Eerste Nasionale Huweliksweek in SA

Argieffoto

Argieffoto

Nasionale Huweliksweek, ’n inisiatief wat vanjaar vir die eerste keer sal geskied vanaf 1-7 September, dien as ’n bewusmakingsveldtog en projek wat paartjies sal inspireer om weer op die welstand van hul huwelike te fokus.

Daar word beweer dat ’n gemiddeld van tussen 50% en 66% van alle SA huwelike in die skeihof eindig. Statistieke soos dié is kommerwekkend. In 2011 is 20 980 egskeidings toegestaan en altesaam 18 571 kinders vorm nou as gevolg van dié jaar se egskeidings deel van gebroke huisgesinne.

Daar is ook, volgens 2010 se statistiek, bevind dat die grootste hoeveelheid huwelike (27,3%) tussen vyf en nege jaar lank duur. Altesaam 20,9% het minder as vyf jaar gehou. Altesaam het dus amper die helfte van die huwelike wat in daardie jaar geregistreer is, minder as tien jaar geduur!

Verskeie van ons land se bekendste getroude persoonlikhede staan op vir huwelike gedurende dié week. Die inisiatief, ’n gesamentlike projek deur INTIEM-tydskrif, ULSANIC, Intimacy4Us en die tydskrif I do, moedig getroude paartjies aan om weer beheer te neem oor hul huwelike.

Verskeie media-platforms, bekende persoonlikhede, sake-ondernemings en beraders sal deelneem aan dié inisiatief.

Regerings-leiers sal ook by dié projek betrek word. “Mislukte huwelike in Suid-Afrika is ‘n nasionale krisis wat dringend aangespreek moet word, want egskeidings het ‘n direkte invloed op die welstand van ons samelewing. Misdaad, depressie, werkloosheid ek alkoholisme is alles dikwels uitvloeisels van gebroke huisgesinne. Daarteenoor kweek gesonde huwelike ‘n jeug met toekomsvisie” meen Annelize Steyn, redakteur van INTIEM.

Die huwelik hou verskeie voordele in, onder meer ’n langer lewe, meer sosiale kapitaal en beter gesondheid.

Gedurende dié week sal getroude paartjies landwyd die huwelik as instelling vier. Paartjies sal aangemoedig word om te fokus op hul huweliksverhouding en om die struikelblokke in hul huwelik te konfronteer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Louise ·

Ek het hierdie net so oorgeneem en in ons weeklikse Gemeente afkondigings blaadjie gesit!

johan storbeck ·

as dit ‘n foto van twee vroumense is, maroela media geskiedenis!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.