaar aan alle Premium- en Compact Plus-intekenaars. In Namibië word dit op GOtv-kanaal 15 uitgesaai, waartoe alle GOtv Max-intekenaars toegang het. Die Fees TV-opwipkanaal sal ook op DStv Now beskikbaar wees asook ’n keur van aanbiedings op DStv Catch Up.

Met die aankondiging van die grendelstaat in Maart 2020 was die Toyota US Woordfees op sy laaste dag. Saartjie sê almal het aanvanklik gedink inperking en Covid gaan ’n paar maande duur en dat alles teen 2021 min of meer soos voorheen sal verloop.

Soos die maande verbygegaan het, het die besef egter deurgedring dat die pandemie veel langer gaan duur. Daar is gevolglik op twee feeste vir 2020 besluit: ’n kleiner fees in Maart en ’n groter fees in September.

“Teen laat April het ons egter besef daar is geen veilige manier om ’n fees in September, onder die huidige inperkingsvlak se beperkings aan te bied nie. Daar is behoorlik in ons kantore by Erfurthuis op Stellenbosch kopgekrap. Navorsing het getoon dat stromingsdienste om verskeie redes nie werk nie. Die idee van ’n opwipkanaal het begin vorm aanneem.”

Sy sê stroming is ’n makliker opsie, maar sy dink mense is moeg vir rekenaarskerms na heeldag se aanlyn vergaderings. “So, as hulle ontspan, wil hulle nie deur ’n rekenaar werk nie. In die Covid-wêreld is ’n televisieskerm bietjie van ’n event en ’n rekenaar nie noodwendig nie. Daar is baie redes hoekom stroming nie gewild is nie, maar dit sou ons in elk geval baie gekos het om op te neem. Nou kos dit ons ’n bietjie meer, maar hopelik is ons inkomste en wins daaruit groter in terme van kwaliteit.”

Gat in die grond. (Foto: Verskaf)

Saartjie en haar Woordfees-span het dié idee na Aletta Alberts, programhoof van MultiChoice, geneem wat dadelik hiertoe ingestem het. Aletta is in Julie vanjaar aan Covid oorlede en sal dus nooit ervaar hoe haar visie tot uiting sal kom nie.

Om ’n kunstefees te reël, is waar die span se vaardighede lê, sê Saartjie. “Om ’n fees vir TV te verfilm, is buite ons ervaringsveld. Ons is ’n kunstefees, nie ’n televisiekanaal nie. Ek het in my persoonlike hoedanigheid ’n bietjie televisie-ondervinding, maar die hele span is glad nie daarvoor opgelei nie. Ons het ’n hele gros kundiges genader om te help. Ons het daardie kultuur van gunste voortgesit en regisseurs, filmmakers en TV-kenners betrek.

“Boekbesprekings en diskoers-gesprekke was natuurlik makliker om te verfilm. Konserte en toneelstukke het hul eie uitdagings gebring. Een hiervan is die opname van die Stellenbosch Universiteitskoor se konsert. Dis nog nie afgehandel nie, omdat die individue in die groep meer is as die huidige inperkingsregulasies se maksimum getal vir samekomste. Ons sal die konsert opneem, al moet dit ook buite gedoen word,” vertel sy.

Teaterregisseurs moes saam met televisieregisseurs en klankmanne werk omdat die medium heeltemal anders is.

Die fees is een week op die opskiet-kanale te sien. Saartjie vertel dat hulle nie alleen lisensiëring en die kostes daaraan verbonde in ag moes neem nie, maar ook hoeveel ure per dag mense televisie kan kyk.

“Kaartjieverkope is deel van ons begroting, maar met hierdie opwipkanaal is daar geen kaartjieverkope nie. Ons moet op advertensies staatmaak, maar wil ook nie programme met advertensies onderbreek nie,” vertel sy. Daar sal wel tussen programme advertensies uitgesaai word.

Wanneer feesgangers in die verlede hul feeskaartjies vir kunstefeeste bespreek het, het hulle natuurlik verskeie opsies in elke tydsgleuf. Die liniêre program op die televisie het goeie beplanning geverg, want daar is natuurlik net een tydsgleuf en met die programsamestelling moes daar mooi gedink word om iets vir almal se smaak in te sluit.

