Eerste ronde van eerste FAK Geskiedenisolimpiade beïndruk

bril-boek-handboek-geskiedenis

(Foto: DariuszSankowski/Pixabay)

Honderde leerders van oor die land het Dinsdag aanlyn aan die FAK se eerste Nasionale Afrikaanse Geskiedenisolimpiade deelgeneem.

“Die FAK se Geskiedenisolimpiade wil aan elke leerder wat geskiedenis as vak op skool het of net lief is vir geskiedenis, die geleentheid bied om sy of haar kennis te toets. Vanjaar, die eerste keer dat die aanlyn vraestel voltooi is, het leerders van gr. 8 tot gr. 12 landwyd deelgeneem. Dit sê vir my dat kinders van ons land se harte nog warm klop vir geskiedenis,” sê Chrisna Nel, projekkoördineerder van dié geskiedenisolimpiade.

Die klem val op Suid-Afrikaanse geskiedenis met drie hoofafdelings, naamlik Afrikaanse taalgeskiedenis, Afrikanergeskiedenis en Westerse geskiedenis.

Wian van Rooyen, ’n gr. 9-leerder aan die Afrikaanse Hoër Seunskool in Pretoria, sê hy hou juis van Afrikaanse geskiedenis en het daarom vanjaar deelgeneem.

“Die vrae was moeiliker gewees as wat ek gedink het dit sal wees, maar dit was steeds ’n lekker vraestel gewees.”

Van Rooyen sê jy moes beslis van die aanbevole bronne gebruik gemaak het om die vrae, veral dié oor die Afrikaanse taalgeskiedenis, te kon beantwoord.

Die Geskiedenisolimpiade bestaan uit twee rondes. Die eerste ronde behels ’n aanlyn vraestel wat bestaan uit 150 punte met 150 multikeusevrae – 50 punte vir elke afdeling.

Afdeling 1, Afrikaanse taalgeskiedenis, het vrae gehad oor digters (byvoorbeeld: Wie het “Winternag” geskryf? Wie is die digter wat in die see geloop het?), die oorsprong van Afrikaans, die prestasies van Afrikaans (byvoorbeeld eerste gedig, eerste gedrukte boek, eerste Afrikaanse Bybelvertaling), Afrikaanse liedjies en Afrikaanse boeke.

Afdeling 2, Afrikanergeskiedenis, het vrae ingesluit oor die VOC-tydperk, die Groot Trek, die Anglo-Boereoorlog, Republiekwording, asook 1994 en daarna.

Afdeling 3, Westerse geskiedenis, het die kennis getoets oor ontdekkingsreisigers, ontdekkers, die Reformasie, oorloë en rewolusies, asook leiers.

Anais Herman, ’n gr. 11-leerder aan die Hoër Meisieskool Bloemhof in Stellenbosch, sê sy het veral gehou van Afdeling C, wat oor die Westerse geskiedenis gehandel het. “Dit was baie lekker gewees. Ek het baie oor die Afrikaanse geskiedenis geleer.”

Diegene wat deurdring na ronde twee skryf ’n aanlyn vraestel waar standpuntstelling, beredenering en algemene kennis getoets word. Om deur te dring na ronde twee moet ’n kandidaat minstens 70% in ronde een behaal het.

Van Rooyen en Herman is albei deur na die tweede ronde.

Mariaan van Niekerk, ma van Reinhard, ’n Hoërskool Warmbad-leerder wat ook reeds deur is na die tweede ronde, sê: “Baie dankie vir die puik olimpiade. ’n Mens besef nie hoe die kinders op skool beperk word met geskiedenis tot jy hieraan deelneem nie. Hulle leer nie eens ’n kwart hiervan op skool nie. Sy pa en hy deel die liefde vir geskiedenis.”

Leerders van onder meer Hoërskool Fichardtpark, Hoërskool Kempton Park, Hoërskool Diamantveld, Afrikaanse Hoër Meisieskool Pretoria, Afrikaanse Hoër Seunskool, Hoërskool Waterkloof, Hoërskool Belville, Hoër Meisieskool Bloemhof, Hoërskool Zwartkop, Hoërskool Menlopark, Potch Girls High, Hoërskool Warmbad en tuisskoolleerders gaan op 29 September deelneem aan die tweede ronde.

Alle deelnemers ontvang ’n deelnemersertifikaat. Almal wat deurdring na die tweede ronde ontvang ’n medalje asook ’n erkenningsertifikaat.

Pryse sal soos volg wees: Die algehele wenner ontvang R10 000; tweede prys R5 000 en derde prys R2 500. Die wenskool ontvang R10 000 en ’n FAK-wisseltrofee vir geskiedenis.

Die wenskool sal bepaal word na aanleiding van die aantal leerders per skool wat deelneem en ’n sekere persentasie behaal.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Jaco

Waar leer die kinders nog dié goed? Sekerlik nie in staatskole nie. Al daardie onderwerpe lyk vir my heeltemal te “kolonialisties en rassisties” vir ons huidige anti-wit skoolstelsel