Eerste ‘Onnieveerder’ kry erkenning vir innovasie

Koos Boshoff, die hoof van Hoërskool Stoffberg, Noelen Smith, die Onnieveerder van die Jaar en RTT-onderwyser, en Valentyn van der Merwe van die SOS. (Foto: Verskaf.)

Noelene Smith, ʼn rekenaartoepassingstegnologie (RTT)-onderwyser aan die Hoërskool Stoffberg in Brakpan, is aangewys as die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS) se heel eerste Onnieveerder van die Jaar.

ʼn Onnieveerder is ʼn onderwyser wat buite die boks dink, innoverend is en aanlyn leer op ʼn praktiese vlak aanwend. Sodoende word ʼn positiewe verskil in leerders se onderrig gemaak.

“Na ʼn jaar soos 2020 met meer as normale uitdagings, het ons almal opnuut respek vir die harde werk wat onderwysers doen. Die gehalte van ʼn onderwysstelsel is net so goed as die gehalte van sy onderwysers. Afrikaanse onderwys se gehalte is uitnemend; dit vergelyk met die wêreld se bestes.

“Die SOS weet dat toponderwysers tegnologie gebruik om leer te optimaliseer. Dit is juis waarom die SOS-Onnieveerder van die Jaar-kompetisie van stapel gestuur is,” het Valentyn van der Merwe, hoof van innovasie by die SOS, gesê.

Noelene Smith ontvang haar prys van Valentyn van der Merwe. (Foto: Verskaf.)

Tientalle inskrywings is vir die kompetisie ontvang en Smith is Maandagoggend op Wêreldonderwysersdag by haar skool met die prys verras. Sy is deur van haar gr. 11-leerders vir die prys genomineer.

“Juffrou Smith het ons so mooi op datum gehou gedurende grendeltyd en moeite gedoen om gereeld werk te stuur. Sy het ons elkeen ook persoonlik gemotiveer om hard te werk,” sê een van die leerders.

Smith was verbaas oor die toekenning, maar sê dit kon nie op ʼn beter tyd kom nie. Dit gee haar weer moed dat sy, te midde van talle uitdagings, weet sy maak ʼn verskil vir haar leerders.

Koos Boshoff, hoof van Hoërskool Stoffberg, sê hy is trots dat die eerste Onnieveerder van die Jaar deel is van sy personeelkorps. Hy meen dit is ʼn sprekende voorbeeld is van die mooi tradisies wat dié skool nastreef.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.