‘n Toneel uit “Ferine and Ferase”. (Foto: Nardus Engelbrecht)

Daar is boonop drie tipe gehore: dié wat graag soggens vertonings bywoon, ander vir wie smiddae beter sal werk en dan die naguile wat verkies om laataand te kuier. Hierdie drie tipes moes in ag geneem word en Saartjie hoop dat almal saam na die opwipkanaal toe sal oorskuif.

Fees TV bring die verskeidenheid en vreugde van een van Suid-Afrika se grootste kunstefeeste na die kassie. Die program sluit ’n wye verskeidenheid van genres in wat top plaaslike talent tentoonstel: teater, skrywers en boeke, dans, leefstyl, stand-up-komedie, kontemporêre en klassieke musiek, film, diskoers en visuele kuns. Daar is altesaam 120 programitems.

Sy sê as sy vir mense kan verduidelik hoe belangrik dit is dat hierdie fees moet gebeur, sal sy begin deur te sê dit was vir die Woordfeespersoneel baie belangrik om vanjaar iets te doen.

Daar is jaarliks meer as 600 mense by die Woordfees betrokke. Hulle begin met ’n span van ses en hoe nader aan feestyd dit kom, hoe meer tydelike personeel en spesialiste word betrek.

Sy sê vanjaar het hulle natuurlik heeltemal ander behoeftes gehad – meer spesialiste met TV- en filmkennis – vennote waarmee hulle nie noodwendig vantevore saamgewerk het nie. “Ons het dus nie noodwendig dieselfde impak op ons tradisionele feesbedryf nie, maar hopelik ’n impak op ’n ander bedryf wat ook swaarkry.”

“Ons wou iets doen, want ons wil ons eie handelsmerk lewendig hou. Ons het verpligtinge teenoor borge, en wat baie swaar op ons gewete lê, is die lot van kunstenaars. Die Afrikaanse bedryf is meestal vryskut en as jy die ses Afrikaanse kunstefeeste wegneem, is daar bitter min gestruktureerde geleenthede vir hierdie kunstenaars oor. Die bietjie werk wat deur teaters geskep is, het ook weggeval. Dis vir hulle soos ’n dobberende oop see met geen einde in sig nie. Ons het besef ons het ’n verantwoordelikheid teenoor ons kunstenaars, want mense gaan die bedryf verlaat; niemand kan onbeperk sonder enige inkomste oorleef nie. Dit was die grootste dryfveer om hierdie fees te doen.”

Sy sê hul personeel het die luukse gehad om salarisse te ontvang en het ʼn sterk verantwoordelikheid gevoel dat hul posisie ingespan kon word sodat kunstenaars gehelp kan word. “Ons is nie ’n oplossing vir die bedryf nie, maar ons kon dalk ’n paar kunstenaars met hierdie projek help en inkomste genereer om hulle vir twee of drie maande te help oorleef.”

“’n Groot verskeidenheid inhoud deur plaaslike vervaardigers is uitgesoek met die belangstellings en voorkeure van ons lojale feesgangers in gedagte. Die feesprogram sal dus by alle kultuurnuuskieriges en liefhebbers van die kunste, boeke, musiek, goeie kos en wyn aanklank vind. Mense uit verskeie omgewings en agtergronde sal kan saamkom rondom hul entoesiasme vir die kunste om skoonheid, skouspel, debat, stimulerende en uitdagende idees en ’n gevoel van gemeenskap te ervaar. Leefstylinhoud sal op alles fokus wat Stellenbosch en omgewing bied, aangesien dit die plek is waar die fees gewoonlik aangebied word,” sê Saartjie.

“Die feit dat daar ’n fees is, is natuurlik die grootste voordeel vir kunstefeesliefhebbers,” sê sy. “Dis moeilik om ’n fees in hierdie omstandighede aan te bied. Daar was verskeie pogings deur ander feeste, maar die meeste mense was teleurgesteld. Ons het ook mettertyd fanatiese of spesialisfeesgangers ontwikkel: hulle kyk nét toneel, of nét musiek, of woon nét boekgesprekke by. Nou dwing ons ons gehoor om te diversifiseer. Ek hoop dat dié wat aanvanklik nie toneel wou kyk nie, dalk sal besef dat hulle in die toekoms tóg ’n toneelkaartjie sal wil koop; of dat boekgesprekke nie diep en onverstaanbaar is nie, maar iets vir elkeen bied. Dieselfde met musiek, komedie en dans.” Met diversifisering word die gereelde feesganger nou aan ander genres blootgestel.

“Natuurlik het ons ook nou toegang tot ’n baie groter gehoor waarvan baie nog nooit by ’n kunstefees was nie. Hopelik gee dit hulle ’n voorsmakie en woon hulle in die toekoms kunstefeeste by – nie net die Woordfees spesifiek nie. Ons wil graag glo dat ons met gehoorontwikkeling vir die groter Suid-Afrikaanse gehoor besig is.”

Die Stellenbosch se koor. (Foto: Retha Ferguson)

Die hele proses was ’n baie groot leerkurwe. Sy verduidelik dat die groot ooreenkoms tussen ’n tradisionele en televisiefees die inhoud daarvan is. “Wat wel verskil, is die voertuig hoe die inhoud by die kyker en feesganger uitkom. Die TV-bedryf is baie gestruktureerd; elke sekonde kos geld. In ’n tradisionele kunstefeesomgewing word tyd in ’n groot mate opgehef.

“Feesgangers is vry van tradisionele beperkings. Hulle is dalk so ’n klein bietjie meer onverantwoordelik as wat hulle normaalweg is. Hul drink dalk ’n glasie meer wyn as gewoonlik.

“Mense kyk minder op hul horlosies. Hulle is betyds vir vertonings, maar soms bly ’n vertoning in die slag, omdat hulle minder gestruktureerd is en hulself vir ʼn ervaring oopstel wat hulle ʼn bietjie onverhoeds betrap. Ek hoop ons kan iets rondom hierdie opheffing van tyd regkry; dat mense ook nie heeltemal sal tred hou met hoe laat dit is nie. Ons kan egter wel by die noukeurigheid van TV leer wanneer ons weer eendag ’n fees aanbied – en ek hoop daardie dag kom gouer as later.”

Saartjie erken haar grootste persoonlike uitdaging was ook die lekkerste bevryding. “Sover ons kon vasstel, is hierdie konsep nog nêrens in die wêreld aangebied nie. So, ons het nêrens iets gehad waarteen ons onsself kon meet nie, waar ons kon sien hoe dit aangepak is nie, lesse geleer is nie. Ons doen hierdie ding op suiwer intuïsie. Ons ken ons feesgehore en het ’n idee waarvan mense hou in terme van inhoud op TV, so ons grootste uitdaging was dat ons nie regtig weet of ons op die regte pad is nie. Ons grootste bevryding is dat ons ons intuïsie kan vertrou en ek glo hierdie gaan werk.”

ʼn Mens kan nie help om te wonder as die inperking nié verslap nie en 2022 ook só hanteer moet word, hoe die span dit anders sal benader. Hierop antwoord sy: “As ons weer ’n TV-kanaal in 2022 doen, sal ons beslis vroeër begin en meer genuanseerd kyk na wat ons benodig, veral vir die werk van kunstenaars wat ons lisensieer –  dus dié waarvoor ons nie opdrag voor gegee het nie – sodat hulle duideliker riglyne het van wat ons benodig, hoe lank dit moet wees, en wat die tegniese vereistes daarvan is. Kunstenaars kan dan binne riglyne werk en nie tyd en geld in projekte belê wat dan nie noodwendig realiseer nie.”

Saartjie sê ongeag of daar ’n fees in 2022 gehou kan word of nie, dit waarskynlik die moeite werd is om te kyk hoe ’n TV-kanaal parallel met ’n fees aangebied kan word. Dis duur om ’n fees by te woon en nie vir almal beskore nie. Hierdie is ’n medium om die fees by meer mense uit te kry. Hoe meer mense kyk, hoe meer werksgeleenthede is daar vir kunstenaars, want hoe meer geïnteresseerd sal borge wees.”

Sy sluit af deur te sê die Woordfees is deel van ’n ekostelsel: geen werk word in isolasie geskep nie. Teaters en ander feeste maak ook die Woordfees moontlik. Die Woordfees kan egter ook nie die verantwoordelikheid vir die hele teaterbedryf op sy skouers neem nie.

“Ek hoop daar is in die toekoms groter samewerking tussen al die entiteite. Almal was maar skepties en huiwerig om te sien of dit realiseer. So ek hoop ons oortref almal, en ons eie, se stoutste verwagtinge.”

Hoogtepunte en ankerproduksies is onder meer:

Skrywersfees

Nataniël is deel van die Woordfees se skrywersfees.

Die Woordfees het 21 jaar gelede as ’n deurnagpoësiefees begin, en boeke en skrywers is steeds die hart van die program. Skrywers, digters en denkleiers wat op Fees TV sal optree, sluit in Lien Botha, Andries Bezuidenhout, Nataniël, Nathan Trantraal, Joan Hambidge, Zandra Bezuidenhout, Bernard Odendaal, Ashwin Arendse, Veronique Jephtas, Dominique Botha, Jolyn Philips, Hilda Smits, Rudie van Rensburg, Erns Grundling, Ingrid Jones, Reuben Riffel, Max du Preez, Oscar van Heerden, Albert Grundlingh, Louise Viljoen en Willem Anker.

Toneel

Die Fees TV-teaterreeks sluit in:

Die veelbekroonde Valsrivier (gegrond op Dominique Botha se pryswennerroman) met Anna-Mart van der Merwe, Tinarie van Wyk Loots en Stian Bam. Teaterregie deur Janice Honeyman en filmregie deur Christiaan Olwagen.

2020 Fiësta-wenner vir beste aanbieding, Die poet, wie’s hy?, ’n viering van Adam Small se digkuns, met Dean Balie. Teaterregie deur Frieda van den Heever en filmregie deur Christiaan Olwagen.

Reza de Wet se Mis met Nicole Holm, Martelize Kolver, Jane de Wet en Laudo Liebenberg. Teaterregie deur Wolf Britz en filmregie deur Jaco Bouwer.

Adam Small se Krismis van Map Jacobs met June van Merch, Ilse Klink, Dann-Jacques Mouton en Elton Landrew. Teaterregie deur Jason Jacobs en filmregie deur Jaco Bouwer.

Ferine and Ferase met teaterlegendes Andrew Buckland en Sylvaine Strike. Teaterregie deur Toni Morkel en filmregie deur Jaco Bouwer.

Die satiriese speletjiesprogram Off the Record van die Standard Bank Jong Kunstenaar-wenner Jefferson “J Bobs” Tshabalala.

Hannes van Wyk in die gewilde eenmanstuk, Sê groete vir ma.

Hannes van Wyk is te sien in “Sê groete vir Ma”. (Foto: Verskaf)

Klassieke musiek

Kykers kan uit ’n verskeidenheid konserte kies: die wêreldbekende Stellenbosch Universiteitskoor; pianis Megan-Geoffrey Prins; Italiaanse opera-arias met bariton Theo Magongoma, sopraan Kimmy Skota en tenoor Arthur Swan; die Kaapstadse Barok-ensemble met Handel se Londen-operas; mezzo-sopraan Minette du Toit Pearce begelei deur Phillipus Hugo; pianiste Nina Schumann en Luis Magalhães; en Zorada Themmingh op die orrel van die Moederkerk in Stellenbosch.

Kontemporêre musiek

David Kramer (Foto: Verskaf)

Hoogtepunte in dié reeks sluit in:

  • ’n Viering van David Kramer se 70ste verjaardag met Emo Adams, Loukmaan Adams, Robin Auld, Schalk Joubert en vriende: Boland tot Broadway.
  • Karen Zoid sing 20 van haar grootste treffers onder begeleiding van die Kaapstadse Filharmoniese Orkes.
  • Karoo Suite – ’n ode aan die skoonheid van die Groot-Karoo in woord, musiek en beeld deur Coenie de Villiers en Deon Meyer.
  • Luna Paige, Ramon Alexander, Frazer Barry en ander vier die herkoms en verskeidenheid van Afrikaanse musiek in Smeltkroes.

Ook op die musiekspyskaart: Amanda Strydom, Spoegwolf, Die Heuwels Fantasties (met Francois van Coke, Tarryn Lamb en Jack Parow), jazz, kabaret, folk, swing en toonsettings van gedigte.

Stand-up-komedie

Lag saam met 13 van die land se gewildste komediante: Marc Lottering, Schalk Bezuidenhout, Nik Rabinowitz, Shimmy Isaacs, Alan Committie, Bennie Fourie, Alfred Adriaan, Melt Sieberhagen, Kagiso Mokgadi, Joey Rasdien, Hannes Brümmer, Conrad Koch en Wayne McKay.

Die programinhoud van Fees TV is hoofsaaklik in Afrikaans, maar daar is ook Engelse en meertalige werk op die program. Alle Afrikaanse programme met narratiewe inhoud, soos toneelstukke en diskoers, sal Engelse onderskrifte hê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